Foto’s Francois Oberholster | Stilering Shelly Bergh

Wie woon hier? Zahn en Rachelle Esterhuizen en Emma

WAAR Op ’n plaas in die Kammanassie buite Uniondale

GROOTTE 64 m2

ORIËNTASIE Suid

Toe Zahn vir Rachelle in Januarie 2013 vra om te trou, het hy geweet daar is geen blyplek vir hulle op die familieplaas nie. Maar ’n boer maak ’n plan – en daar en dan het hy besluit om ’n ou, vervalle werkershuisie vir hulle op te knap.

Van vorige bouervaring was daar nie sprake nie, maar hy was vasbeslote om die plek leefbaar te maak en te red wat te redde was. Hy het leer stene lê, sement aanmaak en pleister. En selfs toe ’n ruit eendag op hom val en sy linkerpols byna-byna afsny, het hy (ná heelwat steke) deurgedruk. Vandag het hy dalk steeds nie gevoel in drie van sy vingers nie, maar vir hom en Rachelle sal dié huisie altyd ’n koesterplek wees.

Die kombuiskaste is ’n kombinasie van winskopies uit tweedehandswinkels en geskenke van familie. Zahn se ma, Mindy Ackermann, is ’n handige kunstenaar en het die werkblaaie gemaak van rakplanke en kaplatte.

Moenie bang wees om dinge “anders” te doen nie – dis ons begeerte om by die bure by te hou wat die koste van ’n projek onnodig laat styg. – Rachelle

Hoofveranderinge

1. Die binnemure, wat die huis voorheen in twee verdeel het, is uitgekap. ’n Badkamer is aangebou en nuwe vensters ingesit: twee groot vensters in die slaapkamer, en een groot en twee klein vensters in die badkamer.

2. Die huise se waterpype en elektriese bedrading is oorgedoen. ’n Gasgeiser is geïnstalleer wat saam met die bestaande songeiser oorgenoeg warm water voorsien.

3. In die kombuis is ’n opwasarea ingerig en werkblaaie en rakke ingesit. ’n Nuwe plafon het gevolg en die huis is binne en buite oorgeverf. Die opening waar die kaggel voorheen was, is omskep in ekstra pakplek vir die kombuis, terwyl ’n nuwe losstaande kaggel ingesit is.

4. Die vloere is geplak met bruinpapier en met seiljagvernis geseël – ’n goedkoop oplossing vir ’n lelike sementvloer. ’n Stoep is aangebou – maar dié projek is nog in wording.

Rachelle is dol oor die nuwe badkamer met sy groot venster – sy sê dit voel amper of jy buite lê en bad.

V&A met Rachelle

Enige geldspaarwenke?

Soek by verskaffers vir ou boumateriaal wat hulle gaan afskryf, soos hout of teëls, en onderhandel ’n bekostigbare prys.

Enige ander wenke?

Breek jou projek op in klein stukkies en stel realistiese doelwitte – dit vat altyd langer as wat jy dink!

Waar kry jy jou idees?

Zahn het maar die meeste van die beplanning bespreek met sy pa, my pa (’n bourekenaar), asook ’n oom wat ’n projekbestuurder is.

Wat sou jy anders doen?

Ons sou dalk iemand gekry het om ons te help met van die harde werk soos sement meng, stene lê en pleister.

Waarvan hou jy die meeste?

Ek is mal oor die groot vensters in ons slaapkamer wat uitkyk op die Kammanassie-bergreeks. Ek dink die beste deel is wel om te weet ons het alles sélf gedoen!

Wat is volgende?

Ons wil baie graag aan die westekant van die huis ’n kamer aanbou vir ons dogtertjie (langs ons kamer), asook ’n ekstra badkamer vir gaste.

As dit nie vir ons familie se hulp was nie, sou ons nooit die paal gehaal het nie. – Rachelle

1. Rachelle het die dennehoutkrat en -kabinet met ’n verftegniek versier. Die bruinpapier op die vloer was Zahn se ma, Mindy, se idee. 2. Die ou tafeltjie is by ’n tweedehandswinkel in Stellenbosch gekoop. Rachelle het dit afgeskuur en vernis. 3. Vir Zahn en Rachelle se troue het Rachelle se ma, Ria Ebersöhn, bottels versamel en versier met kant, lint en krale; nou stal sy dit uit as ’n herinnering aan daardie dag.

Die afwerking

Verf

  • Buitemure: Plascon Micatex Premium Plus in Lion’s Den BBO 321
  • Binnemure: Fired Earth Ultimate in Infinite, Fired Earth Suedette in Red Taffeta

Vloere se vernis Warrior Paints Yacht Varnish (0861 927 7467, warriorpaints.co.za)

Krane

  • Isca (011 951 5000, isca.co.za)
  • Plumblink (0860 758 625, plumblink.co.za)

Bad Bathroom Bizarre (0861 555 000, bathroom.co.za)

Wasbak en toilet CTM (0861 433 337, ctm.co.za)

Boumateriaal

  • Pennypinchers (nou BUCO, buco.co.za)
  • Builders (0860 284 533, builders.co.za)
  • Mustbuild (044 875 8878, mustbuild.co.za)

Glas PG Glass (0860 030 303, pgglass.co.za)