Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

Wie woon hier? Sue en Bruce Macdonald, hul kinders, John, Matthew, Skye, Savannah en Troy, asook vyf honde en Tipsy die katWAAR NoordhoekGROOTTE 350 m2

Dit was nog altyd op hul emmerskop-lysie om self ’n huis op ’n groot erf te bou waar hulle een met die natuur kan voel ... Daarom, toe Sue en Bruce Macdonald in 2014 hoor daar is ’n hoewe van 16 hektaar in Noordhoek te koop, het hulle hul huis in Vishoek verkoop, die hoewe gekoop en in ’n piepklein woonstel daar naby ingetrek.

Nou moes hulle net ’n huis daar staanmaak ...

Soos die toeval dit wou hê, het hulle gehoor van ’n huis wat in die omgewing gesloop word. Sue en Bruce is albei ekobewus en werk slim met hul geld, daarom het hulle besluit om die materiaal wat ná die slopery beskikbaar was, te koop en hul huis daarmee te bou. Sue het reeds min of meer geweet hoe die huis moet lyk en het Sue Crowsen van Crowsen Creations gevra om professionele planne op te trek.

In 2015 het die bouery begin; eerste op die lys was ’n steil inrit sodat die boumateriaal afgelewer kon word. Dit het vier dae geneem om al die materiaal – insluitend bloekompale, houtplanke en vensterrame – na die nuwe perseel aan te ry.

“Daar was sulke hoë stapels halfgeverfde planke vol kapmerke!” sê Sue en lag. “Ek onthou hoe ek gewonder het hoe ons ooit ’n huis hiermee gaan bou.” Maar net meer as ses maande later kon die Macdonalds by hul lieflike huis intrek.

Die Macdonalds het bloekompale gebruik van ’n huis wat daar naby gesloop is en groot klippe wat op hul erf gelê het om hul droomhuis op ’n skuinste in Noordhoek te bou.

Die voorstoep vloei naatloos na die eetgedeelte en oopplankombuis.

Groot kas van Holly Wood Kitchens and Furniture; koffietafel van Block & Chisel; kandelabers van Eagle Lighting; die fluweeloorgetrekte stoele en die mat is erfstukke.

"Dis so wonderlik dat ons huis gebou is met materiaal wat eintlik vir die ashoop bestem was." – Sue

Sue het ’n paar jaar gelede breekgoed met ’n kool-ontwerp in die Bordallo Pinheiro-styl by haar skoonma, Jeanne Macdonald, gekry; dit was die begin van haar treffende versameling. Die breekware staan pragtig uit teen die donkergrys aksentmuur in Plascon se Paris Paving.

Kombuis

Sue het grys en pienk, twee van haar gunstelingkleure, gebruik vir kleur in die oorwegend wit kombuis. Die eiland sou ’n marmerblad kry, maar met die indraslag het dit gebreek; dis vervang met dié rustieke houtblad. Ons is dol oor die eenvoudige patroon op die trap; Sue het dit geverf met Plascon se Rhine Castle.

Blindings se lap van Biggie Best; marmerblaaie en vloerteëls van Kales Marble; teëls teen spatpaneel van CTM

GESINSKAMER

Sue se fyn beenporselein staan in tweedehandse en geërfde kaste in die gesinskamer.

Gebreide kombers van Loads of Living; kandelaber van Eagle Lighting; houtbeklede mure geverf met ekovriendelike Midas Envirolite wat naaswit getint is deur Paintsmiths

So mooi moontlik

Met ’n kombinasie van Franse, shabby-sjiek, vintage- en plaasstyl, is daar om elke hoek en draai iets vir die oog. Die klipmure verleen warmte aan die ruimte en die wit elemente word versag met geblomde lap, pastelkleure, kuns en antieke meubels, waarvan die meeste tweedehandse kopies of erfstukke is.

Sue sê daar is twee mense wat ’n groot invloed op haar dekorstyl het: die koningin van shabby-sjiek, ontwerper en huisware-entrepreneur Rachel Ashwell, en haar oorlede ouma Merle Norton.

“Toe ek jonger was, het ek elke jaar twee vakansies by my ouma in Durban deurgebring. Sy is die inspirasie agter my dekorstyl, asook my liefde vir fyn porselein en teepartytjies – sy kon altyd ’n okkasie van enige geleentheid maak!”

Vir Sue het binneversiering ’n passie geword, en vandat sy haar eie huis mooigemaak het, het vriende en familie begin vra dat sy hul ruimtes ook versier.

“Ek glo jou omgewing het ’n groot invloed op jou welstand; dis regtig belangrik om jou huis so mooi moontlik in te rig,” voeg Sue by.

Hoofslaapkamer

Sue en Bruce se slaapkamer is op die eerste vloer. Hulle het besluit om ’n gelamineerde vloer bo-op die herwinde houtvloer te lê vir warmte en ’n moderner voorkoms.

Gelamineerde vloer van Millennium Hardware

Sue se topwenke vir ’n shabby-sjiek voorkoms
  • Kies ou meubels; verweerde verf is baie karaktervol!
  • Hang gordyne met ’n sagte blommotief; ek het ook stukke lap aan die onderkant van my wit moeseliengordyne vasgewerk sodat dit op die grond “sleep” en die romantiese atmosfeer in die vertrek versterk.
  • Bedek rusbanke met los, wit oortreksels en skep kontras met Fransestyl-meubels met hul wulpse kurwes.
  • Gebruik vintage-vase en -beelde, asook kunswerke, kandelabers en baie kerse.
  • Ontbloot soveel natuurlike materiaal moontlik, soos houtdeure en dakbalke. Ek het ook heelparty rofweg geverfde wit losstaande kaste wat ek vir bêreplek gebruik.
  • Wanneer ek onthaal, gebruik ek graag bakke vol rose, ou beenhef-messegoed en vintage-borde saam met tafeldoeke van antieke kant of linne.

1. Sue het besluit op rustige blou vir die badkamer op die grondvloer. Sy het die ou tweedehandse waskom en staander geverf met Annie Sloan-verf in die kleur Antoinette vir ’n romantiese element. Handdoek van Loads of Living; mure geverf met Duram Bathroom & Kitchen-verf in die kleur Gen Teal. 2. Plakpapier van Biggie Best. 3. Savannah se slaapkamer was eers deel van die voorstoep. Ter wille van haar kinders se privaatheid (die hoofrede hoekom sy ’n groot huis wou hê) het Sue ’n deel van die stoep laat toebou vir die ekstra slaapkamer. Gebreide kombers van Loads of Living; vensterraam van Ross Demolition. 4. Troy se kamer op die eerste vloer het ’n uitsig op die berg. Die vertrek het ’n blou-en-rooi tema met bykomstighede in ander helder kleure. Ontblote dakbalke laat dit heerlik ruim voel.

Badkamer

’n Skoon wit palet werk goed in die hoofslaapkamer se en suite-badkamer met sy wit vloer en muur (albei van herwinde hout). Die tweedehandse wasbakkas het ’n luukse oormaak gekry met ’n marmerblad wat die Macdonalds by Ross Demolition raakgeloop het.

"Ons bly so lekker hier. Ons sien hoe die son opkom en sak,ons geniet lang staptogte in die berg en uile en arende kom kuier gereeld – daar was nou die dag selfs ’n wildsbokkie in die inrit." – Sue

Die Macdonalds het besluit op grys vir die buitemure, wat die huis by sy omgewing laat inskakel. Die mure is geverf met ’n grys wat Paintsmiths spesiaal gemeng het, en die buitedeure met ’n ligter grys – Dulux Dusted Moss 3. Die kleur werk goed saam met die ryk bruin-oranje van die bergklippe wat deel van die voorste mure uitmaak en in die tuin te sien is.

DIE PROJEK

1. Voor die materiaal afgelewer is, het bouers die uitleg van die huis afgebaken. Daarna is die fondament gelê en kon hulle die mure van bloekompale begin bou.

2. ’n Meester-klipmesselaar het die trap gebou met klippe wat op die erf opgetel is.

3. Om die mure staan te maak, is gate deur die soliede pale geboor vir staalstawe wat die pale bo-op mekaar hou. Deure en vensters is ingesit sodra die mure hoog genoeg was. Omdat die huis so groot is, is party mure gebou met groot klippe wat op die erf was; enkele binnemure is met sementblokke gebou, gepleister en met halfronde pale beklee.

4. Nadat die bo-verdieping voltooi is, is die pale geverf. Houtplanke van die gesloopte huis is gebruik vir die vloere en baie van die boogvormige skuifraamvensters en deure is vondste van sloopwerwe en webwerwe soos movingon.co.za, wat tweedehandse artikels verkoop.

VERSKAFFERS
  • Annie Sloan 032 947 2093, anniesloansa.co.za
  • Biggie Best 021 674 1590, biggiebestwebshop.co.za
  • Block & Chisel 021 691 0878, blockandchisel.co.za
  • Crowsen Creations crowsencreations.co.za
  • Eagle Lighting 021 511 2640, eaglelighting.co.za
  • Holly Wood Kitchens and Furniture 021 701 7737, hollywoodfurniture.co.za
  • Kales Marble 021 510 2958
  • Loads of Living 0861 565 565, loadsofliving.co.za
  • Millennium Hardware 021 691 1873, millenniumhardware.co.za
  • Paintsmiths 021 447 0217, paintsmiths.co.za
  • Robin Sprong 021 447 9842, robinsprong.com
  • Ross Demolition 021 511 1204, rossdemolition.com