Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER? Jeannie en Kirk Flynn met hul seun, Liam (2)

WAAR Springs, Gauteng

Kirk, sy pa, Mike, en Jeannie het die buitekombuis ontwerp. Dit het ’n hout- en gasbraai, bêreplek onder die betontoonbank asook ’n ysbak vir drankies, ’n kouewaterkraan en kragpunte vir enige ekstra toebehore en beligting. 

Wanneer dit kom by lekker kuier, weet die Flynns beslis hoe. Jeannie en Kirk is mal daaroor wanneer hul huis oorloop van die gaste en toe hulle in 2016 in Springs huis koop, was hulle veral opgewonde oor die potensiaal van ’n groot agterplaas waar hulle kan onthaal – hulle het sommer die dag nadat hulle ingetrek het, weggespring met die opknap!

“Ons woon in so ’n lekker klimaat en onthaal graag buite so toe ons intrek, het ons geweet ons moet die agterplaas ’n prioriteit maak,” sê Jeannie. Die paartjie wou ’n groot area skep waar gaste om ’n vuur kan sit en ontspan. Vir Kirk, ’n sjef, was ’n plek vir kosbereiding noodsaaklik sodat hy nie heeltyd tussen die kuierplek en die kombuis in die huis hoef te draf nie. Hy wou mos ook deel van die aksie wees terwyl hy ’n storm agter die potte loskook! 

Die manne is om die braai en die vroue maak die slaai? Nie by ons nie. – Jeannie

Ons is dol oor hoe die buitekombuis afgebaken is met leiklipteëls en die baksteenplaveisel die eetarea aandui. Ronde gruisklippies omring die boom langsaan en laat ruimte vir die wortels om te groei.

Harde taak

Die agterplaas het genoeg potensiaal gehad met ’n groot lap gras in die middel omring met groenigheid, asook ’n seringboom wat heerlike skadu verskaf. Kirk se pa, Mike, is die nutsman in die familie, en die Flynns het elke Saterdag vir ’n hele jaar aan die ruimte gewerk.

En dit was geen geringe taak nie! Hulle moes onder meer die staal-buitekombuis bou en staanmaak; die groot, halfronde sitarea en die vuurput bou en versier, asook al die landskapwerk doen. Baie van die materiaal is herwin uit vorige projekte wat Mike aangepak het.

“Ongelukkig moes Mike ’n skoueroperasie ondergaan kort nadat ons met die projek begin het, daarom moes Kirk maar die voortou neem,” sê Jeannie. “Ons tweejarige seun, Liam, het gretig elke naweek buite ‘gehelp’. Eintlik mis ons nou daardie besige Saterdae ...”

Die visie

“Ons wou ’n pragtige, praktiese area hê vir groot kuiers waar ons kan kook en ontspan, met veilige speelplek vir die kinders,” sê Jeannie. Wat die styl betref het die Flynns besluit op ’n rustieke atmosfeer en gebruik gemaak van hout, staal en klip in ’n palet van herfskleure.

“Die kook-gedeelte moes die middelpunt van die aksie wees,” verduidelik Jeannie. “Kirk is absoluut dol oor die restaurantgevoel wat dit skep.”

Omdat hulle dikwels heelparty gaste op ’n slag onthaal en nie daarvan hou dat mense moet rondstaan nie, wou hulle ’n sitgedeelte skep waar almal gemaklik kan wees; die halfronde 10-sitplekbank om die vuurput is nommerpas daarvoor. Dis versier met kleurryke strooikussings wat Kirk en Jeannie se ma gemaak het.

Roesbruin en grys teëls is gebruik vir die buitekombuis se vloer, terwyl die res van die grondoppervlak met bakstene en gruis bedek is. “Ons kuieraande skop gewoonlik af by die kroeg en skuif later oor na die sagte sitplek vir koffie en nagereg om die vuur,” sê Jeannie. “Ons is gaande oor ons nuwe ruimte, en ons familie en vriende voel ook so; mense vra gereeld ons moet foto’s van die projek deel. Kirk spot al dat ons huurgeld moet begin vra omdat almal nou hul verjaardagpartytjies by ons huis hou!”

SLIM SITPLEK

  • Vorm het aanleiding gegee tot funksie: Toe die paartjie ’n halfronde ysterraam uit een van Mike se vorige bouprojekte kry, het hulle besluit om dit vir sitplek in te span. ’n Rug- leuning van 38 mm-staalpype is afgerond met afvalstukke balau.
  • Die raam het ’n basis van versterkte beton gekry vir stewige sitplek. Jeannie en Kirk se ma het al die sponskussings vir die rugleuning, die strooikussings en 1 m diep sitplekkussings gemaak en oorgetrek met buitelap – oor talle kopppies tee!
  • Mike het die slim vuurdrom ontwerp en gemaak deur ronde staalpype in die verlangde vorm te sweis. Met die skyf van ’n ou kabeltol bo-op kan dit ook as tafel gebruik word; in die middel is ’n verwyderbare sok waarin ’n sambreel staangemaak kan word.
  • Die vloer om die vuurput is vasgestampte grond met ’n 50 mm-gruislaag wat gereeld gelykgehark word. Dieselfde grondbedekking is om die boom oorkant die sitarea gebruik om die twee ruimtes visueel te verbind.
  • Die betonmure is geverf met Earthcote in die kleur Clovelly Quarry. Die donker kleur kamoefleer die muur en laat die ruimte groter voel.
  • Die klip-skanskorwe aan die ente van die sitbank is ook met staalpype gemaak en baken die ruimte af.

Blink idee

Die vuurdrom se basis rus op ’n spoor, wat beteken hulle kan dit wegskuif wanneer hulle die vuur aansteek sodat die rook nie die gaste pla nie; sodra die vlamme nie meer so hoog brand nie, skuif hulle dit terug!

Dis in die detail
Al die ontblote staal is met ’n beskermde roesomsetter behandel.

Só het hulle gemaak

1 Nadat die oorgroeide tuin skoongemaak is, moes die grondhelling met die familie se getroue bukswaterpas bepaal word.

2 Die staalstruktuur is gesweis en staangemaak, waarna die betonbasis gegiet is met maasdraad en ’n staalraam as die “bekisting”. PVC-pype is in die basis gesit om voorsiening te maak vir elektriese en watertoevoer.

3 Tydens die giet van die basis is ses staalstutte in die beton geplaas en staalbalke wat die dakstruktuur moes dra, is daaraan vasgesweis.

4 Dakplate is toe aan die staalstruktuur vasgeskroef.

5 ’n Beton-werkblad is in ’n laaghout-bekistingvorm gegiet. Die vorm is ná ’n maand verwyder en die blad is verseël met ’n standaard-vloerpolitoer voor dit verhit en gladgestryk is. Hulle het toe byewas daaroor gesmeer, wat enige prikgaatjies opgevul het.

6 ’n Staalraam vir die kroeg se blad vorm aan die een kant ’n kurwe rondom die boomstam. Die blad van die toonbank bo-op is gemaak van gelamineerde saligna. Dit rus op staalstutte wat in die betonblad gegiet is.

DIE AFWERKING

Teëls Mazista (011 998 2600, mazista.co.za)

Dakplate JCP Roof Sheeting (010 040 8324, jcproofing.co.za)

Plante Kazimingi Wholesale Nursery (079 871 8829, kazimingi.co.za)

V&A met Jeannie

Enige wenke om geld te bespaar? Vra hulp by handige familie en vriende – jy sal nie glo wat mense bereid is om te doen vir ’n braai en ’n bier nie.

Het jy algemene opknap-raad? Moenie onderskat hoe so ’n projek verhoudings kan opbou en versterk nie. Doen jou bes en probeer om nie te veel oor die besonderhede te stres nie.

Wat geniet jy die meeste van jul nuwe ruimte? Dis veilig en ’n lekker kuierplek vir die hele familie. Dis ook maklik om skoon te maak ná ’n partytjie.

Wat’s volgende? Ons wil graag die studeerkamer in ’n vierde slaapkamer omskep vir ons baba wat op pad is!

Die omvang van die werk kon maklik in naweektake verdeel word en dit was lekker om te sien hoe die projek bietjie vir bietjie vorder. – Jeannie

Aan die werk...


Begroting

Totaal: R58 388

Dagwerkers R21 360

Materiaal vir toonbank 3 315

Elektriese items 1 408

Teëls, bakstene en ander plaveisel 12 556

Materiaal vir dak 3 741

Grasperk, grond en kompos 2 180

Kabels 900

Ligtoebehore 540

Verf 4 000

Sandsteen 2 426

Skanskorf-klip 2 000

Staal vir bankie en heining 3 962