Karin Brynard se rubriek oor slaaploosheid laat my terugdink aan ’n storie uit my onderwysdae. Dis stelwerk-dag, en die gewone kandidate is vol verskonings.
Lang stories oor die kort opdrag wat nie voltooi is nie. Die kronkelpad tussen die skoolbanke deur kon netsowel ’n droë rivierloop in die Karoo gewees het: Die ene beloftes dat daar – eendag! – weer water sal vloei, maar nie vandag nie. Vandag is dit droog en stowwerig, nes die verskonings.
Behalwe een leerder s’n: Dié lê op sy arms en kreun, die las van ’n onbekende mediese insinking swaar op sy skouers. Die vorige dag is ’n wasige herinnering, vertel hy. Sy sinne is swaar en langsaam; hy kom met temerige moeite tot die punt. Hy was baie siek, loop die storie. En sy pa, ’n dokter, was radeloos van kommer. Daar was selfs sprake van ’n ambulans, en iewers deur die loop van die dag moes hy ’n nood-inspuiting kry (“en dit was flippen seer, Meneer, een van daai dik naalde!”). Die res van die dag kon sy verswakte, afgetakelde lyf net een ding doen: Slaap.