Maar, soos in ’n wipwaentjie, klou mens maar verbete vas, want jy wil beslis nie uitval nie. En jy troos jouself dat dié op-en-af-rit wel iewers tot stilstand sal kom.

Intussen werk baie van ons steeds by die huis – deesdae ’n kokon van veiligheid waarin ons ’n telefoonvergadering kan bywoon so tussen skottelgoed was of onkruid uittrek deur. (Jy moet net nie jou vinger met die snoeiskêr raaksny nie, dit lei jou én jou kollegas se aandag van die gesprek af…)

Videovergaderings is natuurlik ’n gans ander saak. Jy moet netjies sit en netjies lyk op ’n netjiese plek. Teen laatmiddag het jy vierkantige oë en vierkantige boude, maar sit sal jy sit. Daar’s selfs nou kenners wat raad gee hoe jy die perfekte deelnemer aan ’n videovergadering kan wees: Sit jou rekenaar só neer dat jou kamera op ’n sekere hoogte is om ’n kalkoennek te vermy; maak seker daar is lig voor jou, nie agter jou nie, want anders is jy net ’n donker skaduwee. En seker die belangrikste: Wat gebeur op die agtergrond? Laasgenoemde is my skelm plesiertjie in videovergaderings, want mense se huise is interessant: ’n Mooi muurkleur, ’n besige boekrak, treffende kuns. Want elkeen van dié goed vertel ’n storie, verklap iets van die mens aan die ander kant van die kamera.

Ek weet nie van julle nie, maar ek smag na ’n gesellige kuier saam met my familie, of ’n lang tafel gedek vir vriende, waar almal bo-oor mekaar kan praat en lag en niemand hoef te vra “kan jy my hoor?” nie. En waar die einde van die kuier nie die klik van ’n muis is nie, maar ’n druk by die voordeur, ’n aanraking van hande, ’n soen. Ek dink dis hoekom ek tydens videogesprekke so na die “goed” in mense se huise kyk: Dis een treetjie nader aan “daar” wees. So hou maar daardie kamera aan, ek sal dieselfde doen. En gordel maar vas, dié wipwa-rit het nog ’n paar draaie voor.

  • In die Junie-uitgawe het ons ’n lapmasker ingesluit (daar was ook ’n MRP Home-koopbewys). Dié uitgawe was R15 duurder as die gewone omslagprys, wat baie lesers ontstel het. Eers die goeie nuus: Die omslagprys van die uitgawe in jou hande is weer R60, die prys sedert April vanjaar.

Die jaarlikse prysverhoging in April is iets waarteen ons altyd vasskop, maar in die era van digitalisering het gedrukte leesstof ’n premiumproduk geword. Dis nie skelmstreke (soos ’n paar Facebooklesers beweer het) nie, dis onvermydelike planne om ons boeke te laat klop. Boonop word ons papier ingevoer (daar is nie soortgelyke papier plaaslik beskikbaar nie) en die wisselkoers maak dit nie makliker nie.

Die Junie-uitgawe – teen R75 – was ’n uitsondering. Dit was die eerste van drie spesiale uitgawes vanjaar wat iets ekstra vir lesers insluit. Wanneer ons weer so ’n bonus-uitgawe bymekaarsit, sal ons dit duidelik aandui op die voorblad sodat jy nie ’n nare verrassing by die kasregister kry nie. Ons moes dit beter verduidelik het in Junie. Jammer daaroor.

Intussen gee ek jou die versekering dat die Tuis-span harder as ooit werk sodat Suid-Afrika se gunsteling-huis-en-tuintydskrif elke maand elke sent werd sal wees. Soos altyd sal ons wyd en syd soek na die mooiste huise, indrukwekkende tuine, maklike selfdoenprojekte en inspirerende opknappe. En moenie vergeet van die smulkos nie – opgetower in Johané se eie kombuis!