Hallo

In Junie breek verwoestende brande uit in Knysna. Dit gebeur op dieselfde tyd dat ons fotograaf, Francois, en kreatiewe redakteur, Marian, in die Suid-Kaap is om huise en tuine af te neem vir gebruik in die tydskrif deur die loop van die jaar.

Ek was die dag uit die kantoor, by ’n werksessie met van die ander redakteurs in ons groep. Om 15:44 kry ek ’n WhatsApp van Marian: “Hi, kan jy bel asb. Ek spaar lugtyd om met krisis te deal. Jy het seker gehoor van brande ens.”

Nee, dink ek by myself. Ek het nie, want heeldag al luister ons na ’n spreker uit Amerika, my foon ’n slag in my sak. Ek google. Ek skrik. Want wat ek sien is totale verwoesting: bollings rook, die lug ’n vuil oranje weens die rook van die vlamme wat in ’n tierende wind verwoesting saai.

In die heen-en-weer-boodskappe wat volg, blyk dit Marian en Francois moes uit die dorp vlug en kon nie terug Sedgefield toe waar hul klere en ander besittings steeds in die gastehuis was nie. Die N2 was toe. Inderhaas moes die twee ander slaapplek kry op Knysna – naby die water, net ingeval die brand erger sou raak. En ons weet nou, dit het.

Lang storie kort: Marian en Francois is veilig tuis, maar in die chaos en haas om op ’n veilige plek te kom het iets verkeerd geloop en al die foto’s van Jayne en Andries Brink se huis in Hunter’s Home, naby die Knysnameergebied, is weg. Jayne vertel agterna al wat sy heeltyd gedink het, is: As ons huis afbrand, het ons minstens ’n stel goeie foto’s wat ons sal help onthou. Min het sy geweet ...

Die goeie nuus is die Brinks se huis het die vlamme vrygespring, en vroeg September is ons terug Knysna toe – kyk hier die foto’s. Wat ’n verligting dat die huis nog staande is, en watter ongelooflike seer moet dit nie wees as jou huis wel deur die vlamme verteer is nie. Baie mense in Knysna herbou nog aan hul lewens; ons gedagtes is steeds met julle.

’n Mens kan amper nie glo dis November nie. Toe my selfoon nou die dag skielik in my hand die aftog blaas, dink ek by myself: My´ battery is ook pap. Iewers moet iemand my inprop, anders maak ek dit nie Kersfees toe nie. En hoe ironies is dit dat hoe meer ons probeer “wireless” leef, hoe meer is ons soos poppe aan toutjies wat oral ingeprop moet word om net aan die gang te bly.

Maar ons is amper daar. En dan is dit tyd vir stoepsit (kyk net die mooies in die drie leserhuise en in die artikel op bl. 58). Gee jou beste en sit solank iets vir die keel op ys.

Lekker lees!

Wicus
redakteur@tuis.co.za