Wanneer jou ruimte min is, is ’n geil vertikal tuin teen ’n muur ’n slim oplossing.

Toe Petro en Fanie Kruger by hul skakelhuis in Observatory, Kaapstad, intrek, was daar geen sprake van ’n tuin nie. As deel van die asemrowende opknapprojek het die Krugers ook die aaklige, vaal vibracrete-muur in hul agterplaas in ’n lewende oase omskep.

Kyk net hoe ongelooflik is die transformasie!

Voor en ná: Koebaai, vaal vibracrete-muur!

Die plante

Teen die muur groei ornamentele grasse soos mondogras (Ophiopogon japonicus) en Liriope muscari ‘Silver Ribbon’, asook geraamteplante, boomfilodendrons, agapante en ’n verskeidenheid varings.

“Onderhoud is baie belangrik,” sê Brian Ticker van Vertical Plantscapes. “Dis amper soos ’n haarstyl: wanneer dit eers uitgroei, lyk dit onversorg en afgeskeep.” Jy moet gereeld dooie blomknoppe en blare afknyp, asook dooie of siek plante vervang. “Ons maak gewoonlik voorsiening dat 5–7% van die plante elke maand vervang moet word,” voeg hy by.