Foto’s Francois Oberholster  Stilering Marian van Wyk 

’n Ander deuntjie

Stefan Blom en Albie du Toit van Groenpunt in Kaapstad het die kleur pienk gebruik om vloei en sprankel in ’n andersins vervelige gang te skep. Dié ruimte is ook die “musiekkamer” met Stefan se klavier uit sy kinderdae.

Pleks van net ’n pienk fokusmuur verf, het hulle die kleur teen die plafon gebruik en herhaal op die klavierbankie se kussing. ’n Groot foto deur Gary van Wyk skep ’n treffende fokuspunt bo die klavier, terwyl meer van sy foto’s, asook ander deur Antonia Steyn (en Stefan en Albie se eie), op die muur regs pryk. ’n Gesin keramiek-hasies op die klavier gee ’n speelse gevoel aan die ruimte.

Mila-plantpot en mat van MRP Home

Ons is dol hieroor! Noudat die gaatjiebord ’n werkvlak bygekry het, is die eenheid ook ’n lessenaar!

’n Gaatjie vir als

Chanelle Steenekamp het die gebruik van gaatjieborde in dekor op Pinterest en later ook op Tuis se Facebook-blad gesien. Sy het besluit om self so iets in haar klein tuisstudeerkamer te probeer: Chanelle en haar man, Johan, het drie rou dennehoutplanke en ’n paar tappenne by Builders gekoop, waarna Johan versigtig gate in die planke geboor het vir ’n gaatjiebord-effek. Klein rakke van wisselende lengtes bied uitstalplek en kan rondgeskuif word vir ’n vars voorkoms. Later het ’n wit melamienblad en twee stutte bygekom wat nou as klein lessenaar dien, perfek vir ’n skootrekenaar.

Bo tot onder

Om te keer dat hul galerymuur te besig of onsamehangend lyk het Stefan Blom en Albie du Toit dit beperk tot ’n swart-en-wit palet met titsels rooi en geel. Kunswerke en foto’s hang van die vloer tot gelyk met die deur om ’n gevoel van hoogte te skep. Party rame staan op foto-rakke, en ander hang teen die muur. Boodskappe soos “You are here” moedig gaste aan “om in die oomblik te leef”, sê Stefan.

Elkeen op sy plek

Al deel Rachel (9) en Benjamin (6) Mountain ’n slaapkamer, het elkeen ’n eie “studeerruimte”. Ma Belinda het by Cathrin Bolt van Nowadays Interiors om raad gaan aanklop en belê in twee aparte lessenaars – ’n praktiese manier om onmin tussen die twee te verhoed! Grys, rooi en blou is ’n geskikte kleurskema vir seuns én meisies, terwyl die plakpapier (Pajaro van die Britse handelsmerk Scion) ewe goed sal werk in ’n kind, tiener én volwassene se kamer. Verskeie kunswerke skep ’n interessante fokuspunt bo die lessenaars. “Ek wou die kinders die vryheid gee om hulself uit te druk, sonder om elegansie in te boet met botsende style en kleure,” sê Belinda.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

@home 0860 834 834

Builders 0860 284 533

MRP Home 0800 212 535

Nowadays Interiors 011 794 3093

Sootcookie Ceramics 082 087 8110