Van oral kom die “studente” en vir drie dae het ons oneindige pret. Kennerspraatjies, ’n fotosessie, voorblaaie maak, besoeke aan ’n asemrowende huis en ’n inspirerende materiaal-ontwerper. Ek dink dis oor almal van ons so uitgehonger was vir die “ou” normaal dat dié samekoms in Kaapstad so heerlik was, al moes ons maskers dra en elke dag vorms invul en koors meet by die voordeur.

Weens Covid-reëls kon ons nie in die Media24-gebou se raadsaal byeenkom nie, want dié is nog gesluit vir besoekers. Toe maak ons ’n ander plan: huur ’n pragtige ou Victoriaanse huis op Airbnb en bied die hele geleentheid daar aan – van lesings tot fotosessies tot ons kosredakteur Johané se heerlike ontbyte en middagetes. 

Dit was ’n geluk by die ongeluk, want terugskouend besef ek nou ’n dekorskool in ’n kantoorgebou se raadsaal kan nooit so lekker wees soos in ’n mooi huis nie.

Kyk, Covid-19 is geen grap nie. Maar wat ek wel weet, is dat dié pandemie ons almal gedwing het om nuut te dink oor hoe ons dinge aanpak. En planne te maak. 

By ’n onlangse webinaar, aangebied deur SA Pork, begin ek my praatjie met dié stelling: 2020 was ’n jaar van “reimagining”. Die huur van die huis is maar een voorbeeld uit my eie verwysingsveld. Daar is baie ander voorbeelde die wêreld oor: Lugdienste wat vlugte na nêrens verkoop het net vir die plesier van vlieg; hotelle wat kamers in kantore verander het vir mense wat moeg was vir die hond wat heeltyd by die huis blaf of die kinders wat raas… en dan die (eerlike) “Covid-entrepreneurs” wat ’n geleentheid gesien en aangegryp het – soos die onderneming wat vir R299 namens my in die ry gaan staan het om my motorlisensie te hernu. Teenoor 7 uur lank (so loop die riemtelegram) self daar staan? O, nee. 

In dié uitgawe wys ons stoepe, soos altyd dié tyd van die jaar. Ek dink vanjaar gaan stoepsit en stoepkuiers vir almal nog meer betekenis hê, en die versameling wat ons hier wys, spreek van saligheid en rus. En lag, en samesyn. En terugsit en ontspan ná wat ’n beproewing van ’n jaar was.  Hou moed, vriende, die somer is hier en Kersfees op pad. En as dit nodig is, maak net (nog) ’n nuwe plan.