Een soel someraand roep ’n ouerige man by my voorhek om hulp. Darem nie ’n paniekerige noodkreet nie, eerder gekwel, soos wanneer jy ’n “ligte mistykie” gemaak het. Jy weet, ’n koffiekol op jou wit hemp net voor ’n belangrike vergadering. Of een bruin, een swart sokkie aan jou voete. Of wanneer jy besef die kinders drink pons uit die grootmense se bak met die vodka...

Ek staal my vir ’n vergesogte “Kersverhaal”. Dis immers middel Desember.

“Ek het verdwaal,” begin hy halfverleë verduidelik. “Ek was op soek na ’n ou herinnering, maar ek het my misgis en dit raak nou vinnig donker. Ek het gewonder of jy my die kortste pad na my gastehuis kan beduie.”

Oor iemand my kort tevore “onnodig sinies” genoem het (ek hou vol ek is nie sinies nie, eerder skepties – daar’s ’n grootverskil) sit ek die hond se leiband aan en sê: “Wag, ek stap saam met jou. Die kortpad na jou blyplek toe is moeilik van hier, en die hond is hoeka rusteloos.”

Ek kan sy naam nie meer onthou nie, maar innig dankbaar vir my ontferming begin die man my sy storie vertel. Hy is van Australië, maar het dekades tevore sy vrou hier in Suid-Afrika ontmoet. Hy was vir haar lief. So lief dat daar woorde is wat nie gesê kan word nie, die verlange te oorweldigend vir volsinne.

Sy was toe pas oorlede, dié vrou – Doer Onder waar hulle uiteindelik ’n lewe gaan maak het ná jare in Kaapstad. Dis daar waar die kinders nou ook woon. Maar hy wou terugkom; kom kyk na hul eerste huis hier in Tamboerskloof, waar alles begin het. Hy wou weer onthou.

En toe raak hy verlore. “Ek sal môre weer probeer,” sê hy. “Die straatnaam ontgaan my, maar ek kan die huis nog voor my sien – op ’n hoek, stoep reg rondom, ’n bougainvillea wat somertyd, as die suidoos waai, pienk blomme in sirkels die hoeke injaag. My vrou het altyd ...”

Dis warm, ons stap met afgemete treë. Sy gastehuis is bo in die buurt, ek woon onder naby die Bo-Kaap. Maar ek ken die plek waar hy tuisgaan en ek volg ’n ou, bekende kronkelroete waar ek weet die hond nie vyande het nie.

Behalwe een plek, waar ek my greep aan die leiband versterk, want by dié huis is twee balhorige brakke. Meestal is hulle binne, maar soms duik hulle agter die stoepmuurtjie uit met groot fanfare, die blaftelegram trek dan tot by Duiwelspiek.

Ek waarsku my nuwe vriend; sê ons moet oorskuif na die ander kant van die pad – ek is nie lus vir die kabaal nie, en beduie na die ou huis waar ’n spookasem pienk blomme op ’n bougainvillea se stam rus.

“Maar dis die huis ...” sê hy. “Kyk, daar is die stoep, maar ’n deel is dan nou toegebou. En kyk hoe oorgroei is die tuin. En kan dit wees dat die skuifvenster steeds vassteek? Hy was al so skeef toe ons hier verkoop het. My vrou het ...”

Ons het lank bly staan voor dié huis. Die hond het naderhand ophou rem en gaan sit.

Die man het nie gepraat nie. Ek het nie uitgevra nie. Maar in dié stilte van nog ’n onvoltooide sin het ek die mooiste Kersverhaal gehoor. Net oor ek daar was, en een soel aand onverwags my hek – en hart – oopgemaak het vir ’n vreemdeling op my voorstoep.