Ek het breed geglimlag toe ek onder die foto (geneem in die Diceys van Wolseley se vraghouer-blyplek) lees: “kussings en oortreksels deur tannie Elmarie”. Net so, sonder van – soos prinses Diana. Soos ‘n celeb. Ek is seker tannie Elmarie is uit eie reg bemind én bekend. 

Tannie Elmarie klink vir my soos ‘n voorslag, en het ons dan nie almal ’n “tannie Elmarie” in ons lewe nodig nie? In my geval was dit ’n tannie Anna, nou al jare saliger...

As my ma (tannie Anna se jongste suster) raad-op was, het die antwoord gewoonlik vinnig gekom: “Bel vir tannie Anna.” Oor groenvyekonfyt waarvan die stroop te dun was, beplanning vir die tombolatafel by die kerkbasaar, noem maar op. En kon sy hekel! Sulke Spaanse poppies as oortreksel vir die toiletborsel. Geen steek het ooit by haar geglip nie en g’n koek het platgeval nie. Wel, nie waarvan ek weet nie…

Tannie Anna was ook kwaai, en my mond is ’n paar keer met peper uitgewas oor ek kwansuis “gevloek” het. Ek dink die ergste wat ek voor haar kwytgeraak het, was “blerrie”. En my mond het blerrie gebrand, man! (Skuus, tannie Anna.)

Hier waar ek vroegoggend my redakteursbrief sit en skryf, is ek regtig in my skik met dié uitgawe. Johané se kosstorie – alles met suurlemoen – skyn soos die son op bl. 116. Net betyds vir die lente, en sonskyn is nou baie welkom.

Die Roons se huis gee my soveel plesier – en soveel detail. Van die fotoskerm op tot die kombuis met sy pizza-oond (ek begeer een!) is loutere kykgenot.

Maar die vraghouerhuise is vir my die pièce de résistance. Elke jaar met die September-uitgawe kyk ons na alternatiewe boumetodes, eko-planne, herwinning – alles wat mens kan beskryf as “groen”. En dit blyk blyplekke gebou uit ou skeepsvraghouers gaan van krag tot krag. Nes ek dink ons het nou al die ombouings gewys, is daar ’n nuwe plan: In hierdie uitgawe sommer twee. Die einste Diceys van tannie Elmarie hierbo het die mooiste eko-blyplek staangemaak langs hul dam, met kurwes wat jou twee keer laat kyk. En dan is daar die “kokosneut” naby George. Hoe mooi is dit nie? En ruim! Al twee is boonop akkommodasie wat gehuur kan word, so as jy wil weet hoe dit voel om in ’n vraghouer te woon, gaan check in! Ek gaan. Ek wil weet hoe dit voel.

As jy besig is met ’n eko-projek van enige aard, skryf vir ons en stuur foto’s.

Intussen: Lekker lees. 

Verlede jaar het ons ons eerste dekorskool in vennootskap met Mr Price Home aangebied en dit was ’n reuse-sukses, met ’n lang waglys. Toe reken ons, bied vanjaar sommer twee aan, want die belangstelling is daar! Wie is nou nie lus vir bietjie uitkom in die grendeltyd nie? Kan jy glo, binne enkele weke is al twee dié dekorskole uitverkoop, met weer ’n waglys. Dalk moet ons volgende jaar vier aanbied, of hoe?

Ons eerste blokraai-uitgawe het net so flink verkoop, en nou is ’n splinternuwe uitgawe op straat, met meer as 100 breinknopers – blokraaie, woordspeletjies en Sudoku’s. As die wag te lank raak tussen die hoof-uitgawes van Tuis, vul maar ’n blokraai in. Dit was my tannie Anna se ander superkrag: Sy het geen blokkie of leidraad gemis nie. 

Die volgende uitgawe van Tuis is 22 Oktober op straat.