Foto’s Greg Cox

DIE EIENAARS

Marcus Smit en sy vriende Len en Herman Kruger

WAAR Vosburg in die Noord-Kaapse Karoo

GROOTTE 155 m² (buitevertrekke ingesluit), erf 2 700 m²

Vir Tuis se besoek aan Vosburg gooi Ricks Karoowinkel, dié Karoo-dorpie se enigste restaurant, sy deure wyd oop op ’n koue Dinsdagaand in Julie 2020, spesiaal ’n dag vroeër as die beplande amptelike opening. “Hier was glad nie ’n restaurant nie,” vertel die argitek Marcus Smit, mede-eienaar van die naweekhuisie wat ons kom afneem het. “Ricks sou Woensdag oopmaak, toe sê ek nee, hier kom mense, jy moet Dinsdagaand oopmaak,” lag hy.

En dis hoe dit is op Vosburg. “Die dorpie is ver van die hoofpaaie en kry min besoekers. Gevolglik is dit stil hier en bly die dorp netjies omdat dit die normale toeloop van mense en ontwikkeling vryspring.”

Met sy eerste kuier hier by sy niggie Sandra Lemmer het Marcus, wat op Grabouw woon, sy hart op die dorpie verloor. Teen einde 2017 het ’n erg bouvallige huisie oorkant die NG kerk sy oog gevang en sy argitekvingers behoorlik laat jeuk. Die argitektuur, wat aan die tipiese Karoo-brakdakhuise herinner, was vir Marcus die grootste attraksie.

Maar dit sou ’n omvattende projek verg om dit bloot leefbaar te kry, wat nog te sê herstel tot die sjarmante plek wat dit amper ’n eeu gelede sou gewees het.

Dié skildery van ’n voor-foto van die huis is op versoek deur die Rosendalse kunstenaar Willem Pretorius geskilder en hang deesdae in die eetkamer.

In die winter, wanneer die bloureën sy blare verloor het, sit en bak Marcus en sy vriende soos dassies op dié agterstoep wat heeldag noordeson kry. Die oranje Kartell-stoele was ’n gelukkige tweedehandse vonds.

Die betonblaaie in die kombuis is op die perseel in bekisting gegiet, en die venster bo die stoof is ingebou waar ’n gehawende agterdeur was. “Die ou kombuis het uit een of twee vrot kassies bestaan,” vertel Marcus. “Die nuwe kombuis is heerlik prakties met die stoof in die middel tussen twee eenvoudige toonbanke links en regs.” Links van die venster hang ’n afdruk van ’n Tinus de Jongh-skildery. Flamink-lap van Fabric City

Herwonne skoonheid

“Die huis het jare lank leeggestaan, sonder instandhouding,” vertel Marcus. “Die vensters en deure was uitgebreek, die dak het so erg gelek dat die rou moddersteenmure plek-plek op die punt van inmekaarsak was. Daar was ook geen krag-, water- of rioolwerk nie.” Hy en twee vriende, die broers Len en Herman Kruger, het die huis vroeg in 2018 saam gekoop en dit in Mei dieselfde jaar begin opknap. “Ons wou net so gou moontlik red wat ons kon,” sê hy oor die gruwelike verval wat die plek onleefbaar gemaak het.

Hulle kon geen rekord kry van hoe oud die huis is nie. Op grond van die ligging oorkant die kerk skat Marcus dis laat in die 1800’s of vroeg in die 1900’s gebou. “Dit moet een van Vosburg se eerste nagmaalhuise wees, want die eeufees was in 1995. ’n Mens kan aan die boumetode, fondament en borsweringmuur (die lae muur voor die dak aan die straatkant) sien die huis is in drie stadiums gebou.”

Vandag, drie jaar nadat die huis as’t ware weer die dorp in die oë kan kyk, kuier Marcus, Len en Herman gereeld om die beurt hier. Marcus verwonder hom nog elke keer aan die ongelooflike spel van lig en skadu aan die noordekant, waar die kombuis en eetkamer sy gunsteling-vertrekke is. “Die lig in die huis is iets uitsonderliks; dalk tipies van die helder Karoo-lig. Vir my was dit ’n groot verrassing hoe dit van vroegoggend tot sononder deur die kombuis en eetkamer beweeg. Ek dink die blou kleur van dié vertrek komplementeer die warm sonlig vroegoggend en laatmiddag baie mooi.”

Deesdae is hier net een probleem: “As ek huis toe gaan op Grabouw, wil ek onmiddellik terugkom!” sê Marcus noudat die huisie weer statig in sy stil stofstraat sit. Die ene rustigheid soos min of meer ’n eeu gelede, toe ’n Karoo-boer ’n nagmaalhuisie gebou het wat geen spreekwoordelike lawaai maak vir aandag nie.

Die groot geraamde foto met die titel “Huis langs N1, Leeu-Gamka” is geneem deur ’n vriend, Francois Swanepoel. Mat van Sofacompany; kussings van Skinny laMinx

Die eetkamer se eklektiese styl is meestal Len se bydrae. Sy moderne chroom-en-leerstoele skep ’n treffende kontras met die tradisionele houttafel en staalhanglampe. Die sementvloer, wat reeds hier was, is met dieselfde verf as die mure afgerond.

Kussing van Skinny laMinx; mandjie van Sofacompany; Man Cloth van Mungo Design

Projek gelei deur die geskiedenis

Om dié nagmaalhuisie te red voor hy finaal sou ineenstort, is iets waaroor al drie eienaars sterk gevoel het. As argitek het Marcus al ’n magdom modernistiese huise en bekroonde lodges ontwerp, maar hier het hy hom laat lei deur wat elemente soos die fondamente oor die huis se geskiedenis verklap.

Hy het met groot omsigtigheid en respek te werk gegaan, soos dit hoort by ’n eeu oue gebou (sien “Respek vir die Karoo-erfenis”, bl. 86). Hier is geen vertrekke omgeruil nie en weinig mure uitgebreek – net tussen die buitebadkamer en die eetkamer, en ’n kort muurtjie tussen die kombuis en eetkamer. Dié verandering – en die nuwe glasdeure na die agterstoep – maak die grootste verskil.

“Dit is die sonnige noordekant en die leefkern, privaat en weg van die straat,” vertel Marcus. “Die nuwe deure verbind die huis met die agterplaas, waar ’n mens braai, sterre kyk, die maan sien opkom en uitkyk na die pragtige kerk. Die groot staaldeure sorg vir heerlike winterson. Ons het ’n prieel bygevoeg vir koelte in die somer en ’n bloureën geplant wat sy blare verloor om die winterson in te laat.”

Die straataansig met die sjarmante stoep wat reguit na die ou kerk met sy Gotiese detail kyk, was verrassend genoeg relatief ongeskonde. “Die oorspronklike houtraamvensters en houthortjies was nog hier,” vertel Marcus. “Die res van die huis het reeds ’n kombinasie van nuwer hout- en staalraamvensters gehad, daarom het ons staalrame gebruik waar ons vensters moes vervang. Dis ekonomies en verg min onderhoud; dit roes nie hier in die Karoo nie en pas by van die vorige aanbouings.”

Die pragtige ou houtvloere het Marcus en sy vriende herstel deur staalplate aan te bring oor plekke wat baie verkeer dra. “Die dor hout breek te maklik by die tong en groef as mens dit probeer uithaal om die dra-balke daaronder te herstel,” vertel Marcus. “Die benadering was ‘boer maak ’n plan’, maar dit werk goed. Ons wou die witgewaste effek behou en het nie die vloere verseël nie; dis net afgeskrop met seep en water,” sê Marcus. Die lap op die bed is Bukhara in die kleur Ochre van Lula Fabrics; kussings van Mr Price Home

Terwyl die huis jare lank leeg gestaan het, het die bure die werf netjies gehou. Al die bestaande plante, soos die soutbos en die turksvylaning, is behou.

Vir Marcus en sy vriende is dit ’n groot plesier om laatmiddag se skemerkelkies af te sluit met Karoo-tjoppies op die kole. “Vosburg is ’n plek waar jy teen ’n heel ander tempo kuier,” sê Marcus. Die twee kussings in herfskleure is tweedehandse kopies; die res is van Skinny laMinx

Die Karoo is ’n eenvoudige landskap en ’n plek van min dinge… ’n mens het nie baie hier nodig nie. – Marcus

[RESPEK VIR DIE KAROO-ERFENIS]

Die nagmaalhuisie se argitektuur is eie aan die laat 19de en vroeë 20ste eeu, toe boere van die omgewing hierdie huisies laat bou het sodat hulle oor nagmaal-naweke naby die kerk kon bly. “Die plat dak is tipies van Suid-Afrika se droë plattelandse argitektuur rondom 1900,” verduidelik Marcus. “Ander herkenbare argitektoniese elemente uit dié era is die eenvoudige Georgiaanse proporsies en simmetriese uitleg en voorkoms.”

Oorspronklik sou die huisie slegs twee voorkamers en die ingangsportaal gehad het. Die volgende twee vertrekke (sitkamer en sonnige slaapkamer op ons foto’s) is later bygevoeg, en nog later die heel agterste vertrekke, waarvan een die kookkombuis was, wat nou een lang oopplan-vertrek is met ’n kombuis en eetkamer. Die badkamer was tipies buite die huis.

“Ons het regtig so min as moontlik aan die mure verbreek en het die bestaande vertrekke min of meer behou soos dit tradisioneel gebruik sou word. Ons het wel van die eetkamer af deurgebreek en die oorspronklike badkamer, wat buite was, met die interieur verbind vir praktiese redes; die winter is darem net te koud vir buite badkamer toe gaan!” ’n Tweede badkamer en pakkamer is buite aangebou.

“Die simmetriese eenvoud van hierdie Karoo-huise is iets wat bewaar moet word,” sê Marcus. Ongelukkig is die verval van sulke historiese huise ’n algemene gesig. “Dink net watse ekonomiese inspuiting dit vir die platteland sou wees as mense dié huisies sou koop, sensitief herstel en gereeld besoek. Só kan iets van ons erfenis gered word.”

Die huis het vandag twee badkamers. Dié een is steeds buite, ’n oop pienk badkamer met ’n eenvoudige stort. Mat van Mr Price Home; handdoek van Mungo Design

Só is dit opgeknap...

2017

[KLIMAATSFAKTORE]

Ondanks die bibberkoue dae is Marcus se gunsteling-seisoen die winter, wanneer die kwik maklik rondom 1 °C kuier. “Die Karoo-lug is so vars en die lig is so helder, en hierdie huis leef besonder lekker omdat die leefvertrekke vensters aan die noorde-, ooste- en westekant het. Die voorstoep kyk suid, en is altyd koel in die somer,” vertel hy.

“Die huis is dus uitstekend geplaas vir sy klimaat en leef ewe lekker op snikhete somersdae en yskoue winternagte. Ons het Isotherm-isolering in die nuwe plafonne laat installeer en die lae deel van die dak met Ceratech- isolerende dakverf geverf.

“ ’n Kaggel is ’n absoluute móét vir ’n Karoohuis om die snerpende koue saans te breek. Herman het aangedring dat ons ’n klein smeulstofie in die sitkamer installeer. Dit verrig wondere omdat die kamers kompak is, maklik afgesluit kan word en die plafonne betreklik laag is.”

Kennersraad

Hoe gemaak as jy ’n erg vervalle huis met so ’n erfenis koop? Werk met wat jy het en behou die eenvoud, is Marcus se raad.

Vandag tik ’n eeu oue huis kwalik al die boksies vir gesellige samesyn wat spontaan van oopplan-ruimtes oorspoel na ’n stoep. Marcus is juis ’n gesellige, gasvrye man en boonop lief vir modernistiese argitektuur. Op Vosburg het hy hom egter laat lei deur sy liefde vir die Karoo-landskap, respek vir die huis se geskiedenis, en wat die interieur se oorspronklike uitleg rondom 1900 sou wees.

“Dit was maklik om met dié erfenis te werk omdat die huisplan en elke vertrek se funksie eenvoudig en direk is. Die bestaande plan het my gelei om funksies soos kook en slaap weer te benader soos dit in die ou dae beplan was.”

Soos van ouds is hier steeds geen en suitebadkamers nie. “Die pakkamer en bad-enwaskamer wat ons buite aangebou het, voorsien in funksionele behoeftes vir fietse, ’n wasmasjien, tuingereedskap en so meer, en vloei natuurlik uit die bestaande struktuur.”

Boaan Marcus se lys van moets en moenies is om absoluut te werk met wat jy saam met die huis kry, en soveel moontlik te behou. Hy gee ’n interessante perspektief op die staalraamvensters, wat beslis nie uit 1900 dateer nie: “Baie mense sou dit wou vervang met hout. In werklikheid is dit deel van die huis se geskiedenis; vorige eienaars kon dit inderwaarheid al dekades gelede geïnstalleer het.”

Al die binnemure, buiten die kombuis en eetkamer, is geverf met wat Marcus “gewone kontrakteurswit” noem. “Dié eenvoud is tipies van die Karoo se afgekalkte geboue en neutrale ruimtes. Ek dink dis belangrik dat ’n mens nie stilisties oorrestoureer nie. Behou wat daar is om die gebou se geskiedenis te vertel. Kry die insette van ’n argitek en doen self navorsing oor wat histories en stilisties van toepassing is.

“Behou die eenvoud van die argitektuur. En dis maklik: Moet net niks bysit wat onnodig is nie.”

KONTAK 021 853 1362, marcussmit.co.za

VERSKAFFERS

Ceratech  

Fabric City  

Isotherm  

Lula Fabrics  

Mr Price Home 0800 212 535

Mungo Design 021 201 2374, 044 533 1395

Willem Pretorius  

Skinny laMinx 021 424 6290

Sofacompany 021 200 5904