Die transformasie

Tweedehandse gelamineerde kombuiskaste is op ’n aanlyn-snuffelgids aangeskaf; die deure is eers met ’n onderlaag behandel en toe in ’n sagte Franse grys geverf. Die kaste is sorgvuldig teen die mure gerangskik sodat daar genoeg plek in een hoek was vir ’n resepteboekrak.

Bekostigbare, maar duursame werkblaaie wat hittte-, skok- en skraapbestand is, is opgesit. Die kasdeure en laaie het ook nuwe handvatsels gekry.

’n Ou kombuiskas (’n erfstuk) is vernuwe met ’n omgekeerde stensiltegniek op die onderste deure, en delikate porseleinhandvatsels van Poetry. Mooi papier teen die rugkant skep ’n pragtige agtergrond vir uitstalgoed agter die glasdeurtjies. Saam met die kombuistafel (nog ’n erfstuk) dra dit nou alles by tot ’n rustieke plaaskombuis-voorkoms.

Die spat-area agter die stoof was ’n eenvoudige selfdoenprojek: Goedkoop wit teëls is op spaanderbord aangebring, met onderlaag behandel en daarna in ’n diep blou gestempel. Nog ’n spatpaneel in ’n soortgelyke styl agter die spoelbak bring alles netjies bymekaar.

WENK Wanneer jy tweedehandse kombuiskaste koop moet jy seker maak die karkasse is in ’n goeie toestand. Kyk ook uit vir ’n deurontwerp waarvan jy hou, maar moet jou nie te veel oor die afwerking bekommer nie – jy kan dit altyd met verf omtower.