In September verlede jaar wys ons die Macdonald-gesin van Noordhoek se wonderlike eko-huis.

Op een van die foto’s – in die Macdonalds se sitkamer – hang drie Bordallo Pinheiro- borde in die bekende kool-ontwerp.

Kort ná die uitgawe op die rak verskyn, kry ons ’n oproep van ’n mev. Pienaar van Pretoria: Sy het ’n bakkie in dieselfde styl en wil dit graag vir Sue Macdonald skenk. Hoe kan sy haar in die hande kry?

Kort storie lank: Sue het met mev. Pienaargesels en die geskenk met dankbaarheid aanvaar: “That’s so incredibly kind, I am completely blown away by that. Wow!” skryf sy toe onsmev. Pienaar se besonderhede vir haar gee. En later: “Her kindness means so much to me.”

Dalk is dit oor ons hier in die Kaap – ook julle in Port Elizabeth en die Karoo – met groeiende paniek die waterkrisis dophou dat “kindness” meer as ooit voorop in my gedagtes is. Want (en vergeef my die Oprah-oomblik): As ons nie nou saamstaan en mekaar help nie, gaan ons almal droëbek sit. Letterlik. En dis natuurlik nie net oor water wat ons mekaar met medemenslikheid moet help staande hou nie; goed wees vir ander strek veel verder as dit. Troos waar dit nodig is, deel as jy genoeg het, deel uit wat jy nie gebruik nie. 

In dié uitgawe val die fokus op klein ruimtes, waar daar iedergeval nie plek is vir ongebruikte goed wat rondlê of -staan nie. Dalk moet dit ons benadering wees tot die nuwe jaar, selfs al woon jy nie noodwendig in ’n klein plekkie nie: Deel met ander wat jy kan. 

Volgende maand word ek 45. Ek onthou my pa het al hoe makliker gehuil hoe ouer hy geword het, so dalk word ek ook net oud. Maar ’n gebaar soos mev. Pienaar s’n, op die oog af onbelangrik, ontroer my. Want dis allermins onbelangrik. Trouens, om soveel moeite te doen om by iemand uit te kom wat jy nie ken nie, net oor jy weet jy het iets wat vir jou én vir haar mooi is en jy dit daarom graag vir haar wil gee ... Dis mos waaroor menswees moet gaan, dan nie? 

Mevrou Pienaar, ek lig my hoed vir jou en ander soos jy.

• Terwyl ons so oor die droogte praat: Ons tuinredakteur, Marié, is bekommerd dat lesers sal dink die mooi tuine op bl. 86 en 96 is nou, te midde van die Kaapse droogte, afgeneem “en netnou is die lesers kwaad vir ons én die tuinmakers oor hulle dink niemand steur hulle aan die waterbeperkings nie!” Maar wees gerus, ons skiet ons tuine meestal ’n jaar vooruit. Wat beteken Arina en Annemi se tuine is afgeneem voor die droogte die huidige rampspoedige afmetings aangeneem het.

Wicus (redakteur@tuis.co.za)