Dalk het dit te doen met my ma se oorontwikkelde sin vir ’n “vensterbedekking”. Laag op laag, met kantgordyne én blindings – jy kan naderhand niks by die venster uit sien nie, al is die uitsig hoe mooi ...

So ’n ruk terug verdiep ek my weer in my groot verslawing: ’n soektog na tweedehandse winskopies aanlyn. Nadat ek uit pure ergernis eendag die rolblinding voor die dubbeldeure in my slaapkamer op Facebook verkoop het (die vervlakste tou het alewig gekoek) bevind ek my een oggend in ’n ongemaklike situasie: My slaapkamer is aan die voorkant van die huis, en kom ons sê maar net daar het fout gekom met die handdoek om my lyf, op presies die oomblik dat my buurvrou oorkant die straat by haar voorhekkie uitgekom het.

Dit was tyd vir gordyne. Aanlyn loop ek iets moois raak. Splinternuut, sê die advertensie, ingevoerde Belgiese linne, ontwerpersgordyne van 3,8 m lank. Perfek, dink ek, want my plafon is 3,5 m hoog. Ek kan mos maar ’n soom laat insit.

Ek laai die gordyne op, en dis selfs mooier as wat ek gedink het. Beslis nie nuut nie, maar ongetwyfeld ’n winskopie, daarom sê ek niks. Netjies toegedraai in plastiek, seker pas terug van die droogskoonmakers. Bonus!

By die huis begin ek kopkrap. Watter gordynstok nou? Ek is nie lus vir ’n gordynkap nie, maar dan wat? Die lelike ou spoor sigbaar elke keer as die gordyn oopgetrek is?

Einde ten laaste besluit ek op ’n eenvoudige wit spoor reg teen die plafon. Die gordyne is mos lank genoeg, en die weelderige gevoel wat dit gaan skep as dit van bo tot onder hang, is net waarna ek soek.

Ek bestel die spoor en die eerste Saterdagoggend is die gereedskap en die leer uit. Asgat die hond het die moeilikheid sien hom, want hy is woerts-warts onder die bed in. Maar ek is vasberade.

Nou kyk, ’n 4 m lange spoor wat 3,8 m hoog teen die plafon moet vaskom, verg akrobatiese soepelheid, veral as jy alleen werk. Naderhand het ek spykertjies in die plafon gekap en toutjies daaraan vasgebind waarin ek die spoor kan laat rus terwyl ek die skroewe een na die ander indraai. Op met die leer, af met die leer. Skuif. Op met die leer – %*#^, daar val die skroef – weer af met die leer.

Ure later is my geduld op, maar al my ledemate nog heel en die spoor vas. Ek begin die gordyn hang. Dit rus oor my skouer soos ’n koning se mantel. Stelselmatig knip ek selfvoldaan elke hakie by die rolwieletjies in.

Die gordyn is nou selfs mooier vir my. Belgiese kant? Uit die Belgiese koningshuis, man! En met my eie twee hande gehang.

Nou: Jy ken daai gevoel as jy jou hand in jou sak steek om jou selfoon of beursie uit te haal en dis nie daar nie? Wel, vermenigvuldig daai knop-op-die-maag-asem-snak met 10, dan weet jy hoe ek voel toe ek vir hopelik die laaste keer by die leer afklim en die gordyn met ’n ligte pluk toetrek … en ontdek dis minstens 50 cm te kort, pleks van 30 cm te lank!

Mm, dit was toe beslis nie nuut nie – en die droogskoonmakery het daai dure Belgiese linne tot bo my knie laat krimp.

Dit hang nou nog so, die gordyne. “Hoogwater,” sê my ma. Maar die ergste wat my buurvrou nou sien, is my kaal kuite.

’n Plan sal ek maak, gee net kans. Ek het hoeka ’n slim oplossing in ons gordynstorie in dié uitgawe gesien ...

Geniet!