Die een oor hoe dit gebeur het dat die Van Zyl-gesin ’n nuwe kombuis gekry het, is in dié stadium heel bo aan my lys van bestes wat ons nog in Tuis gepubliseer het.

Dink jou in: By die werk word jy afgelê, en uit skok en frustrasie gryp jy daardie aand ’n hamer en begin jou ou, lewensmoeë kombuis platslaan – net om van die opgekropte emosie ontslae te raak. Ek het nie al die detail nie, maar ek wens ek was ’n vlieg teen die muur daardie aand toe Sonja van Zyl tuiskom. Het iemand haar probeer keer? Gits, was enigiemand ooit by die huis, of was dit vir hulle ’n vet, stowwerige verrassing toe hulle weldra haar handewerk sien?

Die hele petalje sit ’n groot glimlag op my gesig. Dalk oor sulke alles-oorweldigende emosie tog iets is wat almal van ons ken. En elkeen reageer anders daarop. Ek onthou ’n kollega het in my jong dae by die koerant saans hier rondom negeuur wanneer die koerant “sak” – druktyd, wanneer als moet klaar – haar lippe bloedrooi ingekleur. Dit was ’n soort ritueel: hoe meer stres op daardie oomblik, die laaste minute voor die koerant moet klaar, hoe stadiger het sy haar lippe met die lipstiffie rooigemaak. Dat sy op haar beste kan lyk vir die Groot Oomblik.

In ’n tyd waarin dinge in ons land wel beter gaan as ’n jaar gelede, maar steeds nie klopdisselboom nie, is ek verras dat daar nie meer mense met nuwe kombuise (en rooi lippe) is nie. Want die ekonomie is stram, en afleggings ongelukkig steeds ’n werklikheid. As daar ’n regstreekse verband was tussen regrukprojekte en nasionale frustrasievlakke, was ons almal dalk kniediep in die bourommel en stof!

’n Nuwe kombuis is sekerlik die meeste huiseienaars se droom. Maar dis ’n groot uitgawe – tensy jy kans sien vir moue oprol en self inspring, soos die vyf egpare in ons kombuisartikel gedoen het. Vier van die kombuise was inskrywings in laas jaar se Regruk met Flair-wedstryd; ons het hulle doelbewus opsygesit vir gebruik in hierdie uitgawe. Want elkeen van hulle het wondere verrig wat hul begroting betref. As jy die sente tel, maar groot droom, hoop ek dié artikel gee vir jou al die slim randrek-idees wat jy nodig het.

En hoe lekker dat ons in dié uitgawe weer die “Milestone Heroes”-wedstryd kan aanbied. Silvia Miles, die eienaar van Milestone Kitchens, gaan net soos verlede jaar twee gelukkige lesers se kombuise herontwerp, en een nóg gelukkiger leser kry R50 000 se kombuiseenhede. Ons is laas jaar oorval deur briewe waarin lesers motiveer waarom hulle die gelukkige wenners moes wees. Hier is nou nog ’n kans. Komaan, vertel vir ons jou storie!

Wicus