Foto's Francois Oberholster

WIE WOON HIER? Terence en Noelene Botha en hul kinders, Jamie en Jake
WAAR Milkwoodpark, Noordhoek
GROOTTE 158 m2
ORIËNTASIE Noord

Wanneer jy Terence en Noelene Botha uitvra oor die geloofsprong wat hulle moes maak met hul opknapprojek, hoor jy ’n storie van enorme wilskrag. Want dié innoverende paartjie en hul kinders het binne net sewe weke die onmoontlike vermag.

“O, ek het gehuil,” onthou Noelene. “Die huis het niks gehad nie; nie plafonne, beddens of kaste nie – niks. En dít twee dae voor ons moes intrek. Toe ek vir ’n vriend vertel: ‘Gister het ek een keer gehuil’, het Terence beaam: ‘Ja, net een keer: heeldag lank!’ ”

Deesdae lag Terence, ’n verteenwoordiger vir Bean There Coffee, en Noelene, ’n skakelspesialis, met vreugde en trots wanneer hulle die storie van hul dramatiese opknapprojek vertel – en die bloed, sweet en trane wat dit gekos het om die bouval in ’n tuiste te omskep.

Toe hulle die eiendom die eerste keer in September 2013 geadverteer sien, het die eiendomsagent gesê: “Gaan trap die deur oop en bel my as julle nog belang stel.”

Nie net het die huis nie ’n dak gehad nie, van die mure was ook beskadig; trouens, net een vertrek (nou Jamie se slaapkamer) het min of meer oorleef. Die res was ’n roetbedekte deurmekaarspul. Al wat hulle kon red, was twee toilette en wasbakke.

Maar dit was die Bothas se kans. Hulle wou nog altyd in Milkwoodpark woon waar Noelene grootgeword het en het al in ses huurhuise in die area gebly. Toe doen hulle ’n astrante aanbod en hoop vir die beste ...

’n Ou skaapskeermandjie, wat Noelene wit geverf het, word as koffietafel ingespan. Die Bothas het binne twee maande nadat hulle ingetrek het die winterkoue begin voel. Terence het die kaggel ontwerp, Noelene het bakstene tussen hul bourommel gaan uitgrawe en hulle het die skoorsteenpyp op Gumtree gekry. Hulle moes net die vuurstene vir die binnemuur nuut koop.Coastal Collectionstreepkussings van Constantia Fabrics

1. In die kombuis en leefvertrekke is die vloerteëls verwyder en die oppervlak met wit sement afgevlak en met drie lae Alumanation Sovereign Seal geseël. 2. Noelene het self die hanglampe van Consolflesse gemaak.

1. In die hoofslaapkamer is al die beskadigde ingeboude kaste uitgehaal. Danksy los kaste het die kamer ’n oop, ligte gevoel. Die groot vintagetrommel kom van Noelene se pa se tweedehandswinkel; die kleiner een was ’n geskenk. 2. Ná ’n paar lae wit poliuretaan-stoepverf is die oranjebruin vloerteëls in Jamie se kamer skaars herkenbaar. Die dagbed was voorheen Terence se oorlede suster Bonnie s’n.Boomkombers van The Pause Room

Wanneer ek saans gaan slaap het, het dit gevoel asof my hand nog op en af beweeg soos ek mure afskraap! – Jamie

En toe gebeur dit

Toe hul aanbod van R615 000 in November 2013 aanvaar word en hulle ’n verband van R350 000 kry om die projek te voltooi, het die Bothas dadelik weggespring en rommel begin wegruim – ’n hele nege lorrievragte vol!

Toe al die rommel weg was, het hulle, soos Noelene sê, “skoongemaak en skoongemaak en skoongemaak ...”

“Die brandreuk was oorweldigend,” onthou Terence. “Maar dit was die beste huis in die beste straat in die hele omgewing. Dit grens aan ’n park, het ’n swembad en ’n groot tuin, en die leefruimte met sy groot vensters front noord; dit het ’n pragtige berguitsig en jy kan die see ook net-net sien,” voeg Noelene by.

Met die oordrag gereël vir 7 Februarie, het hulle kennis gegee om teen einde Maart uit hul huurhuis te trek. Toe voel hulle die druk! “Ons móés op 1 April intrek, wat ons net sewe weke gegee het om te bou!” sê Noelene.

Die Bothas het elke dag ná werk eenvoudig moue opgerol en tot saans tienuur gewerk. Naweke het hulle seweuur soggens begin. Al hulp wat hulle gehad het, was ’n loodgieter, elektrisiën, pleisteraar, algemene helper en ’n verwer.

“Ons het elkeen ons rol gehad. Tot Jamie en Jake, toe nege en vier, het vloere opgekap, vensterrame geskuur, mure geverf so hoog soos wat hulle kon bykom en ou pleister afgeskraap.”

1. Terence het R30 vir die leer betaal by ’n plaaslike stortterrein. 2. Jake se kamer is te klein vir ’n standaardenkelbed, daarom het Terence hul ou TVkabinet in ’n klerekas omskep om die hoë pasgemaakte bed te ondersteun.

“Die behoefte vir ’n dak oor ons kop was ’n groot motivering om die projek betyds klaar te kry,” sê Terence. En al het hy soms teen die einde gedink hulle het miskien te veel aangepak, het als uitgewerk. Wel, meestal …

Ons sou in die bed lê en wonder of ons die huis dalk net so moet verkoop. – Noelene

Murphy se wet

Met die Bothas se streng spertyd en finansiële beperkings was die stresvlakke hoog en elke probleem wat opgeduik het, het net bygedra tot die spanning.

As hy nou terugkyk, sê Terence, was die banklening van R350 000 nie heeltemal genoeg nie. Maar al sou dit knyp, was hulle vas van plan om by die begroting en skedule te hou – kom wat wil.

Tot hulle onkant gevang is.

Terence vertel: “Ek het die begroting tot op die laaste sent bereken – toe ontdek die messelaar ’n groot deel van die sitkamermuur is onstabiel.”

Hy was verpletter. “Daai dag het Terence ook gehuil,” onthou Noelene, “maar die strukturele integriteit van die huis was ononderhandelbaar. Ons moes ’n deel van die muur afbreek – en ons begroting vir gelamineerde vloere was daarmee heen.”

Die bank het ook nie sake maklik gemaak nie. “Ons verband het weeklikse onttrekkings toegelaat vir voltooide werk,” vertel Terence. “In ’n stadium het die assessor gesê ons sal nooit die projek binne ons begroting en spertyd voltooi nie en betaling begin terughou. Pennypinchers het tot ons redding gekom en vir ons boumateriaal teen krediet laat koop. So kon ons die sigbaarste dele van die projek klaarmaak en die assessor oortuig om uit te betaal, en kon ons Pennypinchers ook betyds betaal.”

V&A met Terence

Nadat julle as wenners aangewys is, het jy jou kwalifikasie as boutekenaar gekry. Is dit wat jy nog altyd wou doen?

Ek geniet dit verskriklik; dis soos ’n droom wat bewaarheid is! Toe ons die huis bou, het ek besluit om ’n kursus daarin te doen, en nou is ek in die praktiese fase. Ek het al aan drie huise gewerk, en is tans besig met ’n groot projek by Bluewater Estate naby Kommetjie. Ek gee ook vir mense raad wat self hulle huis wil opknap.

Hoe het julle die prysgeld aangewend?

Ons doen steeds opknapwerk aan ons huis – ons is nou juis besig om die onthaal-area te vergroot en bou ’n braai aan. Ons het nog omtrent die helfte van die prysgeld oor (wat ons spaarsaam gebruik). Ons hou daarvan om goed te hergebruik en probeer altyd so ekonomies moontlik werk, tog skimp ons nie op gehalte nie.

Watter raad het jy vir mense wat self ’n opknapprojek wil aanpak?

Beplan, beplan, beplan! Ons het baie min tyd gehad om ons huis reg te ruk, maar as jy goed mooi deurdink, hoef jy iets nie twee keer te doen nie.

Kyk hier na hul wen-huis

Die Botha-gesin van Noordhoek het ’n huis gekoop wat in ’n brand verwoes is en dit toe amper eiehandig herstel — wat aan ’n skeptiese bankassessor, vriende en familie bewys het waar daar ’n wil is, is daar ’n weg...

VERSKAFFERS
  • Biggie Best 021 534 8662, biggiebestwebshop.co.za
  • Constantia Fabrics 021 761 9648, constantiafabrics.co.za
  • Handmade with Love 074 360 2996
  • The Pause Room 021 461 6488, thepauseroom.co.za
  • Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za