My vingertjies het natuurlik gejeuk om te tik: Jy kort ’n ligbruin koei (met ’n hartkwaal), maar ek het my natuurlik ingehou want, jy weet, nie almal se sin vir humor is goed ontwikkel nie. Hoe dit ook al sy, kort voor lank was daar natuurlik ’n paar spitsvondige antwoorde, waarvan “Magic! You need magic!” my laat proes het.
Soms is “magic” inderdaad die enigste oplossing, al moet jy dan jou eie “magic” skep. Dis mos waarvoor Tuis-lesers bekend is, en soos ek al telkemale gesê het, dis ook een van die risiko’s van my werk. Daar is net te veel mooi en slim idees, ek ly chronies aan ’n toestand van onbybelse begerigheid as ek so deur die foto’s in die tydskrif werk.
Pas is ek deur ’n regrukprojek by my eie huis, ’n morsige besigheid wat my uiteindelik laat uittrek het, want ’n mens kan ook net soveel verduur – veral as jy onverwags ’n weggooihond in pleegsorg geneem het en dié klein klits net wil weghol elke keer as ’n bouer/teëlaar/verwer/loodgieter/elektrisiën die voorhek oopmaak.