Dis seker te wagte. Namate ons die kalendermaande aftel en Kersfees al hoe nader kom, raak die tregter se punt ál nouer. Dinge moet klaar, en hoe langer die lys, hoe vinniger moet jy “multi-task”.

Ek hou van ’n spertyd. As jy wil hê iets moet klaarkom, gee my ’n datum. Dis seker hoekom ek so tuis voel in die mediabedryf, want spertye is alles. Dis daarom nie vreemd dat die eerste vraag uit iemand se mond wanneer ’n nuwe projek bespreek word, dikwels net een woord is nie: “Deadline?” Eers met ’n introspektiewe frons. Dan met oë wat stip kyk. Want die vraagsteller se brein is besig met somme. Gaan ons dit maak? En hoe lyk die ander spertye?

Ek sê altyd ’n mens moet die vlamme blus wat om jou voete woed – vir die brand op die horison moet iemand anders water aandra.

Soos ek hier sit en tik, ’n salige Sondag by die huis ná naweek op naweek gevul met werkverpligtinge, dink ek met groot genoegdoening terug aan die lekker gesprekke wat ek by ons lesergeleenthede het. Tjhoko-meesterklasse, ons Home Sharing-konferensie saam met Airbnb, die jaarlikse Homemakers Expo. Ek wens ek kon al die stories vertel: Party is ernstig en hartseer, ander vol stuitigheid, meestal pure vindingrykheid. Maar nie die soort vindingrykheid wat jy sal verwag nie...

Dit blyk Tuis is vir lesers nie net ’n bron van groot inspirasie nie, maar ook een van (onbedoelde!) krapperigheid. Een leser vertel van haar man se lang gesig as sy met ’n Tuis op hom afpyl.

’n Ander vertel weer by een van ons verfklasse van groot huismoles by hulle oor elke maand se nuwe uitgawe. Deesdae koop hulle liefs twee tydskrifte. Nog ’n vrou kom wys vir my skelm ’n WhatsApp-gesprek tussen haar en haar man. Hy is by die huis, en sy’t kom verf.

“Kyk wat het ek pas gekoop,” skryf hy, met ’n foto van die die nuwe Tuis daarby. “En raai wat gaan ek nou doen...”

“Moet dit nie waag nie”, skryf sy terug. “Ek lees EERSTE!”

By ’n ander geleentheid kom kla ’n man oor die uitgawes wat in ’n sak kom. Ek dog hy gaan raas oor al die plastiek. Dit blyk toe dis oor hy (a) sukkel om die sak van die tydskrif af te wikkel as hy in die toilet gaan wegkruip, want dit raas, en (b) hy kry nie altyd weer die tydskrif netjies terug in die sak sodat sy vrou “eerste” kan lees nie. Só vang sy hom telkens uit!

Nou ja, wat kan ek sê. Mooi was nog nooit lelik nie. En as jy hou van mooigoed, moet jy doen wat gedoen moet word!

Lekker lees. En vasbyt. Kersfees kom ...

WICUS

redakteur@tuis.co.za