’n Mens sien wonderlike goed as jy promeneer. Vir my is die snaaksste nog ’n skraal blondekopman wat ek gereeld sien draf – met sulke plat Bybel-sandale, opgebind met riempies om sy kuite. Dit lyk pynlik ongemaklik, maar op sy gesig is daar net vreugde. Dit laat my terugdink aan hoe Zola Budd in die 1980’s die wêreld stomgeslaan het as kaalvoet-kampioen oor 5 000 meter. Dalk is die salige drawwer met die plat skoene soos eendepote dalk die Zola Budd van 2021, maar hy’s bang vir duwweltjies, daarom die paar “gladiators” aan sy voete.

Eendag is daar ook ’n man in ’n paar hoë hakke by my verby teen ’n gemaklike pas wat menige loopplankmodel die kop in skaamte sal laat sak. Elke diertjie het sy plesiertjie – so lui die spreekwoord mos. 

Oor kombuise voel ek dieselfde. Hoe jy dit inrig en watter styl jy kies is soos promeneer in Seepunt. Jy kan vir dié veeldoelige ruimte sandale aantrek, óf spykerskoene – en dis eintlik net die begin. Geen wonder dan dat ons kombuis-uitgawe elke jaar so gewild is nie, want as kombuise die onderwerp is, is die menings sterk en uiteenlopend. Maar dis altyd ’n lekker, insiggewende gesprek.

’n Klassieke kombuis was nog altyd my voorkeur, soos die eerste paar wat ons wys. Maar kyk ek so na die “plaaskombuise” roer dit iets in my binneste, en dan wonder ek weer oor my eie spierwit kombuis en of ek nie ook iets meer aards moes gedoen het nie. Die twee swart kombuise is ook vir my mooi. Ons sluit dit in oor ek al meer vrae kry van lesers wat oor dié veelsydige neutrale kleur wonder. En kyk net hoe mooi is dit wanneer jy swart eenhede meng met rou hout soos in Alta Moggee se kombuis. Ek wil nog baie kombuise in my lewe oordoen, want ek het nog baie “skoene in my kas”. Solank dit gerieflik is, en ek lekker kan kook. Soos die kenner Debbie Luke in ons storie sê: funksionaliteit eerste!

Net betyds vir die langnaweke wat voorlê, en ook Moedersdag, is ’n lieflike resepteboek in vennootskap met SA Pork nou te koop. Dié een is net in Engels beskikbaar, maar as jy varkvleis eet, is dié bundel resepte ’n moet. Kry dit op die tydskrifrak in ’n winkel naby jou; as jy sukkel, stuur e-pos na redakteur@tuis.co.za.

Dis weer kompetisietyd!

• Die jaarlikse Regruk met Flair-opknapwedstryd is nou oop vir inskrywings, vanjaar met JoJo, SA se voorste verskaffer van waterstelsels, as hoofborg. As jy ’n opknap beplan, JoJo jou huis terwyl jy besig is. Skoon drinkwater uit jou eie tenks was nog nooit so maklik nie. Lees meer op bl. 117.

• Die Rookie Stylist-wedstryd in vennootskap met Mr Price Home, nou al ’n instelling op die Tuis-kalender, skop ook af in dié uitgawe. Gryp jou selfoon en maak jou Instagram-app oop, want ons wag vir die foto’s van mooi hoekies uit jou huis.

• Moet ook nie vergeet jy kan weer kombuiseenhede wen met ons Kitchen Heroes-wedstryd nie. Milestone Kitchens gee weer kaste van R50 000 weg.