Nou eendag sit ek in die geselskap van drie ouer vroue toe die onderwerp van selfone opduik. Dit het begin met my klagte oor swak ontvangs, want die sein was sleg en dan voel dit mos of jy ’n ledemaat kwyt is. Eintlik eerder etlike breinselle. Want jy besef eers hoe afhanklik jy van jou slimfoon geraak het wanneer jy nie gou-gou iets kan “google” nie, reg? Ek is oortuig die hel gaan nie vlamme hê nie, eerder ’n swak sein. Of stadige wi-fi. Wat ’n smartlike gedagte.

Midde-in die gesprek sê die een vrou met groot nadruk: Sy wil tog nooit ’n slimfoon hê nie, want haar baie ou Nokia “het klaar genoeg stasies”. Ja, wraggies. Party mense se fone klingel soos ’n dobbelmasjien. Onuitstaanbaar – en dan boonop in geselskap! 

Net meer as ’n jaar gelede het ek my foon se klank afgesit; dit was op ’n wonderlike lang reis na verre lande, die langste vakansie van my lewe. En ek het nog nooit weer die klank aangesit nie. Oukei, seker ’n stuk of 10 noodsaaklike kere, maar die res van die tyd: salige stilte. Dit was ’n wilsbesluit, want ek wou nie meer elke keer spring en my konsentrasie verbreek as ’n boodskap piep of die luitoon eggo nie. 

Dit was bevrydend. En ’n verligting – soos wanneer ’n buurman se loeiende huisalarm in die nag uiteindelik stil raak. Dis erg hoe ’n mens se foon inbreuk kan maak op jou lewe!

Ons kreatiewe redakteur, Marian, het eendag in ’n vergadering met my geraas oor ek tegelyk e-posse beantwoord, na foto’s kyk vir komende uitgawes én op iemand se WhatsApp reageer. “Dis sleg vir jou geheue; navorsing het dit bewys,” het sy my driftig vermaan. En sy is reg. Dit blyk multitasking lei hoegenaamd nie tot beter produktiwiteit nie. Eintlik kry jy minder gedoen … Google dit (as jy ’n sein het).

Dis die begin van ’n nuwe dekade en hoewel ek my nie juis aan nuwejaarsvoornemens steur nie, is een elke tien jaar seker oukei. So hier’s myne: Basta met multitasking – in 2020 doen ek een ding op ’n slag, behoorlik en met onverdeelde aandag. 

En my foon se klank bly af …

Wicus

Ons het vanjaar iets nuuts op die mark – ’n dagboek met van ons mooiste tuinfoto’s oor die jare, kompleet met ’n paar gratis tuinhandskoene daarby. Die dagboek het ’n kalender vir elke maand en meer as genoeg blaaie vir aantekeninge, sodat jy mooi en maklik kan kophou in 2020. Dis die ideale Kersgeskenk, en te kry op ’n winkelrak naby jou.

Die jaarlikse Tuis Opknap is ook steeds te koop, met projekte uit ons Regruk met Flair-wedstryd en ander inspirerende stories. Kry dit ook op ’n winkelrak naby jou.

As jy sukkel om een van dié twee uitgawes in die hande te kry, stuur e-pos na redakteur@tuis.co.za. Die Tuis-kantoor is gesluit van 23 Desember, maar ons is weer 6 Januarie op ons pos.