Foto’s Martin Hahn

WIE WOON HIER?

Minky Lidchi

WAAR Fresnaye, Kaapstad

GROOTTE 180 m2

Waar baie argitekte verkies om nuwe geboue te ontwerp, is Minky Lidchi van Johannesburg gaande oor ’n opknap. Selfs as student in haar vierde jaar het sy besluit om ou plaasgeboue op te meet vir haar argitektuur-projek.

Minky het haar huis in Fresnaye, Kaapstad, in 2011 gekoop nadat sy jare lank na ’n beskeie losstaande huis in ’n goeie buurt op soek was. Met al hoe meer klante in Kaapstad, het dit sin gemaak om te belê in ’n tweede eiendom wat sy ook kan verhuur.

Die aanvanklike plan was om ’n tweede vlak by die kompakte huis uit die 1930’s te voeg ten einde die uitsigte te benut, maar praktiese oorwegings het haar gedwing om weer te dink. “Ek het ’n visie van ’n groot huis gehad – toe halveer ek dit,” sê Minky.

Sy het die huis se 180 m²-voetspoor behou en haar eie leuse toegepas: Kry eerstens duidelikheid oor die doel, en kyk dan na die poëtika. Minky het binne ’n oggend ’n eenvoudige plan met die hand opgetrek. Deur die fasade gelyk met die motorhuis uit te bou, het sy van ’n onpraktiese voordeur ontslae geraak en 15 m² spasie gewen. 

Leefarea

’n Ingeboude kaggel is die fokuspunt in dié ruimte. Minky se raad is dat jy die plasing van jou meubels in gedagte moet hou wanneer jy op ’n kaggel se posisie moet besluit – rig dit in as ’n knus bymekaarkomplek. ’n Geverfde baksteenomranding skep eenvormigheid in teksture. Die installering was wel ’n uitdaging, want die ingenieurs moes die vloerplanke uitsaag en die vloer versterk; ’n glasplaat op die vloer beskerm die hout. Links daarvan is ’n TV weggesteek en regs vergroot ’n lang staanspieël die ruimte.

Bouwerk deur Viljoen Project Management; kaggel van J. Macdonald and Sons

Dek

’n Ruim nuwe balau-dek rondom ’n groot boom vergroot die leefareas en bied berg- en see-uitsigte. Aluminiumhortjies reg deur die huis laat lug in én bied privaatheid en veiligheid.

Hortjies van Taylor Blinds

Die huis word so doeltreffend moontlik verkoel en verhit met plafonwaaiers, dubbele isolasie in die dak, en dubbelglasvensters en deure wat regoor mekaar geplaas is vir kruisventilasie. – Minky Lidchi

Planne in aksie

“’n Tuiste moenie ’n vertoonstuk wees nie,” sê Minky. “Ek is altyd bewus van hoe ek in ’n ruimte woon; hoe die gebou in wisselwerking is met die aarde, die lug, die lig. Dis hoekom ek begin deur op papier te teken. Ek vra myself af: Wat het ek regtig nodig?”

Simmetrie, hoogte, volume, uitsig en lig was van die grootste belang en Minky het besluit om haar ruimte in die lengte af in twee verskillende sones te verdeel: een as openbare sone, die ander privaat.

Vir eersgenoemde is verskeie klein vertrekke, waaronder twee slaapkamers, ’n gang, sitkamer en ingangsportaal oopgemaak om ’n naatlose kombuis-eet-sitkamer te skep wat lieflik ineenvloei met die nuwe dek buite.

Sy het ook die dak in die openbare ruimtes ontbloot, wat meer visuele eenvormigheid skep. Daarbenewens is die huis se verhewe syingang, met ’n uitsig op die see, in ere herstel. 

KOMBUIS

Pakplek is belangrik in dié oopplankombuis. Mooigoed word uitgestal, terwyl alledaagse benodigdhede weggepak kan word.

Pasgemaakte kaste deur Christopher Johnson

STUDEERKAMER

Minky se studeerkamer maak oop op ’n helder, smal stoep wat na die dek lei. Die vloere van Oregondennehout in die leefruimte en studeerkamer is gelap en wit geverf vir ’n moderne voorkoms wat terselfdertyd die verskillende houtafwerkings in die oorspronklike vertrekke verbloem.

Ter wille van haar sak en die omgewing het Minky besluit om dié onvolmaakthede te aanvaar pleks van ’n nuwe vloer in te sit. In teenstelling daarmee het sy moderne muurproppe gekies wat aansluitproppe en lelike kabels uitskakel. Waar moontlik is die growwe tekstuur van die baksteenwerk in die huis beklemtoon pleks van dit af te vlak.

Lessenaar en kopsteun van Amatuli

HOOFSLAAPKAMER

Die hoofslaapkamer was oorspronklik ’n beknopte kombuisie met klein vensters wat nie die uitsig benut het nie, en ’n badkamer langsaan. Minky het die twee ruimtes verbind vir ’n en suite met ’n groot venster wat op die systoep uitkyk en ’n aantrekkamer in die donkerder hoek. Vloer-tot-plafon-aluminiumhortjies en glasdeure vou heeltemal weg om die slaapkamer met die dek te verbind. Die bedkassie is ’n rysmandjie wat Minky in die Filippyne gekoop het.

Stoel en bankie van Amatuli; deure en vensters van Ambassador Doors & Windows

Slim toegewings

Minky moes tevrede wees om net “stukkies” berg en see te sien, pleks van die panoramiese 360-grade-uitsig wat sy in gedagte gehad het. “Dis ’n baie knap erf en ek moes die nabyheid en privaatheid van bure oorweeg,” verduidelik sy. “Ek het openings geskep waar die uitsigte op hul beste is en enige probleem-areas toegemaak.”

Ander toegewings moes in die private sone gemaak word. Hier het Minky ’n opwasplek ingeboet ter wille van ’n studeerkamer, en een badkamer prysgegee. Die studeerkamer deel nou via ’n tweede deur ’n badkamer met die gastekamer. “Klein ruimtes moet buigsaam wees,” voeg sy by. “My studeerkamer kan byvoorbeeld ’n slaapkamer word.” Wonder bo wonder het sy plek gemaak vir twee ruim slaapkamers, elk met ’n en suite-badkamer en aantrekkamer.

Deur al die onnodige detail, van vloerlyste tot stortdeure, weg te neem en een duidelike visuele behandeling deur die hele huis toe te pas, het sy ’n uiters aanloklike, vreedsame ruimte geskep.

“Ek is gaande oor die kleiner gebou,” sê sy. “Dit voel groot dog intiem. Ek het ’n beskeie huis geneem en sy potensiaal tot die maksimum ontgin.”

GASTEBADKAMER

Die stort is oop, wat ’n gevoel van ruimte versterk. Gepleisterde, watervaste baksteenwerk (geverf om by die mure te pas) versteek die toilet- en kraanmeganismes en bied ook pakplek. Oppervlakke in die stort is effens skuins sodat water kan afloop.

Pebble-wasbak van Amatuli; Hansgrohe-krane en -toebehore van Classic Trading

Agter ’n groot spieël bo die wasbak is ’n rak van 80 mm diep en ’n kragpunt vir ’n skeermes; ekstra toiletrolle pas in die wasbakkas se laai.

Gastekamer

Die gesoute opknapper Minky Lidchi gee die volgende raad:

Wanneer jou ruimte knap is, word jou prioriteite beproef en moet jy toegewings maak. Maar beperkings lei tot kreatiewe oplossings! Die soms uitdagende proses van ’n opknap kan jou dikwels ’n duideliker visie vir ’n ruimte gee.

Beplan so groot moontlik binne jou beperkings. Dink lank, hoog, breed ... Waar kan ek oopmaak?

Wees prakties Kies materiale wat beter raak hoe ouer dit word. ’n Mens se tyd is net te kosbaar om dit aan onnodige onderhoud te bestee.

Werk slim met geld My klante vra gereeld hoekom die begroting vir vensters en deure so hoog is. Ek sê dan dis omdat die uitsigte en natuurlike lig verniet is.

Beperk materiale Ek probeer alles vereenvoudig. Kies minder soorte afwerkings en maak seker dit sluit naatloos by mekaar aan vir eenvormigheid.

Skep pakplek Al die donker hoekies in dié huis is gebruik vir pakplek. Ek kies sover moontlik oop bêreplek met instap-toegang. Dis ruim en spaar jou die uitgawe van kasdeure.


Wat was die grootste uitdaging?
Die naatlose afvlakvloere in die badkamers moes ’n paar keer oorgedoen word om die regte kleur en tekstuur te verkry, asook om die borrels en krake weg te werk. Minky maan dat dit belangrik is om enige kontrakteur wat vloere afvlak, se verwysings deeglik na te gaan.
VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Amatuli 011 440 5065

Ambassador Doors & Windows 021 931 219

Christopher Johnson 076 655 7833

Classic Trading 011 656 0400 

J. Macdonald and Sons 021 696 7930 

Minky Lidchi

Taylor Blinds 011 793 1743

Viljoen Project Management 071 293 3334