Almal help kos maak, onder andere ons digitale redakteur, Shané.

Ek herwin lankal glas, maar plastiek gaan vullisblik toe. En toe Shané dit sien, is ek in groot moeilikheid. Sy was natuurlik reg. Dit ís ’n skande.

Ek het ’n swak verskoning voorgehou, iets oor die Kaapse droogte en mens kan nie die vuil vleisbakkies en houertjies net so weggooi nie en waarmee moet mens dit nou uitspoel as jy klaar net 50 liter water per dag het? Maar haar “aanmaning” het my so skuldig laat voel dat ek die res van die dag eers oor my skouer geloer het voor ek ’n stuk plastiek, polistireen of leë houertjie in die drom gegooi het.

Ek skryf dié brief uit Thailand – en Shané moet liefs nooit hierheen kom nie. Want as plastiek en die impak daarvan op die planeet jou kwel, sal jy die Golf van Thailand inhol tot die see (vol plastiek) jou toevou.

Dis erg, die kultuur van plastiek hier. Bestel jy ’n smoothie, kry jy dit in ’n wegneem-koppie (van plastiek) met ’n deksel (van plastiek) en ’n strooitjie (van plastiek), als binne-in nog ’n sakkie (raai waarvan?) sodat jy dit maklik op jou bromponie kan vervoer.

Wegneemkos: Sousies in sakkies toegebind met rekkies bo-op etlike houertjies waarin alles apart verpak is – natuurlik met weggooi-eetgerei daarby. Als plastiek. By ’n braaistalletjie op straat bestel ek “sticky pork” op ’n stokkie en voor ek kan keer, is ook dié klein sosatie in ’n sakkie geglip – al word hy dadelik geëet. En die ergste: In die winkel is piesangs langs die kasregister een-een verpak in ’n sakkie met ’n rekkie om – en jou waarlik, toe iemand dit koop, word dit aangegee in ’n inkopiesak.

G’n wonder hulle moet soggens die strande hark nie, want oornag verskyn ’n soom gestip met plastiek-afval uit die see, ’n onrusbarende merker van waar die hoogwater vroeër was.

’n Onlangse studie deur die Ellen MacArthur-stigting in Brittanje voer aan teen 2050 sal daar meer plastiekafval as vis in die see wees. Dis wêreldwyd gerapporteer in die media, hoewel nie alle navorsers met dié syfers en die stigting se metodiek saamstem nie. Maar almal is dit eens: Daar is beslis ’n dreigende krisis, en die krisis is groot.

Dis ons eko-uitgawe dié, een waarin ons weer kyk na nuwe maniere waarop mense leef en huise bou – daar’s selfs ’n klein gaste-eenheid van glasbottels op ’n plaas in die noorde. Almal se stories is dieselfde: Hulle wou iets gebruik wat andersins afval of rommel sou word.

Dit behoort ons elkeen se storie te wees. Ek verkies my see vol vis pleks van plastiek. Daarom is ek trots om te sê ek het intussen ’n groen blik vir my plastiekafval aangeskaf. Ek hoop dit neem lank voor hy vol is. Lekker lees, en hou die groen kant bo!

Wicus