Dié dakspasie was voorheen onbenut, nou is dit ’n slaapkamer! 

Dis moeilik om te glo dié ligte, oopplanwoonstel was eens twee donker vertrekke. Die Labuschagnes het, soos met hul huis in 2014, letterlik die beste gemaak van bittermin – en nou verdien hulle ’n ekstra inkomste uit dié woonstel. 

Christiaan het die trappe gebou van herwinde staal, ou paletplanke en boeke wat dit versterk. 

Danksy Christiaan en Marinda se prysgeld van R25000 van Pennypinchers Timbercity toe hulle in 2014 as algehele wenners van ons Regruk met Flair-kompetisie aangewys is, kon hulle hul volgende groot projek aanpak: Om ’n beknopte woonstel aan hul huis te vergroot met ’n soldervertrek – en sodoende ’n ekstra inkomste te genereer met die verhuring daarvan.

Planmakers, dié twee – dit weet ons mos nou al.

“Ons het destyds sommer in die week ná die kompetisie al weggespring deur na die naaste BUCO (voorheen Pennypinchers) te ry en een hele bakkievrag se geld op een dag te spandeer!” vertel Christiaan laggend.

Die woonstel op die een ent van hul huis se gang het bestaan uit twee vertrekke wat met ’n droëmuur van spaanderbord geskei is. Hulle het besluit om die hele ruimte as ’n leefvertrek in te rig met ’n oopplankombuisie en ’n klein badkamer onder, en dan ’n nuwe slaapkamer in die solderruimte te skep.

“Ons het die woonstel net voor die Aardklop-kunstefees in 2015 gereed gehad en besluit om dit vir ’n week te verhuur,” vertel Christiaan.

“Hierna het ons besef die slaapkamer bo is te beknop en die dak te laag. Einde 2015 het ons toe die dak gedeeltelik gelig en nog vensters ingebou – dit het die probleem onmiddellik opgelos.” 

Die kombuis is geheel en al uit herwinde materiaal gebou – palethout, ’n stuk marmer wat iemand weggegooi het, asook staal wat op die erf rondgelê het vir die kasrame. Die eiland se blad was ’n ou groen skryfbord wat die skool waar Christiaan ’n onderwyser is, nie meer kon gebruik nie. Hy het dit netjies met ’n houtrand afgewerk. 

Die enigste nuwe aankope vir die kombuis was die muurteëls, opwasbak, stoof, ligte en die Coke-laaie. Die sementvloer is met Prominent Paints- stoepverf afgerond in die kleur Nugget. 

V&A met Christiaan 

Wat is jul beste geldspaarwenke? Herwinde materiaal het ons telkemale verras. Dit is goedkoop en as dit eers skoongemaak en afgeskuur is, het dit ongelooflike karakter. Met palethout moet jy wel bietjie meer kreatief wees; en dis moeite om eers al die planke los te maak.

Wat sal jy volgende keer anders doen? Ek sal seker maak dat die dak van die begin af hoog genoeg is sodat ek dit nie weer agterna hoef te lig nie! Ek sal ook meer geld en tyd spandeer aan beter isolasie, want dit raak baie warm in die somer.

Waar het jy jou idees gekry? Ek kyk sommer rondom my wat ek kan gebruik – soos die skryfbord vir die werkvlakke in die kombuis.

Wat geniet jy die meeste van die voltooide projek? Om die reaksie te sien van almal wat na die woonstel kom kyk. Mense sê ons is geseënd met kreatiwiteit. Dit spoor ons aan om ’n tuiste te skep wat anders en uniek is.

Wat is volgende? Ek wil ’n ou plaasdam op die erf omskep in nog ’n woonstel. Daarna wil ons ’n ou skeepsvraghouer koop en in studenteverblyf omskep. Ons begin volgende jaar ook met ’n meubelreeks. 

Die bouproses

Die muur tussen die twee vertrekke onder is uitgehaal om ’n oopplanleefruimte te skep. 

Die afwerking

Boumateriaal BUCO (voorheen Pennypinchers (010 045 0399, budo.co.za)

Coke-kratte Habitat (018 294 5008)

Bykomstighede MRP Home (0800 212 535, mrphome.com); Habby & Lace (016 422 5400, habbyandlace. co.za); Woolworths(0860 022 002, woolworths.co.za) 

Ou koffers is slim gebruik as bedkassie in die slaapkamer. 

Christiaan het die bed van ou palette gemaak, met boeke pleks van pote om dit te stut. Die duvetsloop is Marinda se handewerk – sy het die lap by Habby & Lace in Vereeniging gekoop. 

’n Badkamer is op die grondvloer gebou. Ook hier is van die groen skryfbord gebruik – vir die deur! 

Die woonstel het sy eie stoepie met ’n afskorting vir privaatheid.