Nou een nag kon ek sweerlik aan geen goeie rede vir hul bestaan dink nie. Ná die soveelste probeerslag om die zzzzzzirrende bloedsuier met ’n woeste veeg deur die lug te verdryf, klap ek myself raak. Nugter wakker. Dis 03:17.

Ek google ergerlik: “Mosquito purpose”. Ek is klaarblyklik nie die eerste mens wat hieroor wonder nie, want die algemene konsensus is (onder die nie wetenskaplikes, in elk geval): Die mensdom sal beter daaraan toe wees as muskiete bloot oornag verdwyn. Hulle is ’n bietjie soos ’n mens se mangels en blindederm, eintlik oorbodig.

Visse, paddas en ander waterdiere sal wel ly sou die wêreld se muskietbevolking in gedrang kom, want vir hulle is muskiete kos. En soos een wetenskaplike sê: Muskiete maak meer muskiete, en so voer hulle die waterdiere. (Kan ons nie maar ’n insameling begin vir visvlokkies in potjies en die waterdiere voer nie? Dit sal my immers nie snags wakker hou nie ... )

In die Kaap voel dit vir my ons het vanjaar meer muskiete as gewoonlik. Ek is eintlik nie verbaas nie. Oral in voortuine en agterplase staan emmers en dromme en tenks met water. Want ons ly aan waterangs, en as dit ’n paar druppels reën, is dit behoorlik ’n geskarrel om elke hol ding uitgepak te kry. Ek het al maande nie meer ’n vullisdrom onder my kombuis-toonbank nie; hy staan buite vol reënwater onder die afgesaagde geut.

En so, in dié staande water, was daar hierdie jaar ’n bevolkingsontploffing van klein zoemertjies (kan mens jou verstout en ná die presidentswisseling maar sê “Zumartjies”?) – meer muskiete as wat daar druppels reën uit die hemele geval het.

Die durende droogte laat ons hier in die Tuis-kantoor toe met ’n effense dilemma. Dis ons badkamer-uitgawe dié. Maar ’n badkamer is vir baie van ons g’n “happy place” nie. Van die Kaap tot doer anderkant PE en diep in die Karoo en Noord-Kaap is dit waar ons deesdae uit ’n skottel was en morsig toilet spoel met ’n emmer.

Maar ’n huis het ’n badkamer, en ’n badkamer moet mooi én prakties wees, daarom dat ons met hierdie uitgawe ’n effens ander aanslag gevolg het met die badkamer-artikel: kreatiewe oplossings uit lesers se huise wat jy maklik in jou eie plek kan na-aap. Van die slim aanbouing by ’n 100 jaar oue huis op Robertson tot vensterrame wat die stort afskort in Houtbaai. En ek hou darem van daardie rooi voordeur – kompleet met sy posgleuf. Ek wonder of mens ’n toiletrol daardeur sal kan pos vir iemand in nood? Dalk as jy dit deurvoer dat die benoude een daar binne maar afrol so veel hy of sy nodig het?

Ons kon ook nie aandag gee aan badkamers sonder dat ons kyk na gryswater-installasies nie, en hoe ’n mens eerder dié water in jou toilet moet gebruik as skoon drinkwater. Selfs wanneer die damme weer vol is. Ek hoop die storie prikkel jou en dat jy so ’n omskakeling op jou lysie gaan sit vir wanneer jou skip inkom. Ek gaan beslis.

Lekker lees, tot volgende keer!

Wicus
redakteur@tuis.co.za