Maar as vries ’n nasionale sport was, was ek die kaptein. Die Siya Kolisi van die vrieskas-span, want: Die halwe ui wat net te veel was vir Vrydagaand se braaibroodjies? Vrieskas toe vir die volgende bredie. Die tamaties wat begin pap raak? Vrieskas toe vir yskoue tamatiesop by die volgende somer-Sondagmaal. Ou brood? Kom, krummels! Want wie op aarde wil betaal –  met swaar verdiende geld! – vir broodkrummels?

My vrieslys ken geen perke nie. Suurlemoene vir rasper oor aartappelskywe; kerriemengsels wat nie hul skop moet verloor nie; bessies; piesangs (vir bak, natuurlik); waterblommetjies; koeksisters … als ingeprop tussen die lam, vark en beesbiltong. 

Dis natuurlik nie toevallig dat ek ’n flink vrieser is nie – dis ’n talent wat ek by my ma geërf het. Sy moes gereeld plan maak met my pa se grootmaat-aankope wat hy ná aftrede uit pure verveling op plase en markte in die omgewing gaan uitsnuffel het. Soos die keer toe hy met kratte pruimtamaties in die kattebak by die huis opgedaag het “want dit was ’n bargain, Alida, jy kan mos konfyt kook”. My ma het wel die lekkerste tamatie-blatjang daarvan gemaak met ’n resep wat ek nog eendag in Tuis gaan publiseer. Want dis ’n wenner. “Vries” se warmbloedige minnaar is sekerlik “inmaak”. 

Nou eendag ry ek en einste ma Alida iewers heen en soos altyd is haar sonbril soek. Ek kry dit weldra, maar die een lens het ’n merk op wat lyk soos ’n sneeuvlokkie op die lugreëlaar se knoppie.

“Wat gaan aan met dié bril,” vra ek. “Kan Ma ooit daardeur sien?”

“Ja,” sê sy. “Die bril was mos weg, toe pak ek nou die dag die kisvrieskas uit en kry hom tussen Grieta se droëperskes en ’n kalkoen wat jou oorlede pa nog gekoop het.” ’n Sonbril met frost bite.

Toe Johané sê sy kook uit die vrieskas in dié uitgawe, was ek in my element. En haar kosstorie gaan jou nie teleurstel nie. Selfs ek het nou nuwe trieks; die gaste kan maar kom!

Ons sluit ’n lekker pasella saam met dié uitgawe in: die mooiste botaniese afdrukke wat ons eksklusief met toestemming van Gateway Publishing in Engeland publiseer. Dit val saam met ’n uitstalling van die kunstenaar, lady Cynthia Tait [hyperlink], se werke by die Kirstenbosch Botaniese Tuin in Kaapstad. Lees als op bl. 84.

Dan span ons weer saam met die gewilde leefstylkanaal VIA (147 op DStv) vir ’n TV-reeks wat Tuis terugbring kassie toe. Ons soek na Suid-Afrika se grootste – of moet ons sê wanhopigste? – opgaarders, wie se huise ons saam met Gumtree en VIA wil ontrommel. [hyperlink]

Ons jaarlikse Opknapgids is vir oulaas te koop – tjokvol planne en oplossings vir jou eie regrukprojek. Met slim mooimaakprojekte uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd is dié gids onontbeerlik vir enigeen wat in die nuwe jaar wil begin bou en breek. Koop dit by ’n winkel naby jou, of stuur e-pos na redakteur@tuis.co.za as jy dit nie in die hande kry nie.