Met sy nuwe prieel het die fasade nou ’n vars voorkoms. En wanneer die agapante, varkore en ’n paar clivias in verhewe beddings blom, gee dit ’n spatsel kleur teen die wit mure.

Foto’s Greg Cox Stilering Marian van Wyk 

Verfkleur Dulux Inky Pool 1



WIE WOON HIER?

Jenna en Eugene Theron

WAAR Stanford

GROOTTE 280 m²




Voor

Nadat die ou bruin matte uitgehaal is, is die vloere afgevlak en met ’n laag a.b.e. Cote in die kleur Soft Grey van a.b.e. Construction Chemicals afgerond vir ’n byderwetse gevoel. Die donker dennehoutplafonne en mure het ’n laag wit verf gekry. Mat, kussings en mosterdgeel deken en vaas van MRP Home

Voor

Die dennehout plafon, ontblote bakstene en houtpanele het die sitkamer voorheen donker en beknop laat voel. 

Die donker kaste weerskante van die kaggel is wit geverf om die ruimte op te helder, terwyl die skoorsteenmantel en -bors swart geverf is vir treffende kontras. Só smelt die TV ook weg teen die muur. Al die ligtoebehore in die huis is vervang. Ligte van Overberg Lighting Centre

Net voor die geboorte van hul seun, Emmett, het Eugene en Jenna Theron verlief geraak op ’n afgeleefde huis uit die 1970’s op die historiese dorpie Stanford naby Herma

nus. Gelukkig skrik hulle nie sommer vir ’n opknap-uitdaging nie. “Ons kon ons voorstel hoe ons kleinding die groot, toegegroeide tuin sou geniet!” sê Jenna van die 2 400 m²-erf. Hulle het die huis gekoop en begin opknap met ’n pasgebore baba op die arm – als in ’n rekordtyd van drie maande sodat hulle kon intrek en nesskop. Gelukkig het familielede naweke kom hand bysit om orde in die tuin te skep.

Strukturele veranderinge is tot ’n minimum beperk – hulle het net die motorhuis straat se kant toe verleng sodat hulle die ou personeelkwartier kon vergroot; dít verhuur hulle nou as ’n enkelwoonstel. Daarbenewens was die veranderings meestal oppervlakkig, buiten bouwerk hier en daar om beter vloei te bewerkstellig.

“Ons het probeer om die 1970’s-karakter van die huis te behou, maar dit te vernuwe en verfris met meubels in die Skandi-styl,” verduidelik Jenna. “Toe ons die matte optel, het ons koerant- en tydskrifartikels uit die sewentigerjare ontdek met aantekeninge deur die oorspronklike eienaar daarop (die matte is in 1975 gelê). Dit was so ’n lieflike verrassing, en ons wil nou ook so iets doen met toekomstige opknappings.”

Voor

Die houtkaste in die oorspronklike kombuis was outyds en nie geskik vir ’n oopplanleefstyl nie.

’n Ou dubbeldeur en venster is vervang met ’n groot stapeldeur vir beter vloei tussen binne en buite. Stapeldeur van Bay Joinery 

Eugene het die ou General Electric-yskas vir net R800 by ’n tweedehands winkel op Gansbaai gekoop! Noudat dit ’n vars spuitverflaag gekry het, is dit een van sy kosbaarste besittings. 

Teëls van CTM

DIE UITDAGINGS

Jenna sê al hou sy hoe baie van die koperpype en -toebehore, was die installering nogal moeilik en tydrowend – en hulle mis moderne mengkrane! “Ek sou ook nie ’n geverfde vloer aanbeveel vir enigeen met kinders en troeteldiere nie, want dit wys maklik vullis – die sement voel ook gou koud, daarom het ons heelwat los matte nodig.”

Wit metroteëls in ’n visgraatpatroon op die spatpaneel skep ’n interessante effek, terwyl die ontblote koperpype en -krane inskakel by die 1970’s-karakter. Jenna het die skildery by haar grootouers geërf. Kaste en skrynwerk deur Your Style Cupboards; sanitêre ware van Plumblink

Nadat ’n dak oor die agterstoep opgerig is en ’n braaiplek daar ingebou is, is dit nou ’n gesellige kuierplek. Lanterns van MRP Home


Theron
Theron

Dakkappe en -plate van Africon Rooftiles; geute van Overberg Gutters; hout van Coastline Timber Merchants; boumateriaal van Overberg Agri en Builders; deken en mosterdgeel kussing van MRP Home


OOR DIE KUNS

Jenna versamel kunswerke en snuffel graag rond vir winskope. Hier is haar topwenke:

• Moet nooit by ’n tweedehandswinkel verbystap nie – soms het jy net vyf minute nodig om ’n versteekte skat uit te grawe. Loer gereeld in sodat jy nie enige nuwe voorraad miskyk nie.

• Laat vriende en familie weet dat jy ou kuns versamel; dalk het hulle iets wat hulle vir jou sal gee.

• Gebruik soortgelyke rame vir eenvormigheid, of skep kontras deur byvoorbeeld swierige, vergulde rame te kombineer met smal houtrame. Albei lyk goed.

Met so te sê niks in ons begroting oor vir dekor nie, het tweedehandswinkels en verf my beste maats geword! – Jenna





Tweedehandse vondste staan pragtig uit teen die wit muur en neutrale vloer, in pas met die eklektiese Skandi-styl. “Ek is dankbaar dat my suster Sandy Jardine my passie vir opknap en stileer deel; ons ruil gereeld idees uit, wat so nuttig is wanneer jy ’n besluit moet maak,” sê Jenna. 

Emmett se kamer het ’n bietjie ruimte gewen deur die ou badkamer by die vertrek in te sluit.

Sanitêre ware van Plumblink; muurteëls van CTM; vloerteëls  van BUCO 

Danksy metroteëls teen die mure en patroonteëls op die vloer het die badkamer ’n kontemporêre dog tydlose gevoel. Nes die res van die huis spog die gastekamer ook met ’n nuwe vloer en witgeverfde mure en plafon. 

Totaal: R484 732
  • Verf & bykomstighede 49 050
  • Sanitêre ware 17 134
  • Kaste & skrynwerk 68 222
  • Boumateriaal 147 609
  • Beligting 7 488
  • Stapeldeur 17 000
  • Allerlei 21 754
  • Arbeid 151 775
  • Huur van gereedskap 1 600
  • Rommelverwydering 3 100






Die sitkamer se ou dubbeldeur het nuttig te pas gekom in die hoofslaapkamer; die slaapkamer se ou venster is weer hergebruik by die nuwe opwaskamer wat die opgeknapte motorhuis met die kombuis verbind. Venster van Stanford Glass and Aluminium; dekens en kussings van MRP Home

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

a.b.e. Construction Chemicals 0860 223 773

Africon Rooftiles 021 845 7476

Bay Joinery 044 695 2233

BUCO 0861 174 273

Builders 0860 284 533

Coastline Timber Merchants 028 312 1233

CTM 010 003 9987

MRP Home 0800 212 535

Overberg Agri 028 214 3800

Overberg Gutters 076 263 3218

Plumblink 087 285 8500

Stanford Glass and Aluminium 074 742 9388

Your Style Cupboards 082 327 6518