Soos die seisoene kom en gaan. Soos Wouter dit stel: “ ’n Mens moet eers aan ’n ruimte gewoond raak voor jy veranderings aanbring; só kan jy die opknap tot in die fynste detail beplan – soos waar jy die stofsuier gaan bêre sodra die stof gaan lê het…”

En dis nie net die stofsuier nie. Dis ook die droograk vir wasgoed binne ophang as dit reën, plek vir jou boeke en (as jy nog so iets het) CD’s, wynbottels, lap-winkelsakke, en dan daardie ander onooglike “losgoed” wat altyd iewers agter ’n deur beland oor daar nêrens in ’n kas ’n plekkie daarvoor is nie. In my geval die stoepsambreel, en dan die groot irritasie sedert ek ingetrek het: die ekstralang leer.

Sien, ek het nie ’n motorhuis nie. Ek het wel ’n vloer in die dak laat insit met ’n oopvoutrap in die luik vir makliker toegang, maar ’n mens kan ook nie elke keer jou lewe waag in ’n akrobatiese dobbelspel as jy die leer nodig het nie, daarom staan hy in die studeerkamer. Vyf la-a-a-ang jare al steek daai leer soos ’n speld in my oog elke keer as ek daar instap. Maar daar was geen ander raad nie, want die leer is dikwels nodig – vir gordyne hang, verf, herstelwerk aan die lekkende dak, die hoë vensters bo die kombuis wat meer gereeld as wat mens sou dink ’n goeie was nodig het...

Te midde van die ellendige korona-krisis hou ek my oë wyd oop vir ’n silwer randjie, daarom het ek soos talle ander mense die geleentheid gebruik om my blyplek te ontrommel. Uiteindelik was daar mos nou tyd! En toe ek eendag weer daardie leer so kyk, stuur ek ’n boodskap aan Tuis se nutsman: “Deon, ek voel roekeloos. Jy moet ’n kas kom inbou. Maak nie saak wat dit kos nie, genoeg is genoeg!”

En toe begin ek droom. Alles wat rondstaan, word gemeet, en die kas geteken sodat elke ding ’n presiese gaatjie het. En als word beplan rondom die leer…

Deon se hande staan natuurlik vir niks verkeerd nie en knap ná die begin van vlak 3 is hy hier, en die kas is in. Ek het nog altyd gesê my smeulstofie is die beste ding van my hele huis, maar die afgelope maand staar ek met groot verligting en dankbaarheid na my mooi nuwe kas. Ek voel amper soos een van ons finaliste in die Gumtree-ontrommelkompetisie – dis asof ek die boerpot geslaan het!

Nou moet ek nog net plek maak vir die kelder vol wyn wat ek tydens “lockdown” bestel het. Want nooit weer sit ek droëbek oor die regering ’n omstrede besluit geneem het nie. Dalk moet ek daardie heuningkoekwynrak in Vars Idees as Kersgeskenk aan myself oorweeg?

Lekker lees, en bly warm. As jy nog nie ’n kaggel het nie, droom solank oor een van daardie mooies in dié uitgawe.

Ons kosredakteur, Johané Neilson, se Kortpadkos-resepteboek is nog op die rakke, maar dis jou laaste kans om een in die hande te kry. Meer as 200 resepte in ’n spesiale hardeband-uitgawe, met ’n gratis groenteskiller. Kyk uit daarvoor by ’n supermark naby jou; as jy dit nie kry nie, stuur ’n e-pos na redakteur@tuis.co.za.