Dit voel vir my die koue het sy intrek geneem tot onder my toonnaels en agter my oogballe.

Soggens vroeg was die kaggel al aan die gang, nog voor die eerste pot koffie op die stoof geprut het. Want brand daardie vuur nie, kan ’n mens laatmiddag skaars tik, so stram raak jou vingerlitte.

’n Paar jaar terug gaan kuier ek by die nuwe skoonfamilie in Bloemfontein, in die hartjie van die winter. Ek vrees ek het dalk nie ’n goeie indruk gemaak nie, want ek was óf op ’n hopie voor die kaggel in die braaikamer, óf in die kamer onder die donse – en soggens het ek gelê en knyp tot my oë traan, want dit was net te koud vir badkamer toe gaan! Hoe het antie Stienie van Agter elke man altyd gesê? “Dat ’n mens nou so moet suffer.” En net vir die rekord: Die skoonfamilie se harte is warm en ’n mens kuier lekker daar. Dis my eie koulikheid wat die probleem is!

Ek wonder altyd hoekom Suid-Afrikaners so gemoedelik die jaarlikse klimaatskommelings verduur. In die somer kry ons warm, in die winter kry ons koud. Dis hoe dit is. Ons kom veral reg sonder verhitting. Lugreëling vir daardie smeltwarm Februarie-dae is wel algemeen, maar dink net hoe lekker dit sou wees as ons soos die Europeërs heerlike warm binneruimtes kon hê reg deur die koue maande. Toe ’n vriendin uit Nederland jare terug kom kuier, hoeka in die Junie-vakansie, was sy skoon iesegrimmig van koulikheid – ek moes verwarmers leen en ekstra komberse gaan koop. Ek dink in haar oë was verkluim ’n asemteug vêr. Saans in my woonstel het sy soos ’n drenkeling op die bank gesit, toegewikkel in ’n kombers van kroontjie tot toontjie.

Gelukkig is die lente nou hier en raak die dae ál langer. En soos dit maar gaan, is dit nie net my gebeendere wat ontdooi nie; saam met die veldblomme het ’n nuwe plan kop uitgesteek: Ek gaan my skewe gastebadkamer eens en vir altyd regruk. En hoe meer ons vir dié uitgawe na badkamers gekyk het (en tussendeur ook regrukprojekte vir ons jaarlikse opknapgids begin afneem het), hoe langer het my lys idees geword. 

Die klompiestene onder die bad in ons badkamer-storie was lankal my plan vir ’n aardse badkamervloer, saam met kraakwit teëls. Maar heel boaan my lys is ’n verhitte handdoekreling. Want is dit nou nie die grootste bederf nie? Koud is een ding, maar koud en klam? Aikôna, ek kan nie meer nie.

’n Vriendin sê vroeër die week die wêreld se fokus is nou na binne; die Covid-19-pandemie het ons almal in “nesters” verander. Ons krap en organiseer en maak reg en mooi, want huis is nou soveel meer as net blyplek. Ek sit my glad nie teë nie, nesskop is my gunsteling- binnemuurse aktiwiteit…

Lekker lees aan die uitgawe – en onthou, ons verskyn voortaan elke ses weke, met die lieflike stoepe-uitgawe wat vroeg in November die rakke tref. En wie hou nou nie van stoepsit nie? Dis my gunsteling- buitemuurse aktiwiteit!

Dis nou jou laaste kans om ons gewilde Kortpadkos-resepteboek te koop – ’n lieflike hardeband-uitgawe met ’n gratis groenteskiller daarby. Kyk by ’n supermark naby jou, gewoonlik op of naby die tydskrifrak. As jy sukkel om een in die hande te kry, stuur vir my ’n e-pos na redakteur@tuis.co.za.