My ma vertel een van die eerste goed wat ek as peuter kwytgeraak het, is “ekke self”.

There’s it, soos Suzelle DIY sê.

Daar is ook ’n skoot eiesinnigheid, natuurlik. En dis ook geneties.

Anderdag, toe ons my pa se suster begrawe, kondig die predikant aan die einde van die roudiens aan: “En nou nooi ons almal vir tee en verversings in die ...” Maar voor hy sy sin kan klaarmaak, spring my niggie uit haar stoel, in haar hand ’n nota in haar ma se handskrif. “G’n niks koek en tee nie, dominee, my ma sê so,” kondig sy aan. En dit was dit.

Iedergeval. Om haastig te wees en dinge so vinnig moontlik te wil afhandel, het natuurlik sy voordele. Maar ai, wanneer haastig óórhaastig raak, kan dit gevaarlik wees. Soos toe ek dadelik ’n begeerlike rooi metaallaaikas op ’n uitverkoping gekoop het, al was dit steeds gans te duur. En die ou biblioteekkassie wat ek op ’n Facebook-koop-en-verkoopgroep raakgesien het.

Dis nie dat ek koopsiek is nie. Dis net dat wanneer ek iets sien wat ek weet reg is, ek dit dadelik wil hê. Vandag nog afgelewer.

Wat my uitbring by vanjaar se Regruk met Flair-wenners en -naaswenners. As daar nou een les is wat ek by hulle geleer het, is dit geduld. Ek dink die Afonso’s van Northcliff (Ramona en Nuno se kombuis was tweede) het dit die beste reggekry. Hulle het dinge jare vooruit gekoop vir eendag – van die hangligte tot die herwinde houtblokkies vir hul vloere. Ek weet nie of ek dit sou regkry nie. As ek daardie houtblokkies raakgeloop het, was die matte die volgende dag uit. Nie hulle nie. Ook nie die Du Plessis’s van Knysna nie.

Hoe sê hulle? Good things come to those who wait.

Maar dan lees ek weer die storie van die wenners, Justin Duckitt en Jacques Mu¨ller, en besef: As jy jou drome wil verwesenlik, moet jy gas gee. Dié twee vindingryke manne se plan om van ’n ou skuur ’n trouvenue te maak, moes binne enkele maande gebeur, want ’n bruid wag vir niemand nie. Daarom dat hul eie blyplek eers moes wag. Maar toe hulle die dag kans kry om die pakkamer langsaan in hul kothuis te omskep, was daar geen keer aan hul kreatiwiteit nie. Ook nie aan hul sakpasplanne nie (soos altyd met ons wenners). Wie sou kon raai ’n ou koekbord kan ’n venster word?

Geniet die uitgawe. En as jou vingers jeuk om vir vanjaar se kompetisie in te skryf, kry die besonderhede op bl. 38. BUCO en Timbercity is weer ons borge, en vanjaar – jaar 10 van Regruk met Flair – is die prysgeld vir die wenners ’n volle R100 000!

Lekker.

Wicus