Die afgelope jaar of wat het jy seker opgelet dat Tuis glad nie meer net ’n tydskrif is nie. Ons het lankal ’n digitale voetspoor ook – daar was ons eerste mobiblad; ons stuur al geruime tyd etlike nuusbriewe uit; jy volg ons dalk op Facebook, Instagram, of ons YouTube-kanaal!

Maar met die bekendstelling van Netwerk24, met alles wat Media24 in Afrikaans doen op een digitale plek, het die Tuis-wêreld net nog groter geword. Nog nooit was dit so maklik om al jou gunsteling-leesstof te geniet in die palm van jou hand nie, hetsy in webformaat of PDF. Nou, in 2020, is daar nog nuwighede op die horison.

Einde verlede jaar het ons die Tuis-winkel (tuishomeshop.co.za) gebou waar jy krytverf, en binnekort ook ander mooigoed, kan koop. Die Welkom Tuis-ontwerpdiens wat van enige dekordilemma in jou huis korte mette sal maak en jou boonop geld kan spaar, is ook flink op dreef, en dan was daar ons eerste Home Sharing-konferensie in vennootskap met Airbnb, ’n TV-reeks op die leefstylkanaal VIA op DStv, en nie minder nie as drie kompetisies waarin lesers met trots hul kreatiwiteit kon wys – onder meer die Rookie Stylist-kompetisie saam met MRP Home op Instagram. Dié veldtog het meer as 1400 inskrywings gelok en meer as 4 miljoen mense (ja, jy het reg gelees, 4 miljoen) het op die een of ander manier daarmee in aanraking gekom.

Daar was sulke lekker stories wat uit dié kompetisie gespruit het. Een leser wat nog nooit ’n Instagram-rekening gehad het nie, wou opsluit deel wees van die aksie. Met ons digitaleinhoudskepper, Suné, se hulp oor die foon het sy ’n rekening opgestel en haar eerste (en tot dusver laaste) foto op Instagram gedeel.

Daar was ook die gewilde Tjhoko Champs-kompetisie met verstommende verfprojekte; die Annie Sloan-toer na Frankryk; ’n week agter die kospotte op ’n Griekse eiland; en oudergewoonte ons Regruk met Flair-wedstryd, wat vanjaar met drie kategorieë seker van die mooiste inskrywings ooit gelok het. Ons wys die wenners in volgende maand se uitgawe en jy gaan jou oë nie glo nie!

So, wat is volgende? ’n Groot aankondiging in dié uitgawe is die bekendstelling van die Tuis |Home-mark. Maak solank ’n nota: Einde Mei kan jy uitsien na vier dae van groot jolyt op die lieflike Nooitgedacht-wynlandgoed buite Stellenbosch.

Ons kondig ook later ’n dekorskool aan en ons werk aan ’n reeks aanlyn-meesterklasse in krytverf-tegnieke. Boonop kan jy begin uitsien na ’n tweede resepteboek ná die sukses van Johané se Ta-da! in 2018. Is jy al volstoom op dreef met die nuwe jaar? Want óns is ...

TUIS DAGBOEK

Die Tuis Dagboek met sy gratis tuinhandskoene kry groot aftrek. As jy nog nie joune het nie, moet jy gou spring, want dié lieflike hardebandboek met van ons mooiste tuinfoto’s is nog tot 1 Maart te koop in winkels landwyd. As jy dit nêrens in die winkels kan kry nie, bel Amina Essop by 021 406 2205 of stuur e-pos na redakteur@tuis.co.za, dan help ons jou. En ja, dis vanjaar net in Afrikaans, maar volgende keer doen ons dit beslis in Engels ook!