Ons eerste besoek was op 7 Junie, die dag toe die Tuinroete deur ’n rampspoedige brand getref is. Ek en ons fotograaf, Francois, moes stormsterk winde van tot 97 km/h en swart en rooi rookwolke trotseer terwyl ons die Brinks se pragtige huis afgeneem het. Aanvanklik het ons nie die omvang van die ramp besef nie – later sou ons hoor die brand het op die ou end deur 19 800 ha gewoed, sowat 1 200 huise verwoes en plantasies van 12 900 ha in die Eden-distrik uitgewis. Ses mense het omgekom.

Teen 15:00 daardie dag was ons vasgekeer op Knysna sonder ons bagasie; dié was nog by ons gastehuis op Sedgefield. Terselfdertyd – en regdeur die nag – moes Andries vreesbevange pasiënte troos en die hospitaal ontruim, en die hele proses herhaal toe hul tydelike vesting ook in gevaar kom. Jayne, Ben en die honde moes ook daardie nag hul pragtige huis ontruim (dit staan darem nog!) en die nag in hul kar deurbring.

Met ons tweede besoek het Jayne vertel: “Toe Andries laat weet die wind het gedraai en ek moet my regmaak om pad te gee, het ek geweet ek is beperk tot wat in my kar sal pas.”

Met klere, kos, water, Andries se fotografiese toerusting en hul rekenaars se hardeskywe ingepak, was Jayne deeglik bewus van hoe min enige wêreldsgoed beteken wanneer so ’n ramp jou in die gesig staar.

“Al huisgoed wat ek ingepak het, was ’n voëlboek in ’n leeromhulsel wat Andries by sy ouma gekry het, ’n boek met Polaroids van ons troue en ons William Kentridge-kunswerk wat ’n trougeskenk was. Ek onthou hoe ek gedink het ons aardse besittings beteken eintlik niks nie, en een of twee goed is niks werd sonder die res nie.”

Jayne, Ben en die honde het die nag by haar vriendin en sakevennoot Gina se huis op Leisure Isle, een van ’n paar veilige plekke, deurgebring. “Gina en haar man, Francois, het sowat 20 mense en ’n mengelmoes diere onderdak gegee, en hul hoofslaapkamer afgestaan vir Ben, wat taamlik ontsteld was. Ek het die nag met my honde in die kar deurgebring, want hulle het vreeslik getjank as ek hulle alleen los. Die selfoon-ontvangs was onbetroubaar, maar uit die brokkies inligting wat ons ontvang het, was ek oortuig ek is my huis en besighede kwyt.”

Terug in Kaapstad het die Tuis-span, wat dit net betyds uit Knysna gemaak het voor die N2 gesluit is, dié briefie ontvang wat Jayne te midde van die chaos geskryf het: Ek is so bly julle kon sonder ’n groot gesukkel wegkom. Wat ’n verskriklike tyd op Knysna! Ek was oortuig dat ons niks sou oorhê nie, maar ons is so gelukkig. Ons het nou ’n huis vol hawelose vriende en meer diere as wat ons kan tel. Dankie dat julle gekom het; hoop jul huise het die kwaai Kaapse storm vrygespring. Baie liefde uit ’n verwoeste Knysna.

Eers later het ons besef: Tussen die gejaag om weg te kom en ander slaapplek te kry, het iets skeefgeloop – al die foto’s is op ’n manier uitgewis ...

Agterna beskou, onthou die Tuis-span die vrygewigheid en vriendelikheid van soveel inwoners, soos Jayne en Gina, wat Madam Botany in ’n tydelike liefdadigheidswinkel vir die slagoffers omskep het, en die eienaars van ons gastehuis, Pelican Lodge op Sedgefield, wat potte vol kos gekook het vir die talle ontheemdes.

Toe die concierge by die hotel na Marian se bagasie vra, het sy hom haar nood-kopies vir die nag gewys!