Laat dit iewers aangeteken word (’n datum waaroor mense eendag kan skinder): Die Dag Waarop Wicus Begin Eet Het.

Ek was my lewe lank nog skraal, maar iewers in September vanjaar het Die Groot Honger my beetgepak, en dit voel vir my ek het nog nooit weer ophou kou nie. Gisteroggend sommer twee oorskiet-aartappels vir ontbyt (die einste aartappels wat Justine Krige vir haar Kersmaal maak – kyk op bl. 35), want toe ek die storie lees, raak ek so lus daarvoor dat ek dadelik die aand die resep beproef. Justine is reg, dit is inderdaad “bros bo en roomsag onder”. Selfs koud die volgende oggend!

My vriendin Elna het my al by geleentheid aangepraat oor ek nie gereeld eet nie, en my ma is aldag aan die knor oor ek nie glo in ontbyt nie. Wel, al twee van hulle kan nou maar ontspan, want soos ek hier sit, het ek al twee snye toast en ’n koppie koffie gehad, pas roereier van die naaste deli bestel (met nog koffie) en sien ek met verlange uit na die botterhoender wat my vriendin Evadne netnou gaan aflewer. Ek reken die hoender gaan kraai voor die Moederstad se gebruiklike kanonskoot om 12:00.

’n Vriend wat vroeër vanjaar opgehou drink het, vertel vir almal hy het niks teen drank nie, hy het net die hele kwota vir sy lewe in sy eerste 45 jaar ingepas. Sou ek dié teorie omkeer, haal ek straks nou in op al die ontbyte (en skielik soetgoed ...) wat ek die eerste 45 jaar van my lewe misgeloop het.

Ek was heeltemal oukei met die Groot Eetlus, tot ek die naweek Ceres toe is en einste Elna hierbo se broer Johann foto’s neem van my en Asgat toe ons almal Saterdag in die berg gaan stap. Toe die foto’s Maandag in my inboks land, is dit net boep, geen berg.

Die aand begin ek google vir oefenprogramme, en dink aan my vriendin Lindi wat sê sy raak nou te oud om haar maag in te trek. Ditto. Meer inneem met die oë en minder met die mond, reken ek.

Dalk was dit ’n onderliggende teenreaksie, maar ek maak toe sommer die kos in dié uitgawe ook minder. Gewoonlik sit ons in Desember ’n paar ekstra resepte in (“want almal eet mos te veel dié tyd van die jaar”), maar vanjaar het ons die gewone getal resepte soos elke maand, hoewel steeds in die goeie ou Kerstradisie voor in die boek, as deel van die leserhuise. Kry gerus nog resepte aanlyn by netwerk24.com/tuis, en onthou ons nuusbriewe!

So gepraat van inneem met die oë: Wat ’n fees is die dekor in dié uitgawe nie. Die Kriges se huis is vir my so mooi, ek wens ons was vriende. Maar dan sou ek dalk ’n oorlas geraak het, want daar wil ek woon, kuier, eet ... Laat ek liewer net kyk.

Die Ficks se Dassiesfontein-stoep wil ek onmiddellik by my eie huis aanbou, kompleet met daardie sitbank-vensters wat so wyd kan oopskuif. In die Van Jaarsvelds se huis op Graaff-Reinet is die perfekte interpretasie van wit soos ’n meesterklas in styl. En wat ‘n wonderlike regrukprojek is die Caalsens se huis op Riebeek nie!

Geniet die uitgawe! Mag dit – én jou feestyd – vol lekker verrassings wees.

Wicus