Sê nou maar daar was ’n kombuispolisie, dink ek een aand toe ek die lig afsit om bed toe te gaan.

Dit was teen die einde van ons tweede maand van inperking en ek het pas op TV aanskou hoe die minister met die bokbaardjie dreig om mense in vangwaens te laai as hulle somerplakkies koop. Dus geen vergesogte vraag as ’n mens ’n laaste blik oor jou deurmekaar kombuis gooi nie. Dit was ’n kiemparadys.

Wat sou die swaarste sonde wees, het ek gewonder?

’n Vuil kombuisvloer? Of vuil skottelgoed? Volgens my wen vuil skottelgoed loshande. ’n Vuil kombuisvloer is minder gevaarlik, tog? Tensy jou masker op die vloer val, natuurlik. Daai kan dodelik wees. Aan die ander kant: As jy hom binne vyf sekondes opraap, is hy prakties nog skoon. Vra maar, mense wêreldwyd ken die vyf-sekonde-reël.

Ek was dus oukei in die vloerdepartement – tensy kolle tel. As daar nou rangordes vir kolle was, sê maar ’n boete vir ’n koffiekol, sou ek dit kon bekostig? En sopkolle? Dit sou sweerlik ’n swaarder oortreding wees, iets in die klas van dronkbestuur. Nou praat ons van ’n kriminele rekord. Hektiek.

Oor die skottelgoed was ek ook ’n bietjie ongerus. Vuil borde is dalk een ding, dié kan jy nog met kombuispapier uitvee – mits dit nog nie droog is nie. Vuil potte, weer, is ’n perd van ’n ander kleur. Vir een pot kon jy dalk nog wegkom met gemeenskapsdiens, iets soos strate vee. Maar vir die ganse kastrollekas? Lewenslank, Pappie.

Gelukkig maak ek nie potte vuil nie. Ek woon alleen. Sakkie Woollies-sop gezap in die mikrogolf en Bob’s jou antie, dankie. Maar ek het my standaarde – my teekoppie moet darem aan die skoon kant wees. En ek spaar water. Daarom was ek eers as alles vuil is.

Ek wou net ontspan, toe val my oog op ’n taamlik voos vadoek. Heng, dáárdie kalant sou die kiempolisie die propperse Stalinstuipe gee. Ek skud darem die outjie gereeld ordentlik uit – so ’n lekker driftige sweepklapskud. Niks bly sit nie, dit waarborg ek. Dan hang ek hom in die sonkant van die kombuis. ’n Droë doek is in kiemland soos ’n paartie sonder dop. Die kiempies dros. Waarheen, weet nugter. Vloer toe, dalk?

Ek het my skouers opgetrek en die lig afgesit. En toe weer aan. Goeie hemel, wat het met my gebeur in hierdie vreemde isolasietyd? Normaal gesproke is ek ’n Nazi in die kombuis. Die Tupperwarekas nét só, nie anders nie. Militêre presisie by die blikkies in die koskas. Die koppies staan almal hand-op-dieheup na noord. My vreugde en my trots was blinkgevryfde krane. Nou kon ek skaars die krane agter die berge skottelgoed gewaar.

Waar het hierdie hippiehool vandaan gekom?

Skielik was ek tranerig. Wat het hierdie virus aan my gedoen? Waarvan het dit my beroof?

Ordentlikheid? My ma het toentertyd gesê ’n ordentlike mens gaan slaap nie met ’n vuil kombuis nie, “want jy weet nooit wat jou in die nag kan oorkom nie”. Ek onthou haar destyds saans laat nog by die opwasbak, seepbelle aan haar polse en die klank van haar altstem loom met die laaste geselsies van die dag. En uit my eie, vroeër lewe – die oulaas-natlap wat ek oor die stoof trek en my man by die kombuistafel wat sy bril afhaal en die koerant toevou. Deesdae is die tafel stil. Daar lê ’n bondel wasgoed op sy plek.

’n Kombuis, besef ek toe, is meer as ’n vertrek. Dis waar jy die hegtings in jou lewe vier – ’n familiekring, die rinkelende teegoed met vriendinne aan die tafel of ’n lamsboud uit die oond vir ouou vriende op ’n Vrydagaand. Eintlik is die kombuis nie eens ’n plek nie. Dis ’n toestand. Van geborgenheid. Van wellewende versorging – nié net van ’n ander nie, maar ook van sigself. En dis hier, op hierdie brose kol, dat die virus my kom neerpen het. Dit het nie net my lyf in eensame aanhouding opgesluit nie, maar ook my kop!

En skielik was ek steeks. Ek het opruiende musiek opgesit, die klank behoorlik oopgedraai – “Jeremiah was a bullfrog” – en kliphard saamgesing, so op my eentjie, terwyl ek die skottelgoed was. “Joy to the world,” het ek gebulder. “Joy to the fishes in the deep blue sea, joy to you and me...” My kop was vry, het ek besluit. En hy was nou gerig op hoop. Hoop vir hierdie nuwe wêreld. En vir my.