Stilering Marian van Wyk  

WIE WOON HIER? Willie en Daniela Gouws

WAAR Plettenbergbaai

GROOTTE 532 m²

Willie was so geïnspireer deur die swaaibank-projek in Tuis se Februarie 2015-uitgawe dat hy dadelik een vir hul eie stoep gemaak het. Vir die koffietafel het hy die oorblyfsels van ’n ou kroeg en ’n wynvat gebruik.

Nadat hulle 16 jaar lank in die hartjie van Plettenbergbaai gewoon het, was Willie en Daniela Gouws lus om die gejaag van die gewilde vakansiedorp vaarwel te roep.

Hulle het gesmag na ’n rustiger leefstyl; daarom het hulle in Mei 2017 hul huis, restaurant en antiekware-besigheid verkoop en ’n stuk oorgroeide grond van 3,2 ha net buite die dorp gekoop. Die erf met sy 2 000 m²-dam, pragtige berguitsigte en inheemse woud daar naby was presies wat hulle wou hê. Hier kon hulle hul nuwe ekovriendelike huis self bou – iets waarvan hulle al jare droom.

Dié tweetjies skrik nie vir harde werk nie en het hulself nege maande gegee om die projek te voltooi. En as jy in ag neem die huis is meer as 500 m² groot, sou hulle moes spring om dit reg te kry!

Omdat die ekovriendelike struktuur deels huis, deels lodge en deels restaurant moes wees, was dit belangrik dat hulle betyds met die projek klaarmaak en wins begin maak.

“Ons het nege maande lank sewe dae ’n week gewerk,” sê Daniela. “Die eerste 73 dae het ons geen elektrisiteit of lopende water gehad nie – ons moes aan die einde van elke dag in die rivier gaan swem om skoon te kom! Ek het eerlikwaar nie die omvang van die uitdaging begryp nie.”

Maar die Gouwse het vasgebyt; selfs Willie se hartaanval in die middel van die projek het hulle nie gestuit nie. Vandag getuig Villa Villekula (genoem na Pippie Langkous se fiktiewe huis) van hul passie, harde werk en uithouvermoë.

Die huis, ontwerp met privaat kamers vir gaste en genoeg vensters om die natuurlikelig ten beste te benut, maak oop op die lieflike dam met sy groot visvoorraad. Die eklektiese, tekstuurryke voorkoms is verkry met sinkplate wat met terracotta dakverf geverf is en bekleding van rou hout. Die huis rus op 18 betonpilare sodat dit nie inmeng met die natuurlike vloei van die ondergrondse water nie, soos ’n fondament van dié grootte kon doen.

Willie het dié boekrak uit afval-vloerplanke gemaak.

Die sitgedeelte is ingerig met tweedehandse meubels wat die paartjie oor die jare bymekaargemaak het. Al die matte in hul huis is by ’n huis-uitverkoping en verskeie tweedehandswinkels gekoop. Die grammofoon (wat nog werk!) in die hoek het hulle by ’n antiekwinkel gekoop; die filmprojektor en ou TV kom van ’n agterplaasverkoping.

Die vloer is van herwinde vrugtekratte – ’n hele vier ton van hulle, wat Daniela met terracotta dakverf geverf het. Hulle het dit teen ’n afslag gekry – R850 vir 60 liter – genoeg vir amper al die vloere en sinkplate buite. Die vloerpanele van 1 x 1m is 25mm dik en het ’n waterdigte fineer aan die een kant en ’n bamboes-fineer aan die ander kant.

Verfkleur
Die aksentmuur is geverf met Plascon Deep Sea Dive.

Bo die eetkamertafel is ’n liginstallasie van droë akasia- takke en feetjieligte wat deur opgevoude maasdraad geryg is. Die Oregondennehout-buffetkas was die eerste meubelstuk wat die paartjie saam gekoop het.

Die kombuis is ook ’n restaurantkombuis vir gaste. Al die kook- en bakwerk word gedoen in die 80 jaar oue houtstoof wat die paartjie vir R7500 by ’n antiekwinkel op Calitzdorp gekoop het. “Ons kombuis is vol meng-en-pas- artikels uit plaaslike liefdadigheidswinkels,” sê Daniela.

Miss Jennifer die troeteldonkie is al vir vyf jaar deel van die Gouws-gesin. “Sy het die groot trek saam met ons aangepak en ek dink sy’s baie gelukkig in haar ruim nuwe omgewing. En sy help om die gras kort te hou!” sê Daniela.

’n Groen leefstyl

Vir Willie en Daniela was ’n ekobewuste boumetode al opsie wat hulle wou oorweeg. Hulle het die hulp ingeroep van ’n argitek-vriend, Dirk Hanekom, wat die staalraamhuis ontwerp het, en vir die res het hulle soveel moontlik hergebruik en by plaaslike skrootwerwe rondgesoek na weggooigoed wat hulle nuwe nut in die huis kon gee.

“In dié tye van ongelooflike vermorsing, besoedeling en onbetroubare produkte was dit vir ons vanselfsprekend dat ons so ekovriendelik en selfonderhoudend moontlik moet wees,” sê Daniela. “Ons het geen verbinding met Eskom nie en het ’n gryswaterstelsel geïnstalleer, asook reënwatertenks wat 25 000 liter kan hou. Ons het ook ’n dam vol vis, hoenders wat eiers lê, ’n donkie wat die gras ‘sny’ en mis voorsien én ’n groentetuin.”

Hul elektrisiteit word opgewek deur 12 sonkrag- panele op die dak, en gasgeisers sorg vir warm water. “Om sonkrag te kies was die beste besluit wat ons kon gemaak het,” sê Willie. “Maar om ’n rioolstelsel onafhanklik van die munisipale stelsel te installeer, was ’n massiewe uitdaging!”

Deesdae is die huis met sy ses slaapkamers en badkamers ’n treffer onder plaaslike én internasionale besoekers. “Almal geniet dit hier,” sê Daniela. “Daar is talle kleinhoewes, werkende plase en wildreservate in die omgewing, en die ongerepte Nature’s Valley- strande en verskeie avontuurbestemmings is alles binne ’n 15 km-radius. Ons het ook heelparty geesgenote onder die hegte gemeenskap.”

Die mure in dié en suite is gemaak van herwinde tong- en-groefplanke. Die wasbak is versink in’n ou vat wat die paartjie op ’n wynplaas raakgeloop het. ’n Patryspoort van ’n gestrande boot dien as venster in die stort.

Al die storte is buite die huis se hoofraam gebou sodat die stortwater deur die vloerplanke tot in die gryswaterstelsel kan loop. 

Die vyf 5000 liter- watertenks op die werf is netjies weggesteek aan een kant van die huis.

In die French Room het Daniela besluit op donkergrys mure. “Dié kamer moet eintlik ‘50 Shades of Grey’ genoem word omdat dit so baie probeerslae gekos het om die kleure net reg te meng,” sê sy. Nadat sy die mure geverf het, het sy dit geskuur om die verskillende skakerings van grys te verbloem; dit het ’n lieflike, tekstuurryke effek geskep waaroor sy dol is. Glas-skuifdeure en hoë vensters gee ’n wonderlike uitsig op die woud.

Ons is dol oor die ou koets-olielampe wat die paartjie in ’n antiekwinkel gekry het!
’n Radiogram uit ’n antiekwinkel het nuwe nut gekry in die Turquoise Room.

In dié slaapkamer dien ’n tweedehandse teekis as bedkassie. Daniela het die kopstuk gemaak van hortjies wat hulle by ’n plaaslike bouer gekoop het. Diebedsprei kom uit die Mungo-fabriekswinkel in Plettenbergbaai.

Al die storte het ’n glasdak. “Dis wonderlik om die sterre te sien,” sê Daniela. Die wasbakkas in dié badkamer is gemaak van afvalhout en geverf met Annie Sloan-verf in die kleur Provence; spieëlglas in ’n ou venster maak ’n besonderse spieël. Al die hout is verseël met Woodoc 50 Marine Sealer in Matt.

Vloerplan
V&A met Daniela

Wat geniet jy die meeste van jul huis? Die atmosfeer wat ons geskep het, die uitsigte en die feit dat so baie van die meubels en materiaal ’n storie vertel.

Waar koop jy graag? Ons stap moeilik verby tweedehands- of welsynswinkels en hou plaaslike Facebook-blaaie dop vir tweedehandse goedere. Ek het ook al oor die jare groot winskopies by Mungo-uitverkopings gekry – ek koop kilogramme linne en handdoeke op ’n slag.

Is daar iets wat jy volgende keer anders sou doen? Ek sou niks verander nie, al was dit ’n groter uitdaging as wat ons verwag het. Ons het dit oorleef en dit voel of ons die huis “verdien” het.

Jou beste wenk vir iemand wat iets soortgelyks wil aanpak? Goeie gereedskap maak die wêreld se verskil!

KONTAKTE

Argitek Dirk Hanekom (044 532 7555, design2d@telkomsa.net)

Loodgieter Neill Meggersee (072 250 3715)

Elektrisiën Christopher Renken (081 044 8670)

Ons snuffel graag rond by antiek- en tweedehandswinkels. Ons het onlangs tydens ’n uitstappie van 10 dae omtrent 50 van hulle besoek! – Daniela

Uit hul notaboek ...


Begroting

Totaal: R2 092 000

Argitek en bouplan R220 000

Materiaal vir staalraam 600 000

Oprig van staal- struktuur 88 000

Sinkplate vir dak 150 000

Houtbekleding 100 000

Sinkbekleding 80 000

Vensters en deure 80 000

Dekmateriaal 20 000

Elektriese materiaal 65 000

Elektrisiën 50 000

Loodgietersmateriaal 50 000

Loodgieterswerk 40 000

Timmerwerk 80 000

Arbeid 90 000

Verf en ysterware 120 000

Toilette 5 000

Reënwatertenks 25 000

Riool- en gryswater- stelsel 40 000

Gasgeiser 27 000

Sonkragstelsel 150 000

Gas-installasie 12 000