Te midde van einde-van-die-jaar-paniek kom ek nou die aand tuis en begin sommer die yskas regpak. Dit was nie dringend nie, maar op daardie oomblik noodsaaklik. In die ekosisteem van heersende choas is dié wit koelboks op daardie oomblik iets wat ek kan regruk, en raak my dekades oue Defy ’n metafoor van als wat wanhopig dog redbaar is.

Die karringmelk vir die beskuit wat ek voor die winter al wou bak, kan ek nie eens meer uit die houertjie skink nie, dis dikvrot agter in die hoekie waar dit tussen die halwe konfytpotjies verlore geraak het; ek smyt dit net so weg.

Cheddar met ’n klipharde sool? Sny af wat hard is, rasper die res.

Oorryp tamaties? Vrieskas toe, vir bredies.

Pap wortels? Kook vir die hond.

Kwartbottel “flat” tonikum? Stywe dop.

Daardie aand droom ek ek is op ’n bus en my sitplek het sy eie stortkop. Dalk was dit die blinkvars yskas van vroeër die aand (ek het hom tot in sy nate uitgewas), maar daai nag stort ek almal rondom my sopnat. Die mense kla. Ek smeer seep. Vasberade.

Uit die bloute – alles steeds in die droom – loer ’n vriendin oor my skouer. “Hoekom is ons op hierdie bus?” vra ek.

“Want ons is moeg gelóóp, Wicus,” sê sy, met groot nadruk. “Maar ons kan nie opgee nie, ons moet vorentoe. V-o-o-o-rentoe!”

En so rammel ons aan. Die seep spat tussen die dieseldampe. Weldra is die sitplek so nat ek is koud tot in my nek ...

My vriendin Marelize sê dis tyd vir selfondersoek toe sy dié storie hoor. Ek sê daar is niks fout met my nie, daar is fout met die wêreld. Dis tyd vir stoepsit. Afkoel. Brood breek.

Daarom nooi ek ’n spul vriende vir ete. Ek maak fava uit Griekeland, Johané se suurlemoen-aartappels uit die Oktober-uitgawe, bulgur-en- beetslaai, gemarineerde sampioene, ontbeende skaapboud oor die kole. Vooraf drink ons koue tamatiesop (hoeka van ’n vorige ronde se gevriesde tamaties) en agterna is daar stroopsoet baklava.

Dis ’n sonnige Sondag waarop ons saamkom. Ons skink wyn, ons lag hard. En klink op goeie herinneringe.

Ons skrik ook nie vir die toekoms nie – ons maak afsprake vir ’n vyftigste doer ver op die horison, en nog vele kuiers om ’n tafel waar samesyn die hoofgereg is. Want ons is dalk moeg geloop, maar die “bus” se wiele draai nog.

En hei, my yskas blink. En nog baie stoepkuiers wink.

Wicus