Kort nadat hulle die huis reg langs myne gekoop het, kom klop Antony aan, planne in die hand, om te wys wat hulle gaan doen en by voorbaat verskoning te vra vir die kabaal wat wag. (Dit was inderdaad ’n helse kabaal, die bure aan die ander kant het summier hul huurkontrak gekanselleer en terug Nederland toe gevlug ... )

Ek dink Antony het teenkanting en iesegrimmigheid verwag, maar toe kry hy ’n nuuskierige agie. Ek. Want min het hy geweet wat ek vir ’n lewe doen, en nog minder dat ’n bouery my nie afskrik nie. Veral nie ’n regrukprojek nie! Ek meen as jy dan nie jou eie huis kan verander nie, kan jy mos maar droom deur die oë van jou bure, of hoe?

Ek nooi myself dan en wan in wanneer hy en sy vrou saans kom kyk hoe die dag se bouery gevorder het, dan ruil ons staaltjies uit oor die geheimenisse wat in die mure van ons huise skuil – hulle lyk presies eenders, want die hele ry van agt skakelhuise is meer as ’n eeu terug gebou op wat toe nog die Tamboerskloof-plaas was. Bloudrukke van mekaar, soveel so dat ek ’n plan van hul huis gekry het toe ek destyds by die stadsraad ’n afskrif van myne gaan vra het.

Die huisies was oorspronklik eenvoudige reghoeke, verdeel in vier vertrekke. Oor die jare het die onderskeie eienaars mure uitgebreek en aangebou, maar wat my buurman tans doen, is waarvan ek al van dag een af droom: Hy breek al die binnemure van die toendertydse klein arbeidershuisie uit sodat hy een groot leefvertrek kan skep. Die plafonne moes ook waai vir ’n ruim, dubbelvolume-katedraalgevoel – laat ek maar net sê ek is groen van jaloesie ná elke huisbesoek langsaan.

Suzette Niewoudt se huis op Stilbaai maak dinge natuurlik nie makliker nie. Die vloerplan van haar mooi plek is presies wat ek nog altyd wou doen sou ek eendag my eie plek kan bou – tot die slaapkamer op ’n oop tussenvlak bo. En dan is ontblote baksteenmure al jare lank my droom. Ek het in my eie plek ’n muur so laat afkap, net om te ontdek die mure is meer klei as sement, en as ek dit nie vinnig weer toemessel nie, waai die Suidooster die hele spul dalk weg.

Maar ’n mens mag mos droom ...

Ons beoordeel tans die inskrywings vir vanjaar se Regruk met Flair-wedstryd, wat natuurlik beteken daar is selfs meer versoekings as gewoonlik hier op my lessenaar. Die Gibbonse se opknapprojek op bl. 50 is weer eens geen uitsondering nie. Hulle vertel die kombuis is geïnspireer deur ’n Tuis-voorblad van ’n paar jaar terug. Maar dit lyk my die hele huis was eintlik ’n Tuis-projek – hul interpretasie van talle idees wat deur die jare in ons maandelikse tydskrifte en van die spesiale uitgawes te sien was. Ons het met groot nuuskierigheid en belangstelling deur hul foto’s gekyk en probeer onthou uit watter uitgawes watter idees kom. Ek hoop jy geniet dit net so!

Wicus