Yorgos, die eienaar, het vooraf gewaarsku: “There will be noise. Maybe I find you different place.” Maar ek ken die herberg met sy uitsig oor die Egeïese see en die kerkklok van die Grieks-Ortodokse kerk links voor wat drie keer weeïg lui as iemand in die dorpie die lewe groet.

“We don’t mind noise,” sê ek vir Yorgos, en ons bevestig die bespreking.

Die herberg het ’n gemeenskaplike kombuis en soggens is dié bymekaarkomplek ’n geroesemoes van stemme en gelag. En lepels wat teen koppies en bakkies se rande klingel.

Ek praat seker drie woorde Duits, maar die klomp jongmense, almal uit Beiere, wil gesels. Ons word ge-“high five” as ons daar instap, en uitgevra oor die prutsel Griekse koffie op die stoof, en waar ons vandaan kom, en het ons lekker geslaap? En wat doen ons vandag? Een van die onderwysers probeer tussendeur vertaal, maar hy kan nie naastenby byhou nie; ek sê net “jawohl” en glimlag.

Teen die tyd dat die groep op hul daguitstappie vertrek, is die kombuis op sy kop gekeer: Halwe brode, vuil bakkies, ’n pot koffie wat staan en koud word, messegoed in die wasbak – elke ding wat uit sy plek is, deel van die storie van ’n nuwe dag.

Want vanoggend was hier mense, is hier gelééf. En is dit nie presies wat ’n kombuis in enige huis is nie? Dit raak soms rof, dikwels morsig. Dit raas, dit word stil. En uiteindelik blink die toonbanke weer en is als terug in hul kaste. Gereed vir ’n nuwe dag môre.

’n Kombuis is loshande my gunsteling-vertrek in die huis. Veral in die winter, soos nou, met geure van bredies en soppe en pannekoek wat my omvou.

Salig.

Goeie nuus!

  • Die jaarlikse Regruk met Flair-kompetisie is nou amptelik oop vir inskrywings. Ons het ’n bietjie aan dié gewilde leserwedstryd geskaaf en kondig vanjaar drie kategorieë aan – met R100 000 se pryse op die spel.
  • Dan is Tjhoko Champs, in samewerking met Tjhoko Paint, nou in volle gang. Dié kompetisie gee lesers ’n platform waar hulle met hul kreatiwiteit kan spog en dalk ’n prys wen. Gryp ’n kwas, maak ’n pot Tjhoko oop en laat waai. Stuur vir ons ’n foto, want dalk is jy ons heel eerste Tjhoko Champ!