????????????????????????????????????

Toe André en Ronél van Nieuwenhuizen van Pretoria besluit om hul ruim gesinshuis vir ’n kleiner plekkie te verruil, het ’n verwaarloosde siersteenhuis in Waterkloof hul oog gevang. Hulle was entoesiasties – die familie (en selfs die huisagent!) nie. Maar die paartjie het die potensiaal van die ou huis raakgesien. “Ons wou ’n kleiner plek hê, maar iets wat presies vir ons sou werk. Die huis was reg daarvoor,” vertel André, ’n stads-en-streekbeplanner.

Veral die siersteenmure was vir Ronél ’n seeroog en sy het dit so vinnig moontlik toegepleister. “My skoonpa het ook ingespring, hoewel hy heeltyd gespot het dat ons liewer ’n nuwe huis moes laat bou,” sê sy.

Kuier heeljaar

Die binnehof en stoep is die plek waar almal altyd saamkom. “Ons benut die ruimte heeljaar met groot genot,” vertel Ronél oor hul kuierstoep wat binne ’n maand ’n gedaantewisseling ondergaan het. Dié leef-, speel- en kuierplek is in die middel van die U-vormige huis, met skuifdeure na die sitkamer en kombuis.

Die stoep kry baie son, en is daarom heerlik warm in die winter. Maar in die somer het hulle gesweet; daarom het hulle ná ’n jaar ’n paar veranderings gemaak. Aanvanklik het hulle deurskynende poliuretaan-dakplate oor die houtbalke aangebring. “Die stoep was soos ’n sauna,” onthou André. “Ons het begin rondkyk vir seilafdakke wat met afstandbeheer werk, maar die pryse was buitensporig – dit sou boonop die stoep en die aangrensende vertrekke donkerder maak.”

Uiteindelik was hul oplossing 80%-skadunet wat oor kabels bo-oor die dakplate gedrapeer en teen die aangrensende mure gemonteer is. Dit, tesame met ’n aantreklike ligtehout-waaier van Sky Fans, het die hitteprobleem vinnig opgelos.

Fokusmuur

Die binnehof spog met ’n stukkie tuin wat nie onder dak is nie en ’n pragtige fontein teen die muur as fokuspunt het. Dis Ronél se handewerk. Sy het self gemeet en gehelp bou en is trots op die netjiese afwerking – veral as sy dink dat ’n landskapargitek se kwotasie vir die binnehoftuin en dammetjie R24 000 was! Uiteindelik het dit hulle net R1 000 uit die sak gejaag.

“Dit was winter en bitter koud, en ek het met ’n kampstoel hier gesit en gekyk dat alles reg gedoen word.” Sy’t met ’n potlood gemerk waar die kruipvy (Ficus pumila) rondom die fontein met sy leeukop moes groei; dié lyn help haar steeds om die plant in toom te hou.

Daar groei ook Buxus, Westringia, Abelia, nooienshaarvaring, woestynrose, impatiëns, gesiggies, heuningblommetjies, Erigeron karvinskianus en seisoenale kleurplante in dié stukkie tuin.

“Blomme is simbolies van ’n feesviering,” verklaar Ronél. “Daarom hou ek altyd van blomme en kleur op my stoep.”

Die projek

• Die siersteenmure is afgepleister en geverf.

• Aan die noordekant van die stoep, waar die bank nou staan, is ’n skuifdeur uitgebreek en toegebou.

• Die muur agter die dammetjie grens aan ’n dienspad en is verhoog; hier is ’n elektriese heining aangebring vir veiligheid.

• Houtbalke is oor die lengte van die stoep geïnstalleer; 80%-skadunet bo-oor hou die binnehof koel.

• Die vloer is afgewerk met groot vierkantige keramiekteëls in dieselfde kleur as die huis se vloere, maar in ’n ander tekstuur.

André en Ronél se wenke vir ’n gesellige kuierstoep

• Doen jou huiswerk en bepaal wat jou behoeftes is voordat jy leefareas herontwerp. Aangesien ons nou op ’n ouderdom is waar ons ons leefstyl ken en weet hoe ons familie- en vriendekring funksioneer, het ons ’n duidelike prentjie van ons doelwit gehad.

• Moenie jouself blindstaar teen uitdagings of negatiewe kommentaar van mense nie. As jy die potensiaal raaksien, pak dit aan.

• Kies jou afwerking so dat binne- en buiteruimtes aaneenvloei.

• Maak seker jy’t ’n plan B en C ook.

Ads, Nuwe huis, Oubaai, Tiger wheel 024

????????????????????????????????????