Want is daar iets meer irriterends as die knaende gesukkel met vreemde woorde onthou, een hoofletter (minstens) in die middel, en asseblief, ook ’n syfer of twee – én ’n asterisk of kappie? Ook nie te kort nie, hoor!

En as daardie skermpie eers opkom wat sê: “Your password strength is ‘moderate’, of – o wee – ‘weak’.”

Regklap.

Middel laas jaar steel skelms geld uit my bankrekening ná ’n suksesvolle simkaart-ruiling. Weldra kry ek die geld terug, maar nie voor die bank vir my preek oor hoe agtelosig die selfoondiensverskaffer is, en die selfoondiensverskaffer die skuld vierkant op die bank se skouers plaas nie.

En die meerderwaardige verwyt van al twee: Maar, Wicus, natuuuuuuuuuuurlik moes jy jou wagwoord vir iemand gegee het. Jy moet nou mooi gaan terugdink wanneer, en hoe dit gebeur het. So sedig, amper bejammerend: dat ek nou so dom kon wees. Ga!

Laat ek bieg – en dit het ek ook vir die forensiese ondersoekers gesê: My wagwoord wat ek in daardie stadium gebruik het, is geskep in ’n oomblik van ergerlike krapperigheid, nie die soort woordkonkoksie wat mens ooit hardop kon sê sonder om vir ewig jou rug op die hemelpoorte te draai nie. Waarom op aarde sou ek dit loop en rondvertel, of selfs neerskryf (as jy dit intik, sien jy gelukkig net sterretjies op die skerm ... ). My mond is genoeg gepeper as kind en dit net oor die woord “sjarrap”.

Iedergeval: terug by die nuwe jaar en wagwoorde. Ek wil ’n stelsel bedink waarvolgens ek sonder moeite wagwoorde kan uitryg en moeiteloos onthou. Kragdadige wagwoorde, maar almal stigtelik. Nie een wagwoord vir alles nie, maar een wagwoord-idee wat ek net effe kan aanpas vir my bank, Showmax, e-pos, Netwerk24, Facebook, Instagram, Amazon, munisipale rekening ... Dat ek nooit, ooit weer hoef te skarrel, of daai “Forgot your password?”- knoppie hoef te druk nie.

Met die vakansie op hande, is dit die enigste dinkwerk wat ek gaan doen. Die res moet wag tot die skole heropen. Dié jaar ry ek met Jan Tuisbly se karretjie, want ’n langer, middel-van-die-jaar-vakansie wag, en ek moet spaar. Maar sit op stoepe, lê in hangmatte, sonbaai op die strand – dis mos verniet!

Die vakansieplekke in dié uitgawe is pure sielerus. En wat beter kan ’n mens vra? Buffelsbaai by die see, maar ook binneland toe: Porterville, en die Bosveld. Vakansie gebeur immers nie net by die see nie, of hoe?

Hêppie-hêppie!

Wicus

Nuwe agterbladskrywer

Ons verwelkom in dié uitgawe ’n nuwe agterbladskrywer. Jare terug, toe ek nog ’n groentjie in die joernalistiek was, het my en Karin Brynard se paaie die eerste keer gekruis. Intussen het sy ontpop as ’n gerekende en bekroonde romanskrywer: misdaadrillers wat jou die bladsye gretig en angstig laat omblaai. Metterwoon het ons Facebook-vriende geword, en haar inskrywings daar was so vol deernis en humor (en anders as haar spanningsverhale) dat ek haar dadelik gevra het om oor te neem by Riana Scheepers, wat ná drie jaar van rubrieke skryf vir Tuis ’n blaaskans vat. Dankie vir als, Riana, en welkom, Karin!