Dis iets wat ek al dikwels in my eie lewe ervaar het. En telkens wanneer dit gebeur, hoor ek hoe my ma in die agtergrond sê “alles het ’n doel, my kind” of “die tyd sal leer”. 

Een ding is seker, veral nou: Ons het eintlik oor niks beheer nie. Nie lank terug nie was die konsensus nog dat ’n mens darem ’n vyfjaarplan vir jou lewe kan hê, maar niks langer nie – die tegnologie en die ritme van die wêreld verander so vinnig dat jy nie kan weet hoe die toekoms daarná gaan lyk nie. Deesdae, wel ... een jaar op ’n slag? Of is ons al by dag vir dag?

Hou momentum, is wat ek altyd sê. Want momentum dra jou nog ’n ent vorentoe al is jou gô dalk al uit.

In dié uitgawe was daar twee verrassings: Eers kry ek die storie oor die Russells se kontemporêre Parkhurst-huis, stylvol en innoverend opgeknap deur ’n projekspan waarvan Stacey Russell ’n vennoot is. Dis hul eie huis, waar sy en haar man, Aaron, woon. Later beland die mooie huis in Drieankerbaai op my tafel, met dieselfde slim glas-elemente wat my so beïndruk het in die eerste huis. En kan jy glo, dis toe sowaar ook ’n projek van Stacey-hulle! Om al twee dié projekte in een uitgawe te wys was glad nie ons plan nie, dis blote toeval – maar wat ’n lekkerte is dit nie! 

Die ander verrassing sien ek op sperdag, toe ons aan die voorblad werk, op die rug van die tydskrif: uitgawe nommer 200 van Tuis (Home trek nou by nommer 190, want die Engelse uitgawe het eers bietjie later die lig gesien). “Ons moet dit vier!” sê Johletta, ons Afrikaanse teksredakteur. Ek stem heelhartig saam. As ’n mens in hierdie tye staande bly, al gaan dit soms swaar, moet jy dit sowaar vier. 

Ons 200ste uitgawe is gepak met lekker leesstof vir jou, en dié versekering kan ek jou gee: Aan momentum is daar aan ons kant geen tekort nie. Soos jy weet het ons tans heelparty spesiale uitgawes op die rak (sien onder), en dis maar net die begin. Daar is dalk nou net agt uitgawes van die hooftydskrif in die jaar, maar ons gaan dubbel en dwars daarvoor opmaak met ander projekte. 

Die Mr Price Home-dekorskool laas jaar was een so ’n projek. Sodra ons weet dis veilig, maak ons weer so. Kyk solank watter lekkerte dit als behels sodat jy jou plek kan bespreek sodra ons die datum aankondig. En as jy die afgelope jaar (soos ek) soveel tyd tuis deurgebring het dat enige klein foutjie vir jou ’n yslike steen des aanstoots geraak het en die uiteinde nóg ’n opknapprojek was, onthou  inskrywings vir Regruk met Flair maak ook binnekort oop.

Beste wense van my en die span. Hier gaat ons met 2021 – hou vas!

Ons raaiselboek vir speletjies-entoesiaste – propvol blokkiesraaisels, woordsoeke en sudoku’s – is steeds op die rak. Moet ook nie vergeet van die Opknapgids met projekte uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd nie. En dan is daar natuurlik die prag-dagboek vir 2021 – weer met lieflike tuinfoto’s, wenke, maandkalenders en meer as genoeg plek vir jou eie aantekeninge.