Die leer-lusse aan die gordynstok is gordels van Woodheads; Simoné het gate daarin gepons en dit gehang aan hake wat teen die plafon vasgebout is. Gordynstok en deken van MRP Home; glasflesse en koperplanthouer van La Grange Interiors; mandjie van Weylandts

Foto’s Karl Rogers Stilering Marian van Wyk

Simoné Visagie-Davids het nog altyd geweet sy en haar man, Anwar Davids, sal eendag óf hul eie plek bou óf ’n volledige opknap aanpak om hul perfekte gesinshuis te skep. As binne-ontwerper wat in winkels spesialiseer, is kreatiewe uitdrukking vir haar tweede natuur.

Toe sy en Anwar – mede-eienaar van Demron Chemicals, ’n maatskappy wat chemikalieë vervaardig – dus die geleentheid kry om ’n afgeleefde huis in die sjarmante buurt Zeekoevlei buite Kaapstad onder hande te neem, het hulle dit aangegryp. Hier kon hulle ’n toevlug skep vir hul twee seuns, Noah en Isah. “Dis ’n stil buurt naby ’n voëlreservaat – ons het heeljaar die mooiste wilde troeteldiere!” sê Simoné.

Rou grys sementpleister is teen die mure gebruik en ’n wit afvlaklaag op die vloere; laasgenoemde is met a.b.e. Construction Chemicals se waterbasis-epoksiverf verseël. Die muurhorlosie is swart geverf – die paartjie wil belangrike tye soos slaaptyd daarop aandui sodat Noah die tyd kan leer lees.

Dié hoekie in die sitkamer is Simoné se studeerkamer. Hier word ’n vintage-tikmasjien van ’n oorlede gesinsvriend trots op die lessenaar uitgestal. Simoné tik soms briewe aan haar kinders, wat sy op hul 21ste verjaardag vir hulle wil gee. Studio W-kussing van Woolworths Hanglampe van Weylandts

“Ons het ’n rooster met kunsplante wat in ’n winkeluitstalling gebruik is en op pad ashoop toe was, gekoop en ’n groen muur in ons huis daarmee geskep. Dit gee soveel kleur en karakter,” sê Simoné. Hulle het ook ’n draadrooster uit ’n kantoorruime gered en vir ’n fotomuur ingespan.

Ontwerp en uitleg

Luister jy so na hul verhaal, en hoe die huis hulle s’n geword het, voel dit asof alles vooraf so bestem was. “My swaer woon aan die oorkant van die pad,” verduidelik Simoné. “Wanneer ons kom kuier het, het ons gehou van die gemeenskaps-gevoel in die buurt en van die gelag en vrolike atmosfeer wat ons kon aanvoel uit die huis wat nou ons s’n is. Ons het baie geheg daaraan geraak, maar toe was dit net ’n droom.” Die huis het nuwe eienaars gekry en begin verval nadat huurders tydelik daar ingetrek het.

Simoné en Anwar het besluit om ’n kans te waag met ’n aanbod, al was die eiendom nie in die mark nie. Die eienaar het hulle toestemming gegee om te gaan kyk, en toe hulle die huis van binne sien, het hulle geweet dat, ondanks ’n klomp klein vertrekke, hulle dit in iets besonders sou kon omskep. En, soos hulle sê, die res is geskiedenis. Die paartjie hou van die rou teksture van hout en beton, en wou ’n rustige monotoon palet binne skep. Dit, tesame met hul liefde vir oop ruimtes, het die toon aangegee vir die ontwerp en uitleg van hul nuwe huis. Met ’n uitbundige driejarige seuntjie in die huis word losgoed tot ’n minimum beperk en die oopplan-ruimtes bevorder vrye beweging.

“Noah hou daarvan om rond te hardloop en die huis as resiesbaan te gebruik terwyl ons op die bank ontspan met ’n fliek of koppie koffie,” sê Simoné.

Simoné het haar pa, André Visagie, gevra om die kombuiskaste van C-graad-kiaat te bou. Die natuurlike grein van dié hout skakel pragtig in by die huis se kleurpalet. Die blaaie is van duursame I Stone, wat soortgelyk aan Caesarstone is. “Hier speel ons met klei, kook, bak en maak sjokoladehappies,” sê Simoné. Werkblaaie van Yammie and Sons

V&A met Simoné

Wat is jou ontwerp-filosofie?

’n Monochroom palet is tydloos en minimalisties met skoon, sterk lyne, wat dit maklik maak om dekor af te wissel. Ek is mal oor oop ruimtes met ’n gemaklike vloei, asook ’n sagte, gelaagde voorkoms en warm teksture. Julle woon graag veilings by.

Het jy enige raad?

Gaan altyd na ’n veiling met ’n begroting en hou daarby. Loer voor die tyd na die webtuiste en identifiseer watter stukke jy wil hê – en moenie dat ander items jou aandag aftrek nie. Moet ook nie emosioneel raak tydens die bie-proses nie; ek en my man werk saam as ’n span. Staan sterk met jou begroting; die doel van ’n veiling is om ’n winskoop te kry, nie om al jou geld te blaas nie.

Dit wil gedoen wees!

Die hart van dié warm, gesellige huis is die kombuis, Simoné se gunstelingvertrek. Die paartjie se duurste aankope – gehalte-toebehore en kaste met kiaatdeure en klipblaaie – rond die ruimte af. “Gelukkig is my pa ’n hoogs ervare skrynwerker,” sê Simoné. Hy doen die wonderlikste werk; ek kon niemand beter gevra het om hierdie meesterstuk vir ons te bou nie.”

Al is die huis nog nie klaar nie, is die meeste van die opknapwerk afgehandel. Maar dit het sy uitdagings gehad; Simoné en Anwar moes die projek met hul veeleisende beroepe balanseer. “Ons het die projek ná ure en oor naweke bestuur,” sê Simoné. “Ek het vir die bouers aanwysings met bordkryt teen die mure geskryf. Wanneer hulle klaar was, het hulle ’n streep daardeur getrek en dan het ek dit uitgevee voor ek die volgende aanwysings skryf. Dié manier van kommunikeer het goed gewerk.”

Maar moenie dink dié innoverende paartjie het net werk uitgedeel nie! “Ons het ook ingespring en heelwat van die werk self gedoen om ons begroting te rek,” sê Anwar. Hulle het onder meer mure uitgekap en vloere gegooi – en met die hulp van Simoné se oom Isgak Kamaldien, ’n gekwalifiseerde loodgieter, het hulle selfs vir hul eie loodgieterswerk kans gesien! “Op die ou end het dit ons huis net soveel meer spesiaal gemaak.”

Simoné sê die projek waarop hulle die trotsste is, is die slaapkamervloere. Die houtblokkies kom uit ’n ander deel van die huis en hulle het nog op Gumtree gekoop. Anwar het die blokkies opgeknap en Simoné het dit gelê – al was sy toe vyf maande swanger! Die warm gevoel van die houtvloer dra in ’n groot mate by tot die knus atmosfeer in albei kamers.

Simoné het die volgende raad: “Wanneer jy ’n hele huis opknap, installeer jou veiligheidstelsel eerste om enige voltooide werk te beskerm; diewe is altyd op die uitkyk vir loodgieterspype, elektriese kabels of swembadpompe.” Oor een ding stem Simoné en Anwar saam: “Die beste deel van ons huis is dat dit nou óns s’n is – ons het baie liefde en swoeg en sweet hierin gestort om dit spesiaal te maak. Nie al die opknapwerk is klaar nie, maar ons het dit gemaklik en knus gemaak. Dis waar ons gelukkig is.”

Beste kopies en topwenke

Simoné en Anwar deel hul raad:

• Hofmeyr-Mills Auctioneers in Wynberg het ’n goeie keuse van antieke en tweedehandse meubels wat Simoné spotgoedkoop kry; sy druk dan haar eie stempel af sodat dit by hul monochroom palet inskakel. So het hulle ’n buffet vir R600 gekoop en dit mooigemaak met verf.

• Nog ’n wenner is die Facebook-groep Moving On, wat Simoné beskryf as ’n “skattejag vir grootmense”. Hul TV-kas was byvoorbeeld ’n skoenrak wat hulle vir R20 gekoop het.

• Parisienne Interiors is Simoné se voorkeurverskaffer van sagte meublement en houtwerk, en het die koffietafel spesiaal vir die paartjie gemaak; die winkel lewer ook af.

• Die badkamertoebehore kom van Natural Stone Warehouse, wat elke jaar (Oktober/November) ’n groot uitverkoping hou.

• Die kombuistoestelle is by Tafelberg Furnishers gekoop. Anwar en Simoné het ’n goeie afslag beding en die winkel was bereid om dit te hou tot hulle gereed was om dit te installeer.

• Raak elke ses maande ontslae van wat jy nie nodig het nie!

• Die eenvoudigste ding kan ’n gevoel van weelde skep – soos vars tuinblomme in ’n ou bottel. Dis ’n eenvoudige, persoonlike element met besonderse sjarme.

Aan die werk ...

Dit het ses sterk manne gekos om ’n stutbalk van beton in te sit sodat hulle ’n opening van 6 m in wat nou die oopplan-kombuis-en-leefarea is, kon bewerkstellig.

Anwar het ’n hamerboor gebruik om dié muur uit te kap; dit het die ruimte tussen die sitkamer en die slaapkamer oopgemaak en ’n sit-studeerkamer geskep.

Simoné het ’n muurskildery met ’n diertema geverf om Noah die alfabet te help leer, met name soos Lana Llama en Hilary Hedgehog. Kombers van Weylandts

Die mure in Noah se kamer is tot heuphoogte met swartbordverf geverf sodat hy na hartelus daarop kan teken.

Ou dromme van Anwar se werk bied nou pakplek vir speelgoed. Simoné se pa het Noah se essenhout-bedraam gemaak; dis afgewit om in te skakel by die monotoon palet. Die eindresultaat is ’n kindervriendelike, speelse kamer in ’n andersins taamlik “volwasse” huis.

Drie ou sluitkaste wat hulle op uitverkoping by ’n plaaslike skool gekry het, is gespuitverf om by die ander meubels te pas; dis nou Noah se klerekas.

Houtblokkies uit die kombuis is hergebruik op die hoofslaapkamer se vloer. Vir visuele trefkrag sluit dit skuins aan by die afgevlakte vloer. Vilt-strooikussing van Weylandts; roesrooi deken van Woolworths; vaas van La Grange Interiors

Die kas, ’n familie-erfstuk, is swart gebeits vir ’n vars voorkoms. “Dit was so ’n vreemde rooi, wat nie by ons dekor sou pas nie,” sê Simoné.

Totaal: R150 000

Strukturele werk (mure uitbreek, vloere opkap en afvlak, vensters vervang, swembad herstel, badkamertoebehore, ens.) 80 000

Kombuis (klipblaaie, kiaatdeure) 30 000

Allerlei (wasbakkas, handdoekreling, lugreëlaar, ens.) 40 000 

Die stylvolle gastebadkamer eggo die palet in die res van die huis.

In die hoofslaapkamer se en suite is die mure met waterbestande dakverf afgewerk. Nie net skep dit ’n kontemporêre voorkoms nie, dis ook ’n geldslim alternatief vir teëls. Simoné het aangeklop by kennisse wat sy deur haar werk ontmoet het vir unieke, moderne toebehore en ligte. Met die hulp van Simoné se oom het Anwar die loodgieterswerk self aangepak; dit het hulle baie geld gespaar! Goiingmat van MRP Home; handdoek van Weylandts


VERSKAFFERS EN KONTAKTE

a.b.e. Construction Chemicals 0860 223 773

Gumtree

Hofmeyr-Mills Auctioneers 021 761 1803

La Grange Interiors 021 447 3508

MRP Home 0800 212 535

Natural Stone Warehouse 021 556 0202

Parisienne Interiors 021 692 2575

Tafelberg Furnishers 021 944 3330

Weylandts 0860 103 400

Woodheads 021 461 7185

Woolworths 0860 022 002

Yammie and Sons 083 357 9359