Assistente Suzette Strauss-Botes, Sydney Hayes en Louise van Wyk

WIE KUIER HIER? Janene en Pierre Ehlers, en hul kinders, Euan (15), Nina (12) en Finn (6)

WAAR Waar Janene hom ook al parkeer (tans Langebaan)

GROOTTE 6,3 m² (regtig!)

Irriterend entoesiasties. Dís hoe Janene haar passie vir die Tiny House Movement beskryf. En dis danksy dié brandende passie dat sy haar eie “tiny house” op wiele gebou en uiteindelik ingeskryf het vir verlede jaar se Regruk met Flair-wedstryd. En daar wen sy toe!

Maar pasop. As jy haar bloeddruk goed wil opjaag, vra haar hoekom sy nie net ’n klaar geboude woonwa gekoop het nie ...

“Jy kan mos sien dis glad nie dieselfde ding nie!” beduie sy met opgeplukte skouers na Waentoe, die volledig toegeruste huisie op wiele wat sy eiehandig gebou het. Die huisie staan 3,2 m hoog, is 2,1 m breed en 3 m lank. En in dié net meer as 6 vierkante meter het sy als ingepas: ’n dubbelbed, ’n enkelbed, asook ’n volledige kombuis en badkamer met ’n spoeltoilet. Die vrolike dekor en allerlei vernuftige pakplek in die vorm van laaie en rakke is ook alles die handewerk van dié tuisbly-ma van Bellville.

Janene se piepklein huisie-op-wiele is die resultaat van ’n amper drie jaar lange obsessie wat in 2015 met ’n eenvoudige Google-soektog begin het: “How to decorate small spaces.” En daar kom sy af op die Tiny House-beweging in Amerika, wat mense aanmoedig om in huise van kleiner as 37 m² te woon.

Hoewel dié klein blyplekkies dikwels met woonwaens vergelyk word, word dit met of sonder wiele gebou om soos ’n tradisionele huis te lyk en net so lank te hou.

Janene het in haar navorsing verdiep geraak, en dit het haar net meer vasbeslote gemaak. Sy wóú haar eie mikrohuis bou. Die geld en kundigheid het sy nie gehad nie, en ook nie ’n veilige ruimte waar sy kon werskaf nie. Haar man, Pierre, ’n ortopeed en die gesin se broodwinner, wou boonop aanvanklik nie byt aan die idee nie. 

Vuur en vlam

Die naaste wat Janene ooit aan bou gekom het, was ’n hoenderhok jare gelede, maar daar was geen keer aan haar nie.

Sy vertel: “Ek het vroeg in 2016 met die Home Design 3D-app begin planne teken en later maklik 30 uitlegte op ’n denk-beeldige wa van 2,4 x 5 m geskep.” Nina (toe nog 11) het saam ontwerp.

En toe begin Janene met ’n handsaag en verstekbak, ’n figuursaag en ’n boor meubels bou van palethout – alles volgens skaal om eendag in haar mikrohuis te pas.

“Ek het mettertyd besef om so ’n huisie te bou moet jy net logies kan dink en min of meer met basiese gereedskap kan werk. Begin by die vloer en werk van onder af op. En maak elke ding klaar voor jy met die volgende een begin.”

Haar kop en ontwerp was reg vir die bouwerk, maar vir die sleepwa wat as “fondament” sou dien, het sy net eenvoudig nie die kapitaal gehad nie – kwotasies het gewissel van R18 750 tot R58 000. Die sleepwa moes ’n dubbelas, plat dek en remstelsel hê, en 1,5 ton kon dra.

Skelmstreke

Teen Februarie 2016 het Janene die geld vir ’n sleepwa bymekaargeskraap deur ’n polis van haar pa af te koop. Maar toe begin haar moeilikheid eers.

“Twee adverteerders op Gumtree het my ingeloop deur ’n deposito van R15 000 en R3 400 onderskeidelik te vra vir die basiese wa... en dan met my geld te verdwyn! My droom was aan skerwe, maar ek het voortgeploeg. Die ewige optimis!”

In September 2016 het sy ’n derde wa-bouer laat kwoteer vir ’n droomwa, maar later op die internet ’n advertensie vir “haar” Tiny House ontdek – gebou deur die einste wa-bouer met wie sy haar planne goedsmoeds gedeel het!

“Dít het my amper geknak. Ek kon nie ophou huil nie,” vertel sy. “Ek weet nie wat vir my erger was nie; dié verraad of die swendelaars wat met my geld vort is. Pierre het hierna ingestem om vir ’n sleepwa te betaal. En gelukkig het ek met die vierde probeerslag ’n eerbare wa-bouer gekry – Supreme Trailers wat vir R38 000 vir my die sleepwa gebou het wat ek nodig het.”

Ek droom natuurlik van ’n hele Tiny House-dorpie op ’n lappie grond iewers... – Janene

Die kombuis het ’n wasbak, yskas, mikrogolfoond en gietyster-gasbrander.

’n Kas bo die sleepstang vir die gassilinder en ander toerusting is versier met kleurvolle paletplanke wat Janene met krytverf geverf en met vernis verseël het. “Ek het dit met 8mm x 150mm- staalpasstukke en sluitmoere op die sleepstang vasgemaak en met snyskroewe aan die huisie vasgeskroef,” vertel sy.

Nina se be in die “loft” bo die ingeboude dubbelbed het gordyne vir privaatheid.

Vrolike plakpapier opdie vloer gee lewe aandie speelse dekor binne. Janene het dit met sewe lae deurskynende Duram Showfloor-poliuretaanverf vir sementvloere verseël. “Dit het ’n hele week geneem om droog te word!”

DIE PRYSGELD

Terwyl Janene aan haar mikrohuisie gewerk het, het Pierre ’n hek in hul heining laat installeer sodat die sleepwa agter die heining kon staan wanneer Janene vrou-alleen timmer en kap.

Die dag van Tuis se fotosessie het Waentoe agter die heining vasgesit, want hy was nou baie groter as die oorspronklike sleepwa. Maar ná alles waardeur sy is, laat Janene haar deur niks keer nie en sy en haar swaer, Theo Ehlers, het dit summier afgebreek sodat haar huisie na Hardekraaltjie gesleep kon word vir die foto’s.

Verlede jaar het BUCO ter viering van die tiende jaar van die Regruk met Flair-kompetisie koopbewyse ter waarde van R100 000 aan die wenner gegee. “Met die prysgeld kan ek nou die heining herstel,” sê Janene. “En ons braaikamer het ’n nuwe dak nodig.”

Janene se notaboek:

Dís hoe Janene Waentoe stap vir stap van onder na bo gebou het.

Lesse geleer

  • “Ek vertrou mense te maklik,” sê Janene. “As ek maar net ge-Google het, sou ek gou gesien het die een wa-bouer is ’n skurk wat al in die tronk was. Voortaan sal ek nie so blindelings mense vertrou nie; ek sal verwysings vra en dit nagaan.”
  • “Wanneer ek onseker was oor iets, het ek op YouTube gaan soek. Ek het myself daar touwys gemaak oor baie dinge, selfs glasveselwerk. Ek weet nou ek kan enigiets doen as ek wil. Niks kan my meer onseker oor myself laat voel nie.”
  • “As ek dit kon oordoen, sou ek eerder meer betaal vir ’n sleepwa met ’n breër as, want dan sou Waentoe nie so hoog gewees het nie.”
  • “Waentoe het slaapplek vir drie. Vir dieselfde moeite kon ek ’n langer wa gebruik het, en dan kon ons hele gesin van vyf binne geslaap het.”*Lees meer op Facebook – soek The Wacky Shack: Tiny House AfricaFoto’s geneem by Hardekraaltjie Holiday Resort (hardekraaltjie.com)
Teen die tyd dat Waentoe dakhoogte gestaan het, moes ek op ons huis se dak sit en werskaf. En ek het hoogtevrees! – Janene
Begroting

Totaal: R102 740

Sleepwa R38 000

Boumateriaal (hout, gelamineerde hout, palette) 13 250

Isotherm, polistireen- en aluminiumvelle 2 050

PVC-plafonne en stortpanele 2 890

Ysterware 6 500

Dakplate en muurpanele 6 500

Wasbakke en krane 3 750

Toilet 850

Binne- en buiteligte 2 700

Verf, vernis, seël- en vulmiddels 7 000

Toebehore vir kaste (mandjies, uittrekstutte, ogiesdraad) 2 250

Dakkontrakteur 4 500

Deur- en venster- kontrakteur 4 500

Loodgieter en gas- installasie 4 500

Elektrisiën 3 500

Afwerking en kontakte

Sleepwa Supreme Trailers (021 949 4967)

Hout BUCO (021 980 5800); Somerset Timbers (021 845 8731); Citiwood (021 930 5923)

Ysterware BUCO (021 980 5800); Brights Hardware (0861 333 777); Builders (0860 284 533)

Dak-installeerder HRS Roofing Solutions (081 323 1112)

Dakplate en sypanele Corrugated S-Rib in die kleur Sea Spray van Safintra (021 981 3130)

Vensters en deur Anderson Aluminium Windows and Doors (081 409 3397)

Kombuiswasbak en plakpapier Builders (0860 284 533)

Krane en badkamerwasbak Brights Hardware (0861 333 777)

Stortpanele en plafon PVC Ceilings en PVC Wall Panels van Camfly (056 213 4799)

Toilet 25-liter-Porta Potti van Tygerberg Caravans (021 982 4670)

Palethout Pallet Cycle (021 534 0744)

Elektrisiën Jaco de Villiers Plumbing & Electrical (072 269 9088)

Loodgieter en gasinstalleerder Gas Daddy (078 610 2018)

Verf Blou paneel buite: Duram NuGlo Luxurious Medium Sheen Enamel in Intermezzo Blue; buitekas met strepe: Builders Fired Earth in King Louis Blue, Post Red en Storm Blue, asook POP Furniture & Décor Paint in Matt en Buttery van Spiro’s Mica (086 112 2114); binnemure: Plascon Cognac Cream; kaste: Plascon Garden Party en Plascon Grecian Spa