Foto’s Francois Oberholster l Produksie Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Albert van Niekerk en sy hond, Benji

WAAR Die plaas Varsfontein tussen Caledon en Greyton in die Wes-Kaap 

GROOTTE 95 m²

Albert en sy vriendin Anmar saam met Benji op die voorstoep van die kothuis wat hulle gerestoureer het. Die wit verf buite-om is opgeknap en die  houtvensterrame en deure, wat voorheen bottelgroen was, gemoderniseer met ’n houtskoolkleurige verf van Prominent Paints. 

Voor

Albert, wat 'n liefde vir ou meubels het, het die sitkamerstel jare lank eenkant gehou voor dit 'n ereplek in die kothuis kon inneem. Die kelim is gekoop op 'n vakansie in Turkye en die gehekelde strooikussings is sy ma se handewerk.

Albert van Niekerk, ’n wynmaker wat in die Overberg-streek grootgeword het, se familie boer al ses geslagte lank in dié omgewing. Sowat 60 jaar gelede het sy oupa ’n buurplaas gekoop waar daar ’n skuur en twee huise op die werf was. Die oudste huis dateer uit die 1880’s; die ander een is in die 1920’s hoër op teen die heuwel gebou. Albei is vir ’n kort ruk verhuur voordat dit in onbruik verval het. 

Tog het die werf nog altyd sentimentele waarde vir die Van Niekerks ingehou. “Van kleins af het al ons ooms, tannies, niggies en nefies saam met my ouma en oupa hier piekniek gehou onder die akkerbome,” verduidelik Albert. Later het hy gereeld saam met universiteitsvriende by die ouer huis gaan braai, en is dit grappenderwys “die spookhuis” gedoop. 

Dit was nog altyd Albert se droom om die huis reg te maak, maar dit het nie finansiële sin gemaak nie. Toe hy in 2018 werk kry in die omgewing, het hy begin uitkyk vir huurhuise. “Die enigste opsies was in Hermanus of Onrus – teen ’n taamlik stewige prys,” sê hy. “Maar toe besef ek dis die perfekte geleentheid om die ‘spookhuis’ te herstel.”

’n Sakpas-oplossing

Albert het die regrukprojek toevertrou aan J.M. Crous Bouers, ’n plaaslike onderneming wat al jare lank enige bouwerk op die Van Niekerks se plaas behartig. Ondanks die huis se bouvallige voorkoms was sy sinkdak, dakstruktuur, binnedeure en mure stewig en in ’n goeie toestand. Dit sou met minimale veranderinge, ’n bietjie opknapwerk en verf vernuwe kon word. Albert het ook besluit om die binnemuur tussen die sitkamer en kombuis te laat uitbreek en sodoende ’n groter oopplan-leefarea te skep.

 Ongelukkig het 60 jaar se verweer die oorspronklike plankvloere onredbaar gemaak. “Eenvoudige sementvloere was ’n goedkoop oplossing, en dit koel die huis heerlik af gedurende die warm Overbergse somer,” sê hy. 

Al wat aangebou is, is ’n stoep by die kombuisdeur. Vandag is die eindresultaat baie na aan hoe die huis in sy oorspronklike vorm moes gelyk het. “My begroting was maar knap en daarom was my fokus om die huis leefbaar te kry. Ek dink dis juis wat my op die ou end gedwing het om dit so outentiek moontlik te hou. Groot veranderinge sou te veel kos.”

Nadat die binnedeure nuwe glas gekry het, het Albert ’n loodglas-effek geskep met ’n spesiale tint wat hy by PNA gekoop het. Die vertoonkabinet is ’n erfstuk.

Werkbanke van Buco dien as kombuistoonbanke; ’n gat is in een gesny om die dubbelwasbak in te versink. 

Een van die min veranderinge aan die oorspronklike vloerplan is ’n sonstoep by die kombuisdeur.

Meubels en dekor

Eie aan die styl van die huis het Albert dit gevul met ’n kombinasie van retro- en antieke meubelstukke wat hy met verloop van tyd aangekoop of geërf het.

 “Ek was nog altyd aangetrokke tot ou meubels. Baie van die stukke het ek maar so oor die jare versamel en omtrent elkeen het ’n storie,” vertel hy. Só het die vertoonkabinet destyds in sy oupa se spreek-kamer gestaan met mediese toerusting daarin. Met sy aftrede wou niemand die kas hê nie; Albert het dit gebêre totdat hy ’n plek daarvoor kon vind. 

Die mosterdgeel sitkamerstel uit die middel van die vorige eeu is ook deur die familie opsygeskuif, maar hy het sy oog daarop gehad. “Dit was vir jare in ’n plaasskuur onder ’n dik laag stof, maar ek kon dit verfris deur die stoffering te was en die hout so ’n bietjie te olie.”

Gelukkig het Albert hulp gehad met die inrig en versiering van die huis. Sy vriendin, Anmar Sprong, wat ook ’n wynmaker in die omgewing is, het hard saam met hom gewerk gedurende al die fases van die restourasie. Tussen Anmar en Albert se ma, Elsabé, is die fynere detail uitgewerk. “Baie van die goed wat hulle ingedra het, het ek weer skelm uitgedra as dit ’n bietjie te vol geraak het na my sin!”

Oor die tyd, moeite en geld wat Albert in die projek belê het, is hy nie ’n oomblik spyt nie. “Die huis en werf vorm ’n groot deel van ons familiegeskiedenis. Dit sou ’n onreg wees om dit heeltemal te laat vergaan. Om dit te kon herstel, eerder as te sloop, was nie net vir my baie belangrik nie, maar ook vir die res van die familie wat net soveel sentimentele waarde daaraan heg soos ek.”  

Die kas in die hoofslaapkamer is ’n tweedehandse vonds van Facebook Marketplace. Ou koffers van ’n tweedehandswinkel gee die kamer ’n outentieke gevoel.Strooikussings van Skinny laMinx

Ware innovasie

In die 140 jaar van sy bestaan was daar nog nooit elektrisiteit in die huis nie. Die perseel is afgeleë en kon daarom ook nie met ’n bestaande water- of kragnetwerk verbind word nie. Albert maak dus staat op ’n natuurgebonde stelsel. 

Badkamerwater word met behulp van ’n windpomp gepomp uit een van die fonteine op die werf. Maar omdat die fonteinwater brak is, word reënwater in ’n tenk opgevang vir drink en gebruik in die kombuis. “Die huis is aan die voet van ’n steil heuwel, so danksy swaartekrag het ons geen pompe nodig nie,” verduidelik hy.

Vir elektrisiteit het Cedar Solar die kothuis toegerus met 10 sonpanele wat 5 kW se elektrisiteit kan opwek, ’n omskakelaar en litiumbattery. “Dit was vir ons almal ’n baie groot oomblik toe ons die eerste keer ligte kon aanskakel!” lag Albert. 

Alhoewel klein, genereer die stelsel meer as genoeg elektrisiteit vir die huis. Verder maak Albert staat op gas vir kos maak en waterverhitting. “’n Mens moet ook maar leer om aanpassings in jou daaglikse lewe te maak, soos om ligte af te skakel of liewer water op die stoof as in ’n elektriese ketel te kook,” sê hy.  

’n René Magritte-afdruk skep kontras met die antieke meubels in die gastekamer. Geel kussing van Skinny laMinx; botaniese kussings van Mr Price Home; handdoek van Mungo Design

Die badkamer is gemoderniseer met ’n swart-en-wit-teëlkombinasie van CTM.

Die huis is aan die voet van ’n steil heuwel geleë. Water uit die opgaartenke by die boonste huis vloei dus maklik ondertoe met swaartekrag, en geen pompe is nodig nie.

Totaal: R214 620
Gruis, bakstene, sement 12 108                      
Lateie, plastiekseëlaar 3 225
Houtwerk 2 716
Verf en materiaal 5 802 
Teëls 8 352
Geiser 3 300
Deure en vensters 6 117
Elektriese bedrading 800
Sonkragstelsel 90 000
Elektrisiën 6 403
Loodgieterswerk 8 197
Ligte 3 300
Ekstras 12 000
Boukontrakteur 52 300

Albert se wenke as jy sonkrag en reënwater gebruik

• Handel aktiwiteite wat baie krag vereis (byvoorbeeld wasgoed was) voor 12:00 af sodat die batterye in die namiddag ten volle kan herlaai.

• Hou gekookte water warm in ’n termosfles sodat jy nie die ketel onnodig gebruik nie.

• Belê in individuele sonkrag-buiteligte om die lading op die stelsel te verminder.

• Benut alle moontlike dakoppervlakke om reënwater op te vang. 

VERSKAFFERS

Buco 021 927 5000

Cedar Solar 011 794 4664

CTM 010 003 9987 

J.M. Crous Bouers 083 310 2339

Mr Price Home 0800 212 535

Mungo Design 021 201 2374, 044 533 1395

PNA 011 672 4391

Plascon 0860 20 40 60 

Prominent Paints 0861 77 66 46

Skinny laMinx 021 424 6290