Lê ek mos vroemôre al wakker, besig om ’n brief aan my buurman oor sy honde-lawaai te komponeer. Ek skryf nog niks, ek bedink dit nog, sommerso vanuit die moordkuil in my hart.

Die aanhef, lê ek en wroeg, is al klaar moeilik.

Begin jy met “liewe buurman”? Te gesellig, dalk. Of gebruik jy sy naam? “Beste Pikkie”? Nee, heng, klink soos die wyksraadslid se fondsinsamelingsbrief.

“Beste meneer Koekemoer”?

Dalk ’n tikkie te formeel. Jy wil jou toonaard liewer gemoedelik, dog ietwat saaklik, hou. “Beste Buurman”, dus.

Nou vir die res. Jy weet wat jy éintlik wil sê, maar die goue reël is: Hou dit beskaafd. Vertel vir hom sy honde blaf. Bietjie baie, mag jy dalk byvoeg. Hou dit netjies, onthou. Want jy praat mos maar eintlik namens die hele buurt. Niemand het die moed om vir Pikkie trompop te loop oor sy brakke se geraas nie.

Dus komponeer jy op jou eentjie ’n gemeenskaplike brief.

Jy meld niks van jou persoonlike ellende nie. Hoe jy smoors swetsend wakker word nie, byvoorbeeld. Sommer vroeg al. Die son is nog skaars ’n belofte van die nag, dan lê jy al tandeknersend daar met ’n driesyferbloeddruk. En jy sê ook niks oor jou wanhoopseksperimente met oorpluisies nie – soos daardie aaklige wasbolle wat voel of iemand twee winterduvets in jou ore geprop het. Of van jou geheime weerwraakgedagtes – oor hoe jy ou Pikkie se foonnommer in die koerant se snuffelgids by die “Seksie Genotpoppies” wil adverteer – nie.

Jy bly stil oor die ergernis van jou foon wat jy al twee keer moes dorp toe vat vir herinstellings en opskroewery en die ure se tydmors wat dit jou kos.

Laasgenoemde het alles begin met die app om te leer mediteer en kalmeer. Dit heet iets soos Mind over matter en kos ’n hele paar Amerikaanse dollars. Vroegoggend, sodra die honde op dreef kom, tas ek op die bedkassie rond vir die foon. Daai app moet nou sy ding doen.

Maar ek vergeet: Dis mos ’n nuwe foon en hy’s bitter fênsie.

Ontgrendel met gelaatsherkenning, oftewel face recognition.

Behalwe as dit donker is. Dan weier hy volstrek, want hy kan jou bakkies nie “sien” nie en jy moet maar die ou PIN-metode gebruik.

Maar nou’t die nuwe foon ook ’n nuwe PIN en my slaap-dom brein sukkel. Met die derde probeerslag maak hy so ’n onheilspellende tjoeps-geluid en sit homself af. Permanent. En ek voel sommer hoe my bloeddruk boontoe skiet.

Langsaan gaan die twee geraasmonsters uitbundig die dag tegemoet.

Die helfte van die lawaai is natuurlik my eie skuld. Aanvanklik was daar net een hond, sien? Wagter. ’n Skattige herdershondjie – die ene stert en ore. Ougat.

Maar namate Wagter groter geword het, het sy sjarmes verdwyn. Hy’t ontpop in ’n senuweewrak wat vir elke beweging in die straat histeries alarm maak. Een middag loop ek vir baas Pikkie raak en besluit ek gaan iets sê. Maar, lafaard wat ek is, kom dit beleefd-skeef uit. Ek sê Wagter klink vir my baie eensaam, oor hy immer so troosteloos blaf.

En woeps! is daar skielik twéé blawwers. En hulle is léwendig, jong. En paraat. Hou neuroties wag tot saans wie-weet en smoors jaag hulle die voëls uit die vere.

Ek skryf verwoed aan die brief ... in my kop. Ek vertel hoe ek migraine kry, hoe die hele buurt kla en ek dreig met aankla vir rusverstoring. Die brief verlaat natuurlik nooit my kop nie.

Maar sawens, as die honde my wakker hou, kry ek tóg so ’n klein stukkie wraak in. Ek speel daardie bulderende orrelkonsert van Bach, die Toccata en Fuga in D. Ek draai die klank behoorlik oop – gooi alle deure en vensters wyd en hoop dat buurman

Pikkie ’n bietjie van sy eie medisyne smaak.

Soms looi ek aspris ’n donderende Wagner-opera by. Kry vir jou, Pikkie Koekemoer!

Smoors lê ek weer vroom en skryf aan daai brief in my kop ...

Tot gister, toe hier ’n anonieme brief opdaag. Dit dreig om my “namens die hele buurt” te gaan aankla vir rusverstoring. Ek ontstig kwansuis mens en dier met my “onuitstaanbare” musieklawaai. Bach onuitstaanbaar, en ék ontstigtelik?

Barbare, wil ek uitroep. Maar ek bedink my. Dalk is daar net een barbaar hier ter sprake, ou Pikkie self, wat skynbaar te “ordentlik” is om my direk oor Bach aan te spreek. Lafbek.

Net vanaand begin ek ’n nuwe brief ...