Foto’s Greg Cox l Boufoto’s Cameron Prince l  Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Caren en Dave Mills en hul kinders, Michaela (22), Courtney (20), James (19), Sarah (17) en Josh (11)

WAAR Die plaas Witkrans, sowat 68 km van Beaufort-Wes

GROOTTE VAN BOMA 120 m²


’n Stutmuur is gebou om die boma te beskerm teen oorstromings en ’n vuurput is op die laer vlak nader aan die rivier gebou. Diervelle van Montebello Design Centre

Dié storie het om ’n kampvuur begin. Maar anders as ander sulkes wat laataand onder die sterre uitgespin word, het dié een waar geword.

Die Millse van Witkrans buite Beaufort-Wes kampeer dikwels op die oewer van die rivier op hul plaas en het gedroom van ’n kombuis hier om die kuiery makliker te maak. “Wanneer jy soggens wakker word en jy lê en luister na die rivier en die voëls in die bome en soms die brandwagbobbejaan se roep, voel jy werklik deel van die plaas,” vertel Caren.

“Ek en Dave wou graag ’n kombuis hier hê wat die middelpunt van die kuiery kon word; waar ons lekker kos maak en rondlê en gesels.” Maar die einste mannetjiesbobbejaan en sy trop, ook blou-ape en ander wilde diere, het die idee van ’n buitekombuis problematies gemaak. “Die diere kom dikwels na die kampplek toe wanneer ons nie hier is nie – die bobbejane en ape in die dag en die ystervarke snags. Hulle stroop wat hulle kan, daarom het ons lank gewonder wat ons opsies is,” sê Caren.

Die mense wat die aand toe hul planne begin rigting kry het saam met Caren en Dave om die vuur gesit het, was Vince en Ronelle Muir, die eienaars van Holly Wood Kitchens. Praat van die regte mense op die regte tyd!

“Ons het gesels oor ons behoeftes en oor verskillende maniere om dit wat ons wou hê, te skep. Een van die groot faktore was dat dit die wilde diere moes trotseer – en ’n vraghouer het al hoe meer na die antwoord begin klink. Buiten dat dit heeltemal toegemaak kan word, kon die voorbereiding van die houer alles in die Kaap geskied en net hierheen gebring word. Toe die gedagte eers in ons kop was, het dit net gegroei en gegroei!”

Soos Vince die “net hierheen bring” beskryf, was dit uiteindelik dalk die moeilikste deel van die projek. Die vraghouer is op ’n vragmotor van Kaapstad na Beaufort-Wes vervoer en daarna nog sowat 60 km oor ’n grondpad plaas toe. Die laaste 20 meter het hulle soos die antieke Egiptenare aangepak, vertel hy. “Die vraghouer is met die vragmotor se hyskraan neergesit op pale waaroor dit toe tot op sy plek gerol is.”

Teen die agterste muur is plek vir ’n yskas, spenskas, vullisblik, kaste en laaie en ’n gleuf vir kapplanke en skinkborde.

Die kroegarea het ’n kroegyskas en ’n L-vormige kroegtoonbank. Die hele eiland is 3 meter lank en 1 meter breed met gasplate aan die een kant en ’n stoof daaronder. Aan die buitekant van die werkoppervlak is ’n oorhang met plek vir vyf kroegstoele. Vuurput van The Firepit Company

Gereed vir aksie

Sy plek is in die skaduwee van karee-, populier- en akasiabome teen die Kromrivier. Anders as in groot dele van die GrootKaroo met sy uitgestrekte vlaktes spog die plaas met indrukwekkende kranse. Die plantegroei is soetveld en danksy genoeg water gedy die wild.

“Ons het die omringende bos versigtig skoongemaak en die grond laat gelykmaak. Ons het ’n ongelooflike bouer, Wijnand Milard, gehad wat die terrein moes voorberei,” vertel Caren.

Vince het ’n skets aan hulle verskaf vir waar die fondasie voorberei moes word en waar die betonblokke vir die vier hoeke van die vraghouer geplaas moes word. Pype vir water en elektrisiteit is ondergronds gelê.

“Dave is lief vir detail en het almal op hoogte gehou met eindelose lysies. Die hele boma, wat die kombuis, die kuier-area en die vuurput insluit, is geïntegreer sodat dit nooit voel asof een deel apart van die ander is nie. “Omdat daar baie fyn stof oral in die Karoo is, het ons besluit om ’n behoorlike vloer te skep – dis ’n kombinasie van ’n houtdek en klipplaveisel.”

’n Stutmuur bied beskerming teen oorstromings wanneer die river sterk afkom. “Die bonus was dat daar nou plek onder die muur was vir ons braaiput,” sê Caren. “Ons is geweldig in ons skik met die eindproduk.”

Die vraghouer se deure is afgehaal en ’n opening in een sy gesny vir ’n roldeur.

Die terrein word voorberei: Bome en struike is uitgehaal en die grond gelykgemaak.

Die vraghouer is per vragmotor met ’n hyskraan aangery en op die plaas afgelaai.

Almal help om die vraghouer op staalpype neer te sit sodat dit verder gerol kan word.

’n Sloot-laaigraaf skuif die vraghouer in posisie...

... en toe is dit met spierkrag oor die pype gerol tot op sy fondasie.

Die hardehoutdek is gelyk met die vraghouer se vloer. Dit vergemaklik die uitskuif van die eiland op wiele. Langs die dek is die klipvloer in aanbou.

Bêreplek vir kapplanke en skinkborde is standaard in die meeste Holly Wood Kitchens-ontwerpe. Blou potte van Le Creuset

Die betonblad voor die vraghouer (eerste foto) is met ’n helling gegiet om reënwater weg te voer na die stormwaterpyp (tweede foto).

Josh hou die voëls in die bome dop. Sitsak van Fatsak

KENNERSRAAD

Vince het ’n volledige kombuis ontwerp vir die vraghouer, met onder meer ’n ys/ vrieskas, drankyskas, gasstoof, beligting, opwasplek, rakke en pakplek.

Hy waarsku as vraghouers nie behandel of onderhou word nie, kan hulle roes. “Omdat hulle baie tyd op see deurbring, kan daar roesplekke wees. Dit moet herstel word voor die ombouing begin,” sê hy.

Die binne- en buitekant is houtskool geverf met dieselfde produk waarmee nuwe vraghouers geverf word om hulle te beskerm teen toestande ter see. Die vloer is bedek met viniel met ’n eikehoutpatroon, die hoofwerkblaaie is Dekton in die kleur Trilium en die kroegtoonbank is wit eikehout. “Ons het ook soliede wit eik vir die spatbord gebruik.

“Om die temperatuur te beheer is die mure en plafon uitgevoer met 50 mm dik Chromadek-isolasiepanele. Dit is toe ook houtskoolkleurig geverf.”

VINCE NOEM DIE VOLGENDE VOORDELE VAN ’N VRAGHOUER

• As jy verhuis, kan jy dit saamvat.

• Jy kan nog houers langsaan of bo-op bylas om jou ruimte te vergroot indien jou behoeftes verander.

• Vraghouers kan maklik vervoer word; hulle is immers ontwerp om op ’n standaard-vragmotor te pas.

• Om ’n vraghouer in uiteenlopende vertrekke soos ’n kombuis, slaapkamer of volledige huis te omskep, kan heelwat goedkoper uitwerk as konvensionale boumetodes.

• ’n Vraghouer kan vooraf in ’n kombuis of badkamer ingerig word en dan na sy bestemming vervoer word. In die geval van die Witkrans-kombuis was die pad te sleg en moes die kombuisinstallasie op die plaas gedoen word.

VERSKAFFERS & KONTAK

Cielo 021 492 7340

CulinaryKraft 021 914 3411

Fatsak 087 820 4328

Holly Wood Kitchens and Furniture 021 701 7737

Le Creuset 0800 014 886

Montebello Design Centre 021 685 6445

Takealot  

The Fire Pit Company 073 121 7564

The House Shop 082 885 2953

Yuppiechef 

Wijnand Milard 082 531 1655, millardkonstruksie@gmail.com