Gelukkig is daar lafenis vir die siel in dié uitgawe van Tuis, huise waar mens net wil ontspan; bly- en kuierplekke wat ’n mens sommer moed gee vir die nuwe jaar.

Ek verbeel my ek ry van huis tot huis, met my hond, Asgat, agter in die stasiewa. By die Kommetjie-huis van ons Rookie Stylist-wenner (ons jaarlikse Instagram-wedstryd in vennootskap met MRP Home) is ek veral beïndruk met die Nortjes se buitestort, want so iets sal heel goed by my huis ook werk. Elke winter veg ek immers ’n verbete stryd teen my eie hond se hare wat in klosse van sy lyf afval. In die somer is hy netjies geskeer, maar dan is daar, soos ons nutsman DIY Deon altyd sê, “nuwe moeilikheid” – seesand oral.

Volgende stop: Pringlebaai. En kyk mooi – Anneliese Burgess se huis is eintlik klein, maar lyk groot oor sy slim ontwerp. Wys jou wat ’n slim argitek kan regkry…

Van daar sal ek Fisherhaven toe mik en op Elzanne Woeke se stoep gaan sit. En by die Gründlinghs van Grottobaai sal ek my ’n week lank wil afsonder in ’n silent retreat. Of sommer by die “gin shack” in die Hodkinsons se tuin op Greyton intrek (dis nou my soort tuin, een met ’n kuierkroegie).

Maar die heel graagste wil ek langs die vuur op die Millse se plaas in die Karoo sit, kosmaak in daardie wonderlike veldkombuis, en net kuier saam met almal wat ek in 2020 te min gesien het. Met Johané se resepte (soet aartappelslaai vir my, dankie) sal dit ’n behoorlike fees wees – onder die sterre wat vir ons nuwe hoop in 2021 bring.

Lekker lees, en geniet dié ekstra dik Tuis, ’n eenmalige bederf-uitgawe wat twee maande op die rak gaan wees. Die volgende uitgawe is 12 Februarie 2021 te koop.

Om dié vakansie nog lekkerder te maak, het ons ’n raaiselboek vir speletjies-entoesiaste saamgestel – propvol blokkiesraaisels, woordsoeke en sudoku’s. Moet ook nie vergeet van ons Opknapgids met projekte uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd nie. En dan is ’n nuwe prag-dagboek vir 2021 nou te koop – weer met lieflike tuinfoto’s, wenke, ’n kalender en meer as genoeg plek vir notas maak.