Hoewel jou huis vir jou iets persoonliks is, moet die ruimte aanpasbaar genoeg wees dat voornemende kopers dit wil hê. Wanneer jy moet besluit of ’n opknapprojek finansieel die moeite werd gaan wees, is dit belangrik om die huidige waarde van jou huis in ag te neem en dan te bepaal of jy by die verkoopslag wins gaan maak op die verbeterings wat jy wil aanbring.

1. Bou ’n braaivertrek

Baie huiseienaars kan nie sonder ’n braaivertrek klaarkom nie – of jy nou daarvan hou of nie. Volgens die argitek Pieter J Mathews van Pretoria het hy nog nooit ’n huis ontwerp sonder ’n stoep van een of ander aard nie, maar dat baie kliënte later hul stoepe met skuif- of stapeldeure en ruite toemaak sodat hulle gedurende die koue wintermaande kan aanhou om “buite” te onthaal.

Bill Rawson van Rawson Properties is van mening dat die aanbou van ’n braaivertrek waarskynlik meer waarde tot jou huis sal toevoeg as ander tradisionele ekstras soos ’n swembad of ’n ekstra motorhuis: “Daar is beslis ’n verhoogde vraag na binnebraaie wat deur nóg ’n braaiarea buite aangevul word.” Dit sluit aan by die groot neiging tans om binne- en buite-ruimtes wat by mekaar aansluit, te skep.

2. Skerp veiligheid op

Die opgradering van jou veiligheidstelsel kan ’n duur storie wees, maar sal beslis die waarde van jou huis verhoog.

Om ’n elektriese heining op jou grensmure aan te bring is ’n goeie opsie wat dikwels goedkoper is as ander veiligheidstelsels; maak seker dat dié heining se alarmstelsel met jou gewapendereaksie-eenheid verbind is.

Alarmstrale in die tuin, wat vensters, skuifdeure en die stoep beskerm, is een van die gewildste veiligheidstelsels omdat die alarm afgaan voordat booswigte toe- gang tot jou huis kan verkry.

Verder is doeltreffende buitebeligting, veral in donker gangetjies, ook van kardinale belang.

Elke venster en buitedeur moet beveilig word, aldus die kenners by Trellidor; hulle beveel diefwering en hekke aan wat in die mure ingebou is en nie bloot aan vensterrame en deurkosyne vasgesit is nie, aangesien dit maklik uitgeskop kan word.

Laat installeer noodknoppies op strategiese plekke en kry afstandbeheer- eenhede wat huismense saam met hulle kan dra.

3. Vensters en deure

Moenie tweer keer dink om ou staalraamvensters met hout of aluminium te vervang nie.

Hout

Baie mense is versigtig vir hout omdat dit tradisioneel baie instandhouding verg, maar volgens die bekende vervaardiger Swartland maak moderne seëlaars ’n reuseverskil en sal dit vir drie tot vyf jaar beskerming bied. Hout word ook as ekovriendelik beskou, mits dit uit volhoubare plantasies kom.

Aluminium

Dit is gewild omdat dit geen instandhouding verg nie. Dis boonop in allerlei kleure te kry, wat dit geskik maak vir verskillende argitektuurstyle. ’n Nadeel van aluminium is dat diefwering wat daarop aangebring word nie so stewig is nie. Sommige argitekte voel ook dit skep ’n steriele voorkoms.

ONTHOU

As dubbelglasvensters te duur is, kies dikker enkelglas wat ook sal help met temperatuurreëling.  Binne- en buitedeure en vloere speel ’n groot rol in die voorkoms en gevoel van ’n huis. Maak seker dat die veranderings wat jy aan- bring by die styl van jou huis pas.

4. Motorhuis: bou aan of omskep?

’n Motorhuis is ’n wonderlike bate – dit bied nie net staanplek vir jou motors nie, maar verskaf ook ruimte vir jou werkbank, fietse, ’n kisvrieskas en selfs ’n tuimeldroër as jou kombuis te klein is. Deesdae omskep baie huiseienaars hul motorhuis in ’n gastekamer met ’n en suite-badkamer en klein kombuisie vir kuiermense of huurders om hul inkomste aan te vul. Ander gebruik dit weer as ’n studeer- of werkkamer – soos ons al in ons gewilde Regruk met flair- kompetisie gesien het.

Volgens WesternPro Valuers kan ’n huis met ekstra werkplek van groot waarde wees vir sekere kopers, maar dit kan ook die kopersmark beperk. Aangesien veiligheid vandag ’n prioriteit is, verkies die meeste kopers ’n motorhuis vir hul voertuie. Dit is due debatteerbaar of enige omskepping van jou motorhuis die waarde van jou eiendom sal verhoog.

5. Sit ’n swembad in

Of ’n swembad waarde tot jou eiendom sal toevoeg, is ook debatteerbaar. Herbie de Klerk van Jawitz in Kuilsrivier glo dis wel die geval, aangesien hulle vind dat huise met swembaddens gouer verkoop – maar dit hang van die koper af. “Veral jonger gesinne met laerskoolkinders wil ’n swembad he^, terwyl dit nie so belangrik is vir ouer mense nie.”

Dink mooi oor die grootte en fatsoen van die swembad: Deesdae is swembaddens kleiner, met ’n gemiddelde grootte van sowat 6 x 4 m. Die hoofredes hiervoor is dat erwe kleiner is, en omdat kleiner swembaddens goedkoper en makliker is om in stand te hou. Swembaddens word letterlik teenaan huise gebou en vorm as’t ware deel van die huis. En kies skoon, reguit lyne, eerder as ovaal of ronde fatsoene.