Soos ons een medewerker, Maryke, my per WhatsApp laat weet: “Hoe wens ek dat die beurtkrag waaroor jy in jou April-brief skryf maar al was waaroor ons nou moet worry…” Dis inderdaad vreemde tye. Ongekend, en onvoorspelbaar. Daarom gaan ek liefs nie in hierdie brief skryf oor die koronavirus nie – dit voel vir my na moeilikheid soek. Bid jou aan teen volgende maand is daar iets nog ergers wat ons lewens ontwrig. Die Tuis-span is ’n klein groepie mense wat elke maand jou gunsteling-tydskrif aanmekaarsit. Party dae is ons letterlik ’n handjie vol op kantoor, want Marian en Francois skiet huise, die advertensiemense sien kliënte, Johané is in die toetskombuis, Gill en Johletta is eintlik vryskutte wat net twee weke van die maand op kantoor is …

Tydens die inperking, met almal wat van die huis af werk, het spanwerk ’n nuwe betekenis gekry. Ons hou videovergaderings, bel per WhatsApp en die e-posse vlieg om almal op die hoogte van sake te hou. Dis als goed en wel, maar iets gaan tog verlore as jy so op jou eie sit en swoeg. Dit herinner my toe aan ’n lys van kwinkslae wat ons oudkollega Kim stil-stil begin saamstel het: sêgoed wat mense in die kantoor kwytraak, veral as die spertyd in ons nekke blaas. Dis ’n skatkis van spitsvondigheid.

Soos die keer toe Johletta, ons Afrikaanse teksredakteur, uit pure frustrasie uitroep: “Die uitlegte het vrae mét vrae. Hulle praat terug!” Of Tessa, ons Engelse teksredakteur, se versugting toe Gill bekommerd op sperdag vir haar vra: “What’s wrong, Tessa?” En Tessa van die proewe af opkyk en antwoord: “Bad things, Gill, bad things.” Dit was ook einste Tessa wat eendag moedeloos uitgeroep het. “I need more English!” toe sy nie op die regte woord kon kom nie.

Met Johané wat gedurig aan die bak en brou is, het ons nooit ’n tekort aan eetgoed nie. En daarmee saam ook ’n mondvol grappies. Tydens die fotosessie van haar gevulde skorsies vir die April-uitgawe roep sy opgewonde uit: “The cheese is oozing!” En toe, meer besadig: “Ek hoop net dit ooze fotogenies!” Toe sy eendag die soveelste sjokoladekoek uit die toetskombuis dra, was Desiree se regverdiging vir nog ’n snytjie eet, eenvoudig: “As jy mooi daaroor dink, is koek eintlik ’n tipe toebroodjie.” Nie dat almal wil hê als wat eetbaar is moet geëet word nie. Marian, ons kreatiewe redakteur, koop dikwels vrugte en brode vir fotosessies, maar soms verdwyn dit nog voor dit die foto haal: “Dis hartverskeurend as iemand jou props eet,” het sy al op ’n keer laat val.

Die bababrein-verskynsel is ook nie onbekend nie, en Shané het voor haar eersteling se geboorte minstens twee keer die kantoor laat skater. “Did he phone to call?” het sy eendag ernstig gevra, salig onbewus dat die sin, wel, nie sin maak nie. Dit was ook sy wat haar hawermout in die mikrogolf gesit het sonder ’n druppel water daarby . Gepraat van kinders: Toe Johané se seuntjie peuterstadium bereik, het sy haar lewe só beskryf: “Dis soos om ’n mini-diktator in die huis te hê!” Ek kan nog bladsye vol skryf, daar is letterlik jare se notas. En al het ek nou baie lekker hier op my eie sit en lag, sien ek uit na die dag dat ons weer sy aan sy in die kantoor kan werk, met “social distancing” iets van die verlede.

En ek is seker iemand sal dan daaroor ook ’n grappie gereed hê ... Lekker lees, tot volgende maand!