Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Ralph en Patty Hamann met hul seun, Noah (14), en dogter, Sophia (10)

WAAR Constantia, Kaapstad

Grootte [36 m²] 3 x 5 m (houtstruktuur) en 3 x 7 m (baksteenstruktuur)

Vir baie huiseienaars is ’n lendelam tuinskuur net pakplek vir tuingereedskap en blikke oorskietverf.

Nie vir die Hamanns van Constantia nie. Pleks van ’n donker hokkie wat krioel van die goggas is hul skuur van bakstene en hout ’n lieflike woonstel – een waarin die gesin van vier al self gebly het, eintlik veel langer as wat hulle verwag het!

Die Hamanns het in 2014 die hoofhuis op hul eiendom op Airbnb begin verhuur. Eers was dit net vir kort rukkies, en dan het die gesin uit die huis getrek en by Patty se ma gaan bly.

Maar in September 2016 het hulle ’n bespreking van ’n volle twee maande gekry! Die gesin het juis vir ’n oorsese vakansie in 2017 gespaar en die ekstra inkomste was nie te versmaai nie. Toe kom hul seun, Noah, met die slim idee vorendag dat hulle die skuur regruk en daar bly wanneer daar gaste in die huis is. Só kon hulle dan ook by hul geliefde labrador, Lola (7), wees.

Noah se blink idee het wel sy uitdagings gehad. “Die skuur was klein en donker,” sê Patty. “Tog het dit ’n sekere sjarme waar dit in die stippelskadu van twee pragtige kurkbome staan. Ons het gou die potensiaal besef en besluit om Noah se idee ’n werklikheid te maak.”

Die kombuis, eet- en sitgedeelte is een oopplanruimte in die houtdeel van die huis. “Ek is mal oor die suiwerheid en warmte van die Skandinawiese voorkoms. Natuurlike hout teen ’n wit agtergrond is een van my gunsteling-kombinasies,” sê Patty. Ralph het oop rakke tot teen die plafon geïnstalleer.

Simply Home-rakke van yuppiechef.com; koperkrane van Wauhaus; eetkamertafel van superbalist.com; stoele van Basis Furniture; mat van L’Orangerie.

Die selfdoen-kombuiskaste (spaanderbord met viniel-omhulde deure) is van Ucan. Die wasbak is ’n bekostigbare badkamerwasbak.

Die gesin het kampeermeubels gebruik terwyl hulle dié twee enkelbedbasisse van dennehout laat maak het. Met futonmatrasse bo-op en groot kopstukke teen die mure bied dié beddens nou sitplek bedags en slaapplek snags.

Uit met ougoed

Tyd vir die opknap het geknyp: Die Hamanns het net twee weke gehad om hul nuwe blyplek in te rig voor die langtermyngaste sou opdaag.

Die skuurdeel van dennehout is in 2006 by die baksteenkothuis (net ’n slaapkamer en ’n badkamer) aangebou; hulle het dié struktuur agter op die eiendom aan universiteitstudente verhuur.

Die Hamanns het begin opknap deur eers die bestaande kombuis uit te haal. “Vir ’n hele ruk het ons kombuis bestaan uit ’n blikemmer vir ’n wasbak en ’n klein losstaande stofie om op te kook,” onthou Patty. “Daar was nie werkspasie nie; ek moes die strykplank gebruik as werkblad om kos te berei en skoolbroodjies te maak!

Nodeloos om te sê het dit nie lank geduur voor dié reëling sy bekoring verloor het nie...”

Uiteindelik het hulle ’n splinternuwe kombuis geïnstalleer. Die badkamer is ook opgeknap; die ou bad is uitgehaal en vervang met ’n stort, die wasbak en toilet is vervang en die vloerteëls is uitgekap en vervang met ’n afgevlakte vloer.

Vir beter isolasie is Rhinoboard as bekleding aan die binnekant van die skuur gebruik. Toe dit alles klaar was, is die hele binneruimte wit geverf. Op die ou end het die Hamanns so baie van die huisie gehou dat hulle daar aangebly het nadat die Airbnb-gaste weg is – en langtermynhuurders vir die hoofhuis gekry het.

“Dit was nogal vertroostend om in die knus ruimte van die kothuis te wees en ons het baie spesiale, intieme tye hier deurgebring,” sê Patty. “Ons het eekhorings in die bome sien baljaar, die maan deur die venster dopgehou, ons eie speletjies uitgedink, buite geëet, in die warm somermaande lafenis gevind in die koel kothuis, en saam in die groot bed gelê en lees...”

En toe hulle later weer by die hoofhuis intrek, het hulle die pragtige klein ruimte op Airbnb gelys en binne ’n dag hul eerste bespreking gekry!

Patty is ’n entoesiastiese kok en het gesorg dat daar plek vir ’n oond is; potte hang aan hake om plek te bespaar. Die werkblaaie is gemaak van oorskiet-eikehout van ’n lessenaar wat Patty se ma laat maak het.

Strooikussings van Woolworths; matrasse van futondreams.co.za; los oortreksels op rugkussings van Constantia Curtains

Die klein badkamer, met net ’n toilet, wasbak en stort, is wit gehou sodat dit steeds ruim voel.

’n Studeerhoekie is geskep met ’n lessenaar, hanglamp en dennehout-gaatjiebord wat Ralph gemaak het. ’n Ekstra kombuiskassie doen diens as pakplek vir rekenaars en herlaaiers, en steek ook proppe en kabels weg.

Klik hier om te sien hoe jy self so ’n gaatjiebord kan maak.

Bokkietafel van Restorabilia; stoel van Chair Crazy; hanglamp van Eagle Lighting

Hanglampe van superbalist.com; strooikussings van MRP Home; mat van L’Orangerie; deken van H&M Home; hortjies van American Shutters

Ek sou graag nog sulke plekkies wou inrig en saam met ander mense hier woon vir ’n gemeenskapsgevoel. Ons is geneig om in die voorstede so apart van mekaar te lewe. — Patty

Aan die werk ...

So het die houtskuur op die Hamanns se erf eers gelyk.

Die voorkant van die skuur is afgehaal om plek te maak vir skuurstyl-deure.

Die binnekant van die houtdeel is beklee met Rhinoboard vir isolering.

Die kombuis se baksteenmuur word voorberei vir teëlwerk. 

Klammigheid in ’n kas word met Dampseal behandel.

Metroteëls is in die stort in ’n moderne visgraatpatroon gelê.

PATTY SE DEKORWENKE VIR ’N KLEIN RUIMTE

  • Kies veeldoelige meubels, soos rusbanke wat ook slaapplek bied en bêremandjies wat ook kanttafels kan wees.
  • Versteek jou yskas in ’n kas – dit doof die yskas se geraas en laat die ruimte netjieser lyk.
  • Kies ook ’n asblik wat in ’n kas pas.
  • Gebruik die ruimte onder beddens vir pakplek; ek het dennehoutbokse laat maak om klere in te pak.
  • Dis goed om een of twee binnemure te hê; dit skep definisie. As dit nie moontlik is nie, kan boekrakke of kamerverdelers ook werk. Jy kan ook matte gebruik om areas te definieer.
  • Verf die vloer, mure en plafon dieselfde kleur (verkieslik ’n ligte skakering) om die ruimte groter te laat voel.

Koste

Totaal: R67 400

Muurteëls 2 000

Sement vir afvlaklaag 1 400

Verf 2 000

Rhinoboard 2 500

Ligtoebehore 3 000

Kombuiskaste en -rakke 10 000

Sanitêre ware 4 500

Loodgieterswerk 4 000

Elektriese werk 3 000

Deur-installering 4 000

Arbeid 2 000

Hout vir dek 22 000

Hortjies 7 000

Die afwerking

Oorspronklike skuurstuktuur en saag van deure

Timbacore (021 494 5555)

Hortjies

American Shutters (087 238 2123)

Kombuiskaste

Ucan (086 022 2829)

Bykomstighede

Basis Furniture (021 200 0401)

Chair Crazy (021 465 9991)

Constantia Curtains (021 761 9648)

Eagle Lighting (021 424 4071)

H&M Home (086 0690 707)

L’Orangerie (021 761 8355)

MRP Home (0800 212 535)

Restorabilia (021 715 7743)

Wauhaus (021 448 2884)

Woolworths (0860 022 002)

Hulp met interieurontwerp

Lyall Wilcox van Bristle et Hues (021 683 1073)